Dag 40 van die Grendelstaat

Ek voel die inkerkering kan nou maar gerus oorgee.
Op hierdie dag in 1945 onderteken Admiraal Hans-Georg von Friedeburg die finale oorgawe dokument van die Duitse magte in die Nederlande, Denemarke en Noordwes Duitsland voor Veldmaarskalk Montgomery, in Monty se tent, by Lüneburg Heath, naby Hamburg.
Op 4 Mei 1535 is 5 monikke van die London Charterhouse Klooster op gruwelike wyse tereggestel omdat hulle verseg het om Koning Henry VIII as die hoof van die Kerk van Engeland te erken.
Ou Henry was ook lief om sulke swierige hoede te dra en staan bekend dat hy gedurende sy tyd as Britse Monarg die magte van die Koningshuis geweldig uitgebrei het. Hy het ook glad nie gehou van mense wat nie 100% gemaak het soos hy dinge bepaal het nie. Om die waarheid te sê is menige mense wat Henry ontstig het – en hy het maklik ontstig geraak – tereggestel sonder enige noemenswaardige verhore. In sy latere lewe is hy telkemale beskryf as ‘n egotistiese koning wat uiters onseker van homself was en probeer opmaak het daarvoor deur onnodig gehard teenoor sy burgers op te tree.
Draai nou die spesifieke moermetertjie aan na 2020 toe en skielik klink dele daarvan so bekend maar ek kan net nie nou my vinger daarop lê nie. Soos wat ek hier sit hoor ek egter ‘n agtergrond refrein van mense wat sal geskop en gedonnor word. Ag nou ja, dit sal my wel byval.
Die geskiedenis kan soms uitermatig fassinerend wees.
So gepraat van uitermatige onsekerheid – kom ek vertel julle hoe onseker ek een aand in die Timbavati was.
By die kamp was daar een reusagtige groot jakkalsbessieboom. En omdat dit die grootste boom in die onmiddellike omgewing was, het die bobbejaantrop wat in die area gewoon het, die boom baie graag as slaapplek gebruik.
Die kamp oppasser se pligte het onder andere ingesluit om teen sononder die boom te loop bewaak om die trop kese te keer om daar te oornag wanneer daar gaste oorgeslaap het.
Hy het hierdie takie as ‘n norm met uitsonderlike pligsbesef uitgevoer. Behalwe daardie een aand toe ek my eenman pampoententjie onder die boom opgeslaan het.
My vriend die formidabele veldwagter het nogal so ewe voorgestel ek moet my tent skuif.
“Hoekom?” vra ek, “dis dan die perfekte skaduboom in die dag.”
“Nee jy sien die ding staan so,” antwoord hy. “Dis net dat mens nie die sterre so lekker kan bespied van onder die boom nie omdat hy so groot is.”
Dit het effe dun geklink vir my en my tent het dus net daar bly staan. Pleks ek maar tussen die lyne gelees het.
Ons is namiddag uit met die voertuig om ‘n rit te gaan doen, en toe ons na donker in die kamp stop kom ou Sollie nadergehardloop. Sy arms swaai woes rond en hy begin sommer al van doer af gil “Die apejaan hy es! Die apejaan hy es!!”
“Wat gaan aan?” skreevra ons terug, vas onder die indruk dat die olifante die lapa weggedra het.
“Kom hier” skree Sollie, “hierso hy es die groot kak by die big tree!”
Ons spring vervaard uit en hardloop agter hom aan. Die arme man is so verboureerd dat dit ‘n paar keer se verduidelik neem voordat ons verstaan die trop bobbejane is in die boom, hy was te laat om hulle te keer.
“Nou ekke hy es daar by die boma! Toe ekke kyk hom hier by die big tree en ek sien daar hardloop die fokkon apejane by die takke, darrie kese hy getjaila fokkon early early man! Nou ekke kom, ekke kom, ekke kom so met die voet en die sambok en vinnig! Maar eish, die mannetjies hy es te gou, ekke stop hierso en skree hey voetsek julle se bleksems, loop daar by anner tree voetsek! Maar daai apejane hy kyk net so en hy maak so Aaaaah met die tanne. Toe ek sien hier kom die garry ekke hardloop ek skree kom help, kom help hierso by die big tree! Ai man wena, hierrie es groot kak nou!”
Ou Sollie was ‘n fees. Ek hoop hy is nogsteeds daar in die bos êrens want hy was ‘n ware boskind.
Nou moet julle verstaan hoe groot hierdie boom was – drie van ons skyn met flitse en die soeklig wat vir wildsritte gebruik word in hom op en niemand sien ‘n apejaan van ‘n dag oud nie. Ons hoor net hoe skel hulle terug daar uit die boomtoppe uit. En die grootkees, die baas van die trop, se bulderende stem weergalm soos hy ons stilmaak.
Ons gil en slaan op alles wat raas, en uiteindelik onthou my vriend hy het een of ander oorblywende vuurwerk in sy tas – hulle roep hom ‘n Cherry Bomb – en hy stel voor ons gebruik die want sekerlik gaan dit hulle laat spaander. Al die omliggende kampe word eers geroep en ingelig sodat niemand dink dis stropers wat skiet nie, en toe laat loop hy daai bommetjie so hoog as wat hy kan. Die ding gaan af met ‘n gruwelike knal en die bobbejane gil en raas dat jy hulle myle ver kan hoor.
Maar hulle beweeg nie.
Toe gee ons maar op en uiteindelik is almal tente toe om te loop slaap.
Hier deur die loop van die donker oggend word ek wakker en my eerste gedagte is dat dit reën in die Timbavati! Ek onthou goed dat ek hoogs dankbaar was, want water is altyd ‘n seëning in die bos. Maar ek was uitermatig onseker want daar was geen sprake van reën nie. Hoe dit ookal sy, onsekerheid en al het ek heerlik gelê en luister hoe dit op my tentjie reën, en uiteindelik weer rustig weggedommel in droomland in.
Net na lig word ek wakker, en dis weer Sollie. Die keer staan hy buite my tent en hy roep “Oooooooh jy moet kom kyk vir hierrie groot kak jy moet kom!”
Hou in gedagte daar was nie daai tyd ‘n heining om die kamp nie so as iemand dit kwytraak kan dit letterlik enige iets wees van ‘n luiperd in die boma tot buffels in die kombuis. Of dalk stropers. So ek storm uit my tentjie uit met ‘n vaart, net om in die bobbejaan akkies te gly!
“Wat in de…” sterf die woorde in my keel. My vriend staan ook reeds daar en hy lag al klaar dat die trane loop.
My hele tent is pers. Die grond om my tent is pers. Alles is pers.
Van bobbejaan stront.
Dit was toe nooit reën nie.
Dit het ‘n goeie uur of twee gevat om alles min of meer skoon te kry. Sollie het darem kom help want hy het skuldig gevoel.
So as iemand wat ‘n omgewing goed ken ooit vir jou voorstel om eerder jou tent te skuif kan jy maar met sekerheid weet – hy sê dit met goeie rede.
Wees gegroet,
Riaan Coetzee
Kopiereg
4 Mei 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf