Dag 45 van die grendelstaat
Julle Weskapers gaat ammal innie hospitale ingesit worre!!
Toets nou net positief dan ry julle agter in die ambulanse, al is jy nie eers siek nie!
Dalk moet hulle begin met die Stormers - dan is dinge heelwat makliker vir die Bulle in die toekoms. Dis net 'n idee - maar as julle iemand op die Bulle se bestuur ken, vertel hulle van my.
Terwyl julle herkou aan my voorstel vertel ek julle solank van die keer toe ek die olifant gestoei het. Dit is laat op die Saterdagaand en dis beter nuus as virusse en politiek.
In 2003, altans ek dink dit was in 2003, het ons die voorreg gehad om hier in Suid Afrika 'n wonderlike totale sonsverduistering te kon gadeslaan. Die enigste ding was net dat dit meer Noord net soveel beter ervaar kon word.
So sit ek 'n my beste vriendin toe af, rigting Phalaborwa. Ons beplan om 'n aand daar oor te slaap by vriende en dan die volgende oggend eerstelig die wildtuin in te ry om die verduistering daar te ervaar. Ons het egter beplan om 'n ompad te ry, Hoedspruit se rigting want daar het 'n vriend van haar as 'n veldwagter gewerk by 'n private reservaat. En toe hy hoor ons kom in sy rigting het hy absoluut aangedring dat ons eers daar moes stop om 'n wildsrit mee te maak.
Min mense is onopgevoed genoeg om nee te sê vir 'n gratis wildsrit, allermins ons, met die gevolg dat ons in 'n stofwolk daar stop met net genoeg tyd om hallo te sê voor die rit begin. Ons deel die oop voertuig met 'n paar oorsese toeriste, maar ek kan nie hulle lande van herkoms nou onthou nie.
Op die reservaat was daar 'n olifantkoei - Bheki. Sy en haar bul het gereeld gaste op ritte ontmoet, en selfs kom groet met oggendstappies vir mense wat daar oorgebly het. Die weet ek eerstehands synde die plek per toeval op 'n tyd 'n gewilde bestemming was vir my.
Op 'n stadium deur die rit kom ons toe ook op die olifante af. Intussen het Bheki haar vorige wederhelfte verlaat vir 'n nuwe vryer wat uit die wildtuin daar aangekom het. Die was nou nie vreeslik mal oor mense nie so toe sy en hulle nuwe vondeling, Ntsago, naderstorm om die toeriste te groet het die meneer maar doer agter rondgehang en net met 'n suur gesig die spektakel gadegeslaan.
Klein Ntsago was op daardie tydstip net 'n raps korter as wat die Landrover se deure hoog was, en spelerig soos net 'n olifant kleuter kan wees. Probleem is natuurlik dat olifantkleuters se krag alreeds reusagtig is. Ek was egter steeds verbaas toe die kalf die hele voertuig met die veldwagter en 7 of 8 gaste op, 'n paar meter agtertoe stoot - net om seker te maak ons neem kennis van hoe sterk hy is. Nodeloos om te sê, ons het deeglik kennis geneem.
Intussen het Bheki stil nadergestap en soos 'n Phoenix aan die anderkant van die voertuig verrys. As jy so direk langs 'n volwasse olifant sit voel dit nogal soos om langs 'n woonstelgebou se muur te staan. En Bheki het Simba skyfies geruik! Ja, een van die toeriste was slim genoeg om in die geharwar die pak oop op die vloer by hulle voete neer te sit. En olifante se reukvermoëns is legendaries - hulle kan glo water tot amper 20 kilometer ver ruik so 'n pak skyfies twee meter weg is nie 'n uitdaging nie.
Daai slurp krioel hier tussen die gaste op die voertuig soos sy verbete soek na die lekkernye en jy sien net hoe die toeriste dekking slaan om nie in haar pad te wees nie. Die bewaarder het gewaarsku daarteen maar luister was duidelik min.
Ek en Glenda was in die eerste ry direk agter die bestuurder. Omdat dit 'n oop voertuig is, was daar dus 'n fris rolstaaf tussen die oop kajuit en die bak waar die gaste sit. Die volgende oomblik is Bheki direk langs ons, met Glenda aan die bloeikant. En die olifant se lus vir daai skyfies is groot so sy is hard op soek na dit. En as 'n olifant by iets wil uitkom en 'n mens - of min of meer enige iets anders - staan in die pad is dit maar 'n vreeslike eensydige stryd.
Skielik gee Glenda 'n gedempte gil - heeltemal per ongeluk het Bheki haar teen die rolstaaf vasgedruk met haar regtertand teen Glenda se regterskouer en die rolstaaf aan die ander kant teen haar linker bo-arm. As jy SO naby is, lyk die tande soos vliegdekskepe en die olifant soos 'n planeet. En dank Vader het Bheki so gefokus op haar soektog dat sy nie op Glenda gefokus het nie so sy het haar letterlik net daar vasgehou en nie gedruk nie anders kon dinge lelik geraak het. Olifante hoef nie kwaad vir jou te wees om jou seer te maak nie.
Maar nie die olifant, of Glenda, of die veldwagter of die toeriste het rekening gehou met 'n Coetzee van knap agter die Boereworsgordyn nie. As ek nou doodeerlik moet wees, het hierdie Coetzee ook nie met homself rekening gehou nie.
Die volgende oomblik het ek een van Bheki se tande in elke hand en ek armdruk die olifant dat die are sulke bulte op my voorkop uitslaan. Al wat in my kop aangegaan het is dat ek moet probeer net genoeg spasie skep dat Glenda kan ontsnap.
Nou kyk, nabetragting is 'n moerse lekker ding. En nawete is inderdaad altyd 20/20. So wat ek nou eintlik probeer bereik het sal waarskynlik altyd 'n misterie wees. En as Bheki vandag nog leef, dink sy waarskynlik ook soms terug aan die episode en wonder oor dieselfde ding. Dis nou nie asof enige mens die olifant sou kon wegstoot nie.
Maar amper asof sy besef het sy moet versigtig raak want mense is vreeslik broos, veral gemeet teen die boskolosse, het sy toegelaat dat ek haar kop wel wegdruk. Of dalk het sy dit self gedoen...
Dit was waarskynlik net 'n paar sentimeter maar dit was genoeg om haar daar te kon uitruk, weg van die olifant af.
Dus, 'n wen-wen-wen situasie.
Waarom het ek dit gedoen? Nee dit help nie jy vra nie. Ek het steeds nie 'n antwoord nie. Dis een van daai situasies waar jy eers lank na die tyd dink. Ek het net gedoen. Ek het net gesien sy is in die moeilikheid, en toe ek myself weer kry staan ek en stoei met die olifant.
Ek is waarskynlik die enigste steeds lewende olifantstoeier in die wêreld.
Arme Ntsago was minder gelukkig. Etlike maande later het hy dieselfde probeer op 'n bitter moerige renosterbul en die renoster het gewen.
Die volgende oggend is ons by die Phalaborwa hek in en het koers gekies Mopani ruskamp toe om eers gou 'n ontbyt te nuttig voor die son verduister. Daarna het ons koers gekies net sodat ons in die bos kan wees wanneer hierdie wonderlike gebeurtenis plaasvind. Ons het op 'n groot olifantbul afgekom wat aan die anderkant van die pad gestaan en wei het en net daar afgetrek want dit was tyd.
Vandag nog praat ons met bewondering oor wat toe gevolg het.
Jy kon letterlik die donkerte oor die veld sien aangesweef kom. Dit het oor ons gespoel, en soos die daglig binne sekondes deur donkerte vervang is, het die diere se verwarring duidelik geraak. Die voëls wat gewoonlik meer in die dag koorsang het stil geraak en ons kon duidelik hoor hoe naguiltjies en skopsuile verward begin uitroep. Die veld was verder doodstil. Asof ons onsself in 'n vakuum bevind het. Ons kon duidelik hoor hoe die olifant staan en vreet - hy het hom min gesteur aan die natuur se skouspel.
Ek kan nie werklik sê hoe lank die donker aangehou het nie. Ons was so in vervoering dat dit soos minute gevoel het. Skielik, asof 'n donker doek van ons afgetrek word, kon jy weer die daglig aangestorm sien kom, en soos die lig deur die donkerte van die maan se skadu priem begin die daggeluide weer hoorbaar raak.
En net so, asof 'n onsigbare sirkus ringmeester sy sweep geklap het, was dit alles verby. Die park was weer in helder daglig, en alles het ongestoord voortgegaan asof daar nooit 'n onderbreking was nie.
Ons het nog etlike minute daar gesit sonder om 'n woord te uiter. Die vervoering was van so 'n aard dat dit 'n tydjie geneem het om tot verhaal te kom.
Dit was 'n ervaring wat vir die res van ons lewens 'n glimlag sal bly ontlok.
En ek het myself lankal oortuig dat ek Bheki se nek verstuit het.
Riaan Coetzee
Kopiereg
9 Mei 2020

Daar was twee duidelike merke op haar bo-arms gewees en haar lyf was redelik seer. Maar sy was ongedeerd, ek wou my eie handtekening hê en Bheki het haar pak skyfies gekry.

Comments