Dag 44 van die grendelstaat
Die Kubaanse dokters het glo Corona!
Fok.
Weet jy.
Gerugte wil hê dat tot 27 van die 200 ingevoerde mediese slawe van die Kubaanse regering positief getoets is vir Corona.
As dit waar is gaan selfs Hollywood sukkel om 'n gemors soos hierdie na te maak vir die grootskerm. Dis nou 'n tuisdoel op 'n totaal ander vlak.
Olè!
Dit herinner my aan 'n ander keer wat ek myself sommer 'n paar maal in een middag amper in 'n paar selfopgelegde tuisdoele bevind het.
Dit was warm. Snikhete hitte wat jou lyf laat voel soos 'n sny brood wat sopas klaar gerooster is. So warm dat die kraaie nie meer gaap nie - hulle huil. Dis Desember in die Timbavati.
Ons is weer daar op hierdie tyd van die jaar, want enige verskoning om in die bos te kan wees is die regte een. En ek vrek van die hitte. Ek is gek oor die bos ook, maar ek voel soos 'n stuk 3 weke oue biltong. So ek kerm al van vroegoggend se stappie in die veld ek gaan swem vandag. By die eienaar se huis, hulle is nie daar nie. Dis net ek en my pel in die boskamp seker so 3 kilometer ver van die hoof huis af.
Net na middagete besluit ek dis nou genoeg. Ek vra nie verder nie, ek doen. En ek trek my sandale aan, vat 'n hoed en handdoek, 'n paar Cokes en biere in 'n rugsak en my leesboek. En daar gaan ek. Die stofpad ridder gaan swem. En ek stap met 'n vaart want die son moor my.
Ek was so amper halfpad toe hoor ek hoe kom daai Landy hier van agter aangejaag dat hy soos 'n resieskar klink. Hy stop hier langs my dat die stof in reuse wolke oor die veld loop hang. "Wat de ongeluk doen jy, is jy mal?" vra hy vir my.
"Ek gaan swem." antwoord ek. "Warm. Ek kry fokken warm. Ek vertel jou mos heeldag al onthou jy. Nou gaan ek swem."
"Nou vir wat stap jy???" roep hy uit?
"Want die diens hier is uiters swak!" reken ek. "Niemand wil my swembad toe vat nie" en ek rol my oë in sy rigting. "So voor ek vrek van hitte, gaan ek swem, en nou stap ek. Die res se moer."
Hy kyk my so en sê "Klim in dat ek jou iets wys." Ek klim in - dis een van daai oop wildsbesigtigings Landrovers so inklim is nou nie juis moeilik nie. Ons ry nie ver nie, dalk 500 meter. Om die een draai in die grondpad en daar, direk neffens die pad, daar lê 'n 4 stuks leeus en slaap. Ek sou nie 10 meter van hulle af verbygeloop het nie.
"Kyk daar poepol," wys hy na hulle. "Ek sou hulle moes skiet sodat ons kan genoeg van jou uithaal vir jou mammie om te begrawe."
"Man," sê ek terug, "daai leeus te gat. Hulle kry te warm om te beweeg, en ek kry te warm om lekker gevreet te word. Leeus eet nie gaar kos nie."
"Ja nee reg" hoor ek. "Ek sou maar mos verduidelik het hoekom hulle gunsteling seun nie saam teruggekom het stad toe nie."
Die leeus is nou wakker. Hulle lê en kyk lui-lui vir my. En ek vir hulle. En dit lyk wragtag of hulle my opweeg soos wat mens 'n lekker stuk skaaptjoppie sal opweeg. Maar die hitte het my brein gesmelt, so ek druk hulle 'n middelvinger en skree "Julle gatte ook man, ek gaan in elk geval swem!!"
Nodeloos om te sê het hulle nie werklik gelyk of my brawe woorde 'n indruk op hulle gelaat het nie.
Kort daarna word ek afgeboender by die swembad en ons reël dat hy so net na 4 daar sal verbyry dan ry ek saam op 'n laatmiddag rit. Die huis het ook geen heinings om nie so ek stap swembad toe en begin die groot seil af te haal wat hulle oorsit. Die trappe van die swembad is gelukkig in skadu maar die res nie. Ek haal dus net omtrent die helfte van die seil af en rol hom terug sodat ek oop water het.
Kyk, lanklaas in die lewe was swembadwater so lekker gewees soos daai dag. Temperatuur van goed in die 40's, en heerlike koel swembadwater. Dit werk. Ek sit op die trappe dat net my kop en hande uitsteek en gooi sommer die koeldrank en bier blikkies in dat dit hier om my dryf. Een van die planke wat die seil oor die swembad stut word nadergetrek en dien as 'n handige stut vir my leesboek. En daar sit ek en lees en drink ietsie en kyk tussenin vir diere wat kort-kort verby die huis gestap kom. Nie ver nie - seker so 30 tot 40 meter weg van my af. So ek het die ideale plek gekry om te ontspan, af te koel en diere te kyk!
Ek weet nie hoe lank ek so gesit het nie, toe val daar skielik 'n skadu oor die sonkant van die swembad. Ek dag eers dis 'n wolk wat opsteek. Die wolk is toe 'n olifant! En 'n grote ook. En die kom waterdrink. Hier langs my! Ek vries. Jy al gesien hoe groot daai ding werklik is as hy letterlik hier by jou kom staan? En ons kyk vir mekaar. Hy dink duidelik ek is die drol in sy drinkwater want hy flap sy ore vir my om te wys hy is nie gelukkig nie.
Ek sit net doodstil. Ek knip skaars my oë. Die olifant kom stadig stadig nader en ruik aan my. Ek voel hoe die swembadwater warm word hier om my soos wat my blaas sommer laat gaan. Gelukkig net my blaas! Kan jy nou dink hoe dit by die olifant afgegaan het as ek in sy drinkwater gedinges het??
Duidelik besluit hy ek is geen gevaar vir hom nie. Hy is natuurlik so reg. En ek is so bly ek sit half gewigloos in die swembad want daar is net geen manier hoe my bene my sou kon dra nie.
En toe begin hy doodluiters water suip. Hier, seker 3 meter weg van my af. Inteendeel, as hy water in sy bek spuit spat dit op my. So naby. En die ou is dors, want hy suip soos iemand wat sopas 2 maande van 'n dranklose grendelstaat agter die rug het en gehoor het die drankwinkel is oop.
En ek sit, vasgevries, maar terselfdertyd gevul met 'n wonderlike gevoel van ongekende blydskap en dankbaarheid want waar in jou lewe tref so 'n gelukkie mens sommer net? Dis amper ongehoord. Ek is ook dankbaar dat hy in 'n goeie bui was. Baie! En dat hy dors genoeg was om my uit te los.
Wat 'n spektakel. Ek kan elke geluid hoor, ek hoor hoe sy maag rammel, ek hoor hoe hy die water sluk, hoe hy dit opsuig in sy slurp. Ek hoor hoe sy pote skuifgeluide maak op die plaveisel. Ek hoor my eie hart klop. Hy spuit selfs water oor homself uit om af te koel!
Ek is die rotsie onder 'n olifant waterval.
Te laat besef ek dat ek die blik bier onder die water vashou. So ek kan nie eers saamdrink nie al wil ek - chloor en bier meng nie so lekker nie.
Toe hy uiteindelik klaar is draai hy so half na my kant toe en beloer my weer. Seker, hoop ek, om dankie te sê dat so 'n befaamde leeutemmer hom ruimte gegun het om sy dors te les.
Toe draai hy om en stap weg, sy stert al swaaiend en sy slurp altyd soekend na iets om te vreet.
In my lewe sal ek nooit daardie dag vergeet nie.
Partykeer is 'n tuisdoel 'n goeie ding.
Riaan Coetzee
Kopiereg
8 Mei 2020

Comments