Dag 38 van die grendelstaat
Vandag was lnternasionale Kaalgat Tuinmaakdag.
Al die bure het 'n petisie begin om die grendelstaat met onmiddellike ingang opgehef te kry. Party mense waardeer ook niks! Ek het net bietjie rondgehang.
Elke dan en wan laat ek die motorfiets luier vir so 'n halfuur sodat die olie kan sirkuleer en die battery laai. Hy staan mos nou net.
Vandag was effe anders. Ek het vergeet hy staan en brom onder die agterste afdak.
Ek is hier in my kamer doenig en wonder heeltyd wie is so slim om sy kragopwekker te gebruik op 'n sonskyndag met elektrisiteit. Dit het my nogal gepla maar elke keer wat ek twee en twee bymekaar wou sit het my interne sakrekenaar probleme ontwikkel en die antwoord was 5.
Twee ure later gaan ek buite toe om te probeer bepaal watter buurman is die geniale een met die oorywerige kragopwekker. Toe ek by die motorfiets verbyloop sien ek sy ligte brand.
Toe val dit my by dat ek die geniale een is.
Die bure het seker ook gewonder wie is so slim om 'n kragopwekker te gebruik op so 'n mooi dag.
Ek is so bly ek het niemand vertel nie...
Dit het my herinner aan 'n ander keer, baie jare gelede, toe my inwendige sakrekenaar ook nie die som reg gedoen het nie.
Ek was in die Timvavati. Ek het baie stories oor daai plek. Julle sal dit waardeer.
Ons het in klein enkelman pampoententjies geslaap en alhoewel dit 'n relatiewe basiese kamp was, was daar twee spoel toilette seker so 30 meter weg deur die bos, en aan die anderkant langs die boma, twee storte.
Ek het 'n fantastiese storie oor die storte ook maar dit sal moet wag vir 'n ander keer, hierdie storie is 'n toilet een.
Die reël was om altyd jou flits saam te vat as jy in die nag moet gaan piepie om te kyk vir ogies en om jou tent se gulp agter jou toe te trek sodat jy nie terugkom en in 'n tandkas met kolle vasloop wat besluit het jou slaapsak is die beste ding sedert blouwildebeesfilette nie. Daar was geen heinings om die kamp nie en eers later is 'n hoë elektriese heining aangebring om die olifante uit te hou.
Nou, ek slaap as 'n reël soos 'n baba, menende ek is baie wakker en rol rond. Ten minste hoef ek darem nie doek te dra nie so mens is dankbaar. Dit beteken nogsteeds nie ek word net wakker en gaan aan asof niks gebeur het nie. Nee, dis gewoonlik 'n proses.
So gebeur dit toe dat ek 3 uur die oggend opstaan met 'n hoogwater blaas en koers kies toilette toe. Halfpad deur die bos onthou ek die flits lê nog in my tent maar besluit toe ek draai nie nou om nie.
So sluip ek toe maar voort en benader die toilette in die donker. Nou kyk, die bos is donkerder as 'n politikus se siel so jy trap maar versigtig. Ek trap toe so versigtig om die hoek van toilet nommertjie naaste, en dis waar die plan Suid gegaan het.
Ek is nog kaalvoet boonop. En ek voel hoe my linkervoet in iets vastrap. Iets harig. In die breukdeel van 'n sekonde wat ek probeer verstaan waarop ek trap, bars alle hel los.
Hier spring 'n ding op reg teen my dat die sand letterlik teen my bene spat en hy maak die mees onaardse gille en blaffies en, wel, dit klink asof iemand iets keel afsny reg voor my in die donker. En daai stem is so hard dat dit regdeur jou sny en jou poepernjorts saamsleep as hy agter by jou rugmurg uitskeur. En ek gil soos 'n hele netbalspan wat die wendoel aangeteken het, maar harder. Ek trap soos 'n trompoppie rond wat 'n hak gebreek het en die gedierte krap sulke lang hale in die stof soos hy probeer wegkom en tussen ons twee skree ons die hele Timbavati wakker.
My spirit animal het oortyd gewerk daai oggend, want Harry die kamp hiëna het met sy tande in die ander rigting gelê en slaap so ek het hom op sy gat geskop. Anders sou ek dalk vir die res van my lewe moes sit en piepie.
En laat my toe om myself hier op die skouer te klop vir die feit dat ek stil genoeg in die donker was dat Harry bly slaap het tot ek op hom getrap het. Dit wil gedoen wees hoor!
Nog nooit het 'n hiëna so vinnig gehardloop nie, en nog nooit het 'n mens homself so vinnig in 'n toilet toegesluit nie. En tussen ons moes die hele omgewing se desibelmeters herkalibreer word.
My vriend wat my saamgesleep het op die ekspedisie kom aangehardloop met 'n moerse lig en 'n geweer, reg om te skiet. Hy reken hy het gedink ek is aandete. Maar hy het dit nie lank gedink nie, want toe begin die bliksem so vir my lag dat ons toe sommer klaargeslaap het en in die boma loop vuur aansteek en koffie maak het.
Snaaks hoe ek nou na daardie avontuur verlang terwyl ek ingekerker sit en my tronkstraf as 'n Covid Krygsgevangene uitdien.
Die keer sal ek net skoene aantrek en seker maak ek onthou my flits.
Tot vandag toe is dit 'n ope vraag oor wie die grootste geskrik het, ek of Harry.
Maar ek dra 'n t-hemp wat bitter min mense het - ek het 'n hiëna geskop en dit oorleef.
Riaan Coetzee
Kopiereg
2 Mei 2020
Kopiereg
2 Mei 2020
Comments