Dag 39 van die grendelstaat
Die stilte is deur sirenes vervang.
Ek hoor skielik op een dag meer sirenes as in maande in die tyd voor Covid. Dis teneerdrukkend. Is dit die klank van die nuwe "vryheid", die era waarin die ganse mensdom gek geraak het en miljoene wetsgehoorsame burgers oornag in misdadigers verander is deur magsbehepte regerings? Alles onder die dekmantel van hierdie allesoorheersende vrees wat sistematies en doeltreffend in almal ingehamer is. Ek wil nie deel uitmaak hiervan nie.
Jy beter seker maak jou onderklere hou, want dit is nie essensieël genoeg geag dat dit onder Vlak 5b van die grendelstaat aangekoop mag word nie. As jou stukkie boudflos dus gaatjies in het moet jy maar die ekstra ventilasie geniet en glimlag.
In Meksiko waar dwelm kartels die pas aangee, is die New Generation Cartel besig met 'n reuse reklametog om hulleself as omgeemense te probeer uitbeeld. Hulle gewapende lede is oral in die gebiede wat onder hulle invloed val aktief besig om kos aan honger Meksikaners uit te deel, en dan word daar beeldmateriaal van geneem om advertensies te maak wat die kartel uitbeeld as een of ander moderne Robin Hood.
Vindingryk. Mens kan nie help om te wonder of hulle regering ook so terloops nuwe regulasies sal uitvaardig wat mense en organisasies dwing om alle koshulp aan die regering oor te handig om uit te deel na goeddenke nie.
So gepraat van gedwing word om iets teen jou sin te doen - ek is al, deur 'n 6 ton olifantbul. En as HY regulasies uitvaardig dan spring jy om gehoor te gee, al impakteer dit negatief op jou beplanning.
Een Saterdagoggend in die Timbavati sit ek af stort toe. Die storte was oop bo en het uitgekyk oor 'n meestal droeë rivierloop. Die boma was direk agter die storte. Daar was slegs 'n klein handvol mense en die sit in die boma en koffie terwyl ek myself skoon kry vir die beplande wildbesigtigingsrit. My vriend die formidabele veldkenner en twee of drie stuks Amerikaners.
Klaar gewas draai ek die stort toe, droog vinnig af en maak die houtpaal deur oop. Dit dreig klaar reeds om nog 'n snikhete bosveld Desemberdag te wees.
Toe ek die deur oopmaak en opkyk, kyk ek binne in hierdie reuse olifantbul se agterste kiestande vas. Sy slurp dartel hier oor my kop, ek neem aan hy het probeer bepaal of ek skoon genoeg is. En tot die gevolgtrekking gekom dat daai een 'n negatief is, want hy bly toe net daar staan en kou aan sy maroela tak.
Ek en die olifant staan en kyk vir mekaar, sy slurp hang soos 'n reuse stortkop oor my.
"Nnnnnnnnnnnnnnnnn" sing sonbesies eentonig in die agtergrond.
"Grrrrrrts grrrrrrrts grrrrrrrrrts" kou hy daai maroela tak al draaiend deur sy maaltande om die sappige bas af te kry.
Êrens kwetter 'n paar blou apies, sekerlik besig om hulle voorry sitplekke vir hierdie drama terdeë te waardeer.
"Goemp", sluk ek die vrees terug.
"Gorrrrrrrrrrrrrrrrr" rammel die olifant se maag.
"Fokkkkkkkkkkkkkkkk kkkkkkkk oe eh eh" rammel myne asof hy verplig voel om repliek te lewer.
Dis 'n oomblik so reg uit 'n cowboy fliek uit waar die twee hoofspelers mekaar in die hoofstraat voor die kroeg uitgedaag het.
Behalwe dat hierdie dorp se polisieman 6 ton weeg en oor twee kollosale ivoortande beskik wat by die sekonde meer soos die wêreld se grootste sosatiestokkies lyk.
"Ouboet" roep my brein indringend, "stort maar nog want jy weet jy wil nie 'n sosatie wees nie onthou jy nou weer..."
Ek maak stadig die stortdeur toe, oorbewus daarvan dat sy slurp heelwat groter as myne is.
Asof die deur sal help as hy besluit om saam te stort.
Toe draai ek maar die water oop en klim onder die stroom in. Die olifant staan en verkyk hom.
"Pssssst!" kom my pêl se stem hier oor die boma se skerm. "Dis net 'n olifant, kom nou ons wil ry."
Die ou bul swaai sy ore en trompetter. Besef jy hoe dit klink as dit hier feitlik in jou gesig gebeur? Dis asof die 7 trompette in Openbaring almal gelyktydig geblaas word.
"Nee fok net of man!" kry ek bewend uitgepiep.
"Ha ha ha ha ha ha!" kom my antwoord terug. Die genade is min, jy moet maar taai wees in die bos.
Daai tamaai slurp swiep hier oor my soos hy probeer uitwerk wie lag so. Ek het so 'n bietjie gepiepie toe. Gelukkig stort ek nogsteeds.
En die verdomde olifant beweeg nie. Hy staan net daar soos 'n reuse standbeeld, vasbeslote om vir my te wys wie is in beheer. Ek was baie gereed om aan al sy eise te voldoen maar dit blyk toe hy wou net klaar vreet. En waarskynlik diep in sy olifantbrein homself terdeë geniet.
Ek stort, hy kou en ons kyk vir mekaar. Toe hy uiteindelik, na wat soos 'n leeftyd voel, klaar is met die tak laat val hy hom amper binne in die stort. Hy gee my 'n laaste kyk, flap sy ore en ruik weer in my rigting en draai toe geluidloos om op sy reuse pote en verdwyn weer so spookagtig stil die bos in soos wat hy verskyn het.
"So gaan jy nou uitklim of wil jy nog 'n rukkie stort ou grote?" kom die spottende stem weer uit die boma uit.
Ek lewer repliek in volledige Franse sinne terwyl ek afdroog en al bewend boma toe stap om aan te dring op baie sterk polisiekoffie.
Daardie dag het ek die titel van "Skoonste Mens ln Die Timbavati" verower.
My taal was egter minder skoon.
Riaan Coetzee
Kopiereg
3 Mei 2020
Kopiereg
3 Mei 2020
Comments