Dag 58 van die grendelstaat

Hierdie ding moet nou einde kry - besef julle hoe vervelig raak dit om lnstagram modelle die heeltyd voor hulle onopgemaakte beddens te sien poseer?!
Covid-19 is nie hierdie wêreld se eerste dodelike pandemie nie. Inteendeel. Maar wat dit wel is, is die heel eerste ten volle sosiale media pandemie.
Vir die eerste keer ooit word ons dag in, dag uit, 24 uur per dag, maande reeds gebombardeer met woorde, voorspellings, syfers, tragedie, letterlik einde van die wêreld tipe sketse. Die nuus is permanent gevul met 'n nimmereindigende stroom pratende koppe wat verdere onheil uitbraak, en nog pratende koppe wat weer die onheil as nonsens afmaak.
En niemand, letterlik niemand, weet werklik wat aangaan nie. Inteendeel, soos tyd aanstap raak ons net meer kwaad, meer swartgallig, meer ongelukkig, meer venynig teenoor mekaar, meer ontmoedig, meer depressief. En steeds hou die bombardement inligting nie op nie. Jy kan nie wegkom daarvan nie
Dit het aanleiding gegee tot ongehoorde, ondenkbare vrees.
Vrees is 'n emosie. Maar 'n uiters slegte een wat, elke keer wanneer dit ryke teelaarde vind, met ons op loop gaan en ons hele gedagtepatroon saam oor die afgrond sleep. Dit laat mense feitlik elke keer hewig oorreageer, omdat ons brein ten hemele gil van 'n moontlike gevaar. Selfs al was die gevaar nie naastenby so erg nie.
In die wêreld van selfverdedigingsopleiding praat ons al dekades met mense oor hierdie fenomeen wanneer ons die waarde van goeie opleiding onderstreep. Wanneer jy skielik met 'n gewelddadige situasie gekonfronteer word pak 'n hewige vrees jou beet. Dit het 'n chemiese reaksie in jou brein en liggaam tot gevolg. Dit berei jou liggaam voor vir die sogenaamde veg of vlug reaksie. Die waarde van behoorlike en gereelde opleiding beteken nie net die aanleer van beter tegnieke nie, maar ook 'n manier om jou liggaam te leer om meer korrek te handel in tye van werklike oormatige vlakke van vrees. Die gevolg waarna gestreef word is dus om jou kans op oorlewing te verhoog.
Honderde miljoene mense wêreldwyd het sedert ons die eerste keer gehoor het van Corona en die eerste sterftes aangemeld is, hierdie reaksies ervaar as gevolg van 'n allesomvattende vrees wat ons oorgeneem het. Maar letterlik niemand is opgelei hoe om hierdie spesifieke situasie te hanteer nie. Almal, selfs die sogenaamde eksperte, leer soos hulle aangaan.
My persoonlike opinie hieroor is dat dit dalk aanleiding gegee het tot die situasie waarin ons vandag is, met die twee hoofkampe wat blyk te wees teen die grendelstaat en die voortgaan daarmee en diegene wat weer voorstaanders is om aan te hou daarmee ongeag die ekonomiese verval.
Dit sal interessant wees om eendag met slimmer mense as ek hieroor te gesels, maar dit maak vir my wel sin dat die vrees, en dit kan vrees wees vir die virus of vir dood of vir finansiële verlies of honger - daar is huidiglik al 'n smorgasbord vrese om van te kies - sommiges in 'n veg kondisie ingedwing het en ander weer in 'n vlug reaksie. En uit dit uit spruit hierdie hoofkampe.
Dit laat ook 'n verdere vraag by my ontstaan.
Wat gebeur as al die modelle wat deur sogenaamde eksperte voorgelê is aan die wêreld se regerings wel eendag bewys word as 'n oorreaksie? Maar in lig van wat besig is om met die wêreld se ekonomie te gebeur, die miljoene wat reeds werk en inkomste verloor het, die triljoene in kapitaal wat reeds verlore gegaan het, miljoene wat verhonger, die grootste en duurste oorreaksie in mensegeheuenis.
Wat gebeur dan net die voorspellers? En met die implimenteerders van die destruksie? En meer nog, wat gebeur met die mensdom?
In Engels is daar 'n woord wat effektief 'n ernstige simptoom van 'n onderliggende kondisie uitbeeld. Dit is wanneer jy in 'n staat is waar jy sukkel om uit die bed uit op te staan in die oggend.
Die woord is Dysania.
Dit is my vermoede dat daar teen hierdie tyd alreeds honderde duisende is wat sukkel hiermee. Waarskynlik meer as net honderdduisende.
En die onderliggende kondisie is, vermoed ek, depressie.
En hoe langer hierdie afwaartse gly in die verderf in voortsleep, hoe groter word hierdie probleem.
Ons as Die Mens gaan of moet leer om meer liefde teenoor mekaar te ontwikkel, of ons staan 'n kans om onsself te vernietig.
En boonop alles gaan dit my gek maak om nog een seksie model se onopgemaakte bed in haar fotos te sien.
Help my net asseblief.
Riaan Coetzee
Kopiereg
23 Mei 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf