Dag 54 van die grendelstaat
Dit is 54 dae te veel. So ons gaan nou ernstig raak oor sosiale afstande. Doodernstig!
Ons gaan mekaar van nou af met vlaggies groet, soos op skepe desjare toe morsekode nog net 'n stokperdjie was. Groen vlaggie vir hallo. Geel vir oeh ek is so jaloers op jou uitrusting skattie! Rooi vir daai pms dae waar jy net almal wil moer. Dan bly ons meters weg van mekaar en kommunikeer in stilte om nie aanstoot te gee nie. En ons hoef nie te wonder oor watter gesigsuitdrukkings daar agter die maskers uitgestal word nie.
Ons sal wel almal rugsakke moet begin dra om die vlaggies in te dra.
In Maryland in Amerika beplan 'n restaurant buffertafels (ronde tafels kompleet met opblaas binnebande om) sodat kliënte wat aansit om te eet die gepaste 6 voet uitmekaar uit kan bly. Die feit dat dit soos voorskool speelgoedtafels gaan lyk is nie ter sprake nie.
Alles gaan mos oor lengte.
Ek bedoel afstand!
Dit was amper.
In Duitsland by 'n eetplek in Schwerin, laat hulle glo kliënte slegs toe indien hulle instem om strooi hoedens te dra kompleet met swembad noedels aan die hoed vasgespyker ten einde sosiale afstandhouding te verseker.
Gelukkig is die restaurant se bestuur glo net kort duskant geniaal, so die noedelhoedens word weer vir die volgende kliënte gegee om te dra sodra jy klaar geswem het. Skuus, ek bedoel klaar gekou het. So dra hulle effektief by tot afstandhouding.
Maar nie noodwendig vir virus oordrag nie.
Ek is seker almal wat instem om soos idiote te lyk en daar te eet is dankbaar dat die restaurant so ver vooruit dink.
Dis hoog tyd dat die minister met die kopdoek bykom en seker maak ons bly ook ver weg van mekaar af. Ek stel voor elkeen loop rond met 'n opgeblaasde kondoom op ons koppe - as die kondoon toewasem en jy sukkel om te sien mag jy klein gaatjies vir jou oë maak - en 'n assegaai. Wanneer ons almal in Menlyn Mall rondloop op Saterdae word jou assegaai net ontsmet by die ingang en jy swaai hom in sulke lui draaibewegings om jou rond. Ons wil tog nie Europese oplossings hier toepas nie.
Die enigste moontlike probleem is dat ons teen daardie tyd weer mag drank koop so meeste besoekers gaan lekker gepleister wees vir waarskynlik die eerste 3 of 4 maande om in te haal, so die vloere gaan glad raak van die bloed. Maar solank jy nie val nie is jy veilig.
Ek het vandag langs 'n pragtige rooikop gestap in Spar. Omdat ek nie te modern is nie en duidelik ook geen vrees het vir 'n fel aanslag oor my voorbarigheid nie, het ek haar heel ordentlik ingelig dat, in al die tyd sedert die Masker Makietie begin het, ek vandag vir die eerste keer iemand gesien het wat selfs met 'n masker aan absoluut pragtig is.
Gelukkig ken sy 'n opregte kompliment as sy een sien so ek het die allermooiste glimlag en 'n vriendelike dankie in ruil gekry. As ek nou doodeerlik moet wees het haar oë beslis geglimlag want ek kon nie haar mond sien nie. Maar dit was genoeg, my dag was gemaak.
Ons moenie ophou om mekaar as mense te erken nie. En 'n goed bedoelde kompliment op sy tyd, sonder enige tierlantyntjies, vorm deel daarvan sover dit my aanbetref.
Daar is goeie nuus vir rokers en drinkers - van Woensdag af begin hulle glo die beperkings op die verkope van drank en sigarette lig. Dan mag jy solank ys en vuurhoutjies koop.
Simba beplan ook glo Camel gegeurde skyfies vir die wat hou van 'n soutigheidjie saam met hulle rookgoed. Julle moet my eenvoudig glo!
In 'n dorpie genaamd Ayr in Skotland het 'n 4 jarige seuntjie, Ethan Rankin, sopas 'n volle 100 myl afgelê op sy piepklein fietsie. Dit is slegs 4 weke nadat hy begin ry het sonder oefenwieletjies. Die klein mannetjie was deur daardie pragtige oudstryder, Captain Tom, aangevuur na sy eie stappie vir sy 100e verjaardag waarmee hy 'n astronomiese bedrag van meer as 30 miljoen Pond ingesamel het vir die Britse National Health Service. Sy eie oupa het siek geword en dit saam met Captain Tom se prestasie het hom laat besluit, dis tyd.
Hy het daarna sy ouers in kennis gestel dat hy 100 myl wil ry, en daad by die woord gesit. In die proses het hy vir dieselfde instansie as Captain Tom meer as 4000 Pond ingesamel.
Elke dan en wan besef mens dat ware helde soms beswaarlik hoër as 'n volwasse man se knieg staan.
Ek wou nog heelwat dinge neerpen maar ek het onthou ek moet nog 'n TikTok dansvideo gaan maak.
Riaan Coetzee
Kopiereg
Kopiereg
Comments