Dag 55 van die grendelstaat

Ek weet eintlik nie of dit is nie. Ek hou nie meer by nie so ek raai eintlik en hoop vir die beste. Kom ons aanvaar goedsmoeds dit is inderdaad dag 55.
Die Romeinse ryk van desjare, lank voor SA politici glad nie op televisie gepoep het nie, het 'n reeks baie wyse mense opgelewer. Hulle was nie noodwendig altyd vreeslik aangenaam nie, veral as jy sou navraag doen onder die ander stamme wat slaags geraak het met hulle, maar hulle het nogal 'n manier gehad om dinge in perspektief te stel.
Een van hulle was Marcus Aurelius. Hy het 'n goeie een kwytgeraak. Nee, nie 'n windjie nie...
"The object of life is not to side with the majority, but rather the object of life is to escape finding oneself joy in the ranks of the clinically insane."
Dit is vir my so toepaslik in hierdie tyd. Dalk selfs meer as normaalweg.
Want die hoofstroom is mos altyd reg. Aldus hulle oortuigings is hulle in elk geval.
Maar die feit van die saak is dit - die hoofstroom is nie altyd reg nie. Daar is oorgenoeg bewyse daarvan - meeste van die voorste entrepreneurs van die wêreld is byvoorbeeld mense wat nie saam met die hoofstroom geswem het nie. En dis slegs die punt van die spesifieke ysberg.
Ag nou ja. Ek gaan intussen maar vir my 'n masker laat maak met 'n middelvinger op gedruk. Net om my eie persoonlike opinie oor verskeie sake duideliker ten toon te stel.
Ek het nogal gewonder, na aanleiding van 'n meme wat die rondtes doen, oor hoeveel kindertjies werklik oor 'n paar jaar sal moet hoor dat hulle pa's onbekend is omdat hulle maskers gedra het.
In New York is inwoners ingelig oor die nuwe reëls vir Covid tennis, want selfs die het nou verander. Aldus een of ander hoogeplaaste amptenaar wat dit verduidelik het, moet jy te alle tye jou eie balle saambring, en is dit aanvaarbaar onder die Covid Regulasies om ander se balle te skop solank jy net nie aan hulle balle vat nie. Hulle beveel ook aan om jou balle met 'n merkpen te merk sodat almal te alle tye weet presies wie se balle is wie s'n.
Ek weet nie van julle nie maar vir my klink dit min of meer reg...
Ons sal almal moet ooreenkom dat die LUV vir Gesondheid in die Oos Kaap inderdaad nooit gepoep het midde in 'n televisie onderhoud nie.
Volgens die klankgreep van die betrokke video (asook haar gesigsuitdrukking) het sy bitterlik naby daaraan gekom om in haar broek te skeit, maar dit is gelukkig nie poep nie.
Ons bedank graag die Ooskaap se politici dat hulle vir ons duidelikheid oor hierdie kakkerige situasie kon gee.
So leer mens.
Onder die grendelstaat is daar nie net besig om 'n hele nuwe drankvervaardiging beweging te ontstaan nie.
Selfs die mode industrie is besig om nuwe tendense wat voorheen as ongehoord beskou was, aan te gryp. Al hoe meer mense dra spoggerige hemde of bloese vir Zoom vergaderings. En rond dit buite kamera af met hulle oudste sweetpakbroeke en pantoffels met gehekelde hondjies op. Of absoluut niks in die broek lyn nie, afhangend van persoonlike waaghalsigheid.
Ekstreme maatreëls word uiteraard aangewend om te verhoed dat jou volle uitrusting op die skerm vertoon, tensy jy 'n behoefte het om die volgende oornagsensasie op Youtube te word.
Mens wonder hoe die Voor Covid wêreld se mode hoofsweep - Italië - hierdie een gaan interpreteer sodra publieke modeparades weer toegelaat word.
"In three words I can sum up everything I've learned about life - it goes on." - Robert Frost
Sela
Riaan Coetzee
Kopiereg
20 Mei 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf