Dag 52 van die grendelstaat
Eersdaags mag ons alfabeties drank koop!
Of mag ons alfabetiese drank koop? Dis moeilik om by te hou met interpretasies. Hoe dit ookal sy, dit sal my uitstekend pas want dan kan ek Awhisky en Abrannas en Awyn kry.
Rum sal eers moet wag. R is redelik laag af in die alfabet.
Jy gaan net jou eie houers van die huis af moet saamvat om al jou nuwe drank mee kar toe te dra synde jy nie nuwes kan koop nie. Plastiekhouers, bakke, emmers en dies meer is geensins belangrik nie en jy sal geskop en gedonnor word as jy dit nou wil koop. Dis amper erger as om strand toe te gaan.
Gisteraand het ons 'n briljante braai gehad saam met vriende en familie. Kruisskywe so groot soos olifantpote, enkelmout whisky, braaibroodjies, vitamine C drankies, uitruil van masker idees, goeie geselskap en baie lag. Dit was soos in die dae voor Corona. Ons het tot die omgewing se Karens genooi en hulle toe in die motorhuis opgesluit sonder hulle fone.
So hulle kon dreig maar hulle kon nie klik nie.
O en dit herinner my - hoe kan mens pynappelbier verdun dat dit mens nie so baie laat droom nie?
Sug. Fok.
Gelukkig is dit Sondag. Wat beteken dit voel soos elke ander grendelstaat dag, net effe meer gewyd. Maar jy kan ten minste 'n middagslapie neem sonder om skuldig te voel.
Ons wag steeds vir die president se baas om met ons te praat dat ons kan uitvind of hy nou die aand net weer gegrap het en vir hoe lank sigarette en drank nog onwettig sal wees.
Dalk is sy skugter om op televisie te verskyn synde een of ander ongure aanhanger elke keer liedjies maak van haar woorde. Dalk wil sy net 'n diktator wees, nie 'n popster nie.
Gun haar dit! Diktators deel minder handtekeninge uit so hulle word nie so gou moeg nie.
Die voordeel is dat die owerhede nie kan sien as ons lag nie, want ons moet maskers dra.
Riaan Coetzee
Kopiereg
17 Mei 2020
Kopiereg
17 Mei 2020
Comments