Dag 53 van die grendelstaat

Ek het nog altyd gedink om die kurwes platter te maak is wanneer jy op dieët is.
Wys jou hoe min weet ek.
Die inkerkering bewys weereens hoe drie eienskappe in mense sterk na vore gebring word. Dis dinge wat maar as 'n norm onder die oppervlak van mense bruis, tye van uiterstes is net geneig om dit na die oppervlak te bring.
En Covid-19 is waarskynlik die grootste uiterste in mensegeheuenis.
Eerstens is daar die werklike omgeemense. Hulle is oral, en baie van hulle is nie opsigtelik soos dokters en verpleegpersoneel en ander wat in die voorste linies moes wees nie. Dis die tante op die hoek wat begin het om mense bymekaar te skraap en sop voor te berei om ander mee te help voed. Dis die gastehuis eienaar wat daagliks deur 'n horde brode en bottels grondboontjiebotter gaan om toebroodjies te maak om ander mee te voed, sodat hulle net iets inkry om die honger te stil. Dis die bure wat gereeld hulle maaltye deel met die enkellopende persoon langsaan wat lang, moordende ure by 'n hospitaal werk. Dis die persoon wat iemand uit die bloute verras met 'n inbetaling in haar rekening, wat dit doen sonder om iets terug te verwag. Want hulle het darem ietsie in die tyd, en die ander persoon het 'n dringende tekort as gevolg van verlies van inkomste. Dis die een wat na die ouma'tjie langsaan toe gaan en aanbied om vir haar inkopies te gaan doen sodat sy eerder tuis kan bly.
Dis ook die organisasies en individuele persone wat viervoet vasskop en vir 'n regering wat oorbehep is om hulle lang vingers oral in te wurm, meestal vir selfgewin, 'n middelvinger wys en aanhou om te help soos en waar hulle kan sonder om alle voorrade aan gulsige regeringsamptenare te oorhandig vir verspreiding.
Helde in hulle eie reg, maar nie helde wat verering soek nie. Grotendeels nie in elk geval. Net 'n dankie is meer as goed genoeg.
Tweedens is daar die rebelle. Dis die wat eenvoudig net gatvol genoeg geraak het oor verlore vryhede en by vriende of familie gaan kuier. Nie omdat hulle dom is nie. O nee. Hulle het eenvoudig 'n punt bereik waar hulle 'n risiko analise doen en besluit die risiko is die prys werd.
Die storie van die lewe - risiko teenoor beloning.
Daar is ook diegene wat deur verwarrende regulasies wat vir bitter min mense werklik sin maak, oornag in mini Al Capone nabootsers verander het. As jy 7 weke gelede vir hulle gesê het hulle gaan drank- en sigaretsmokkelaars wees sou hulle waarskynlik vir jou een van daai wit baadjies gereël het wat se moue oor jou bors vasgespe. Gewoonlik net voor jy handevol kalmeerpille ingejaag word om jou rustig te hou. Glo dit of nie, elke stil buurman of saggeaarde ontvangsdame wat nou die kompleks se verskaffer is omdat hulle indringend geld nodig het om te oorleef, is 'n held vir iemand, êrens. Of dit nou net die dors kliënt is of die persoon wat ewe gatvol is maar nie sover kan kom om te begin regulasies verbreek nie, vir elke Karen wat regstaan om te verklik is daar tien mense wat stilweg applous lewer.
Vreemde, vreemde tye inderdaad.
Derdens is daar 'n kategorie wat meeste mense walg. Maar hulle is so werklik soos asemhaal.
Ek het 'n baie toepaslike versamelnaam vir hierdie kategorie gesien wat myns insiens meesterlik akkuraat is.
Covid Stasi...
Ons praat ook van die Karens. Ek is nie meer seker waar die een vandaan kom nie, maar hy is hier om te bly.
Dit is die onsmaaklike karakters wat dit hulle plig gemaak het om ander by die owerhede te verkla. Die selfaangestelde bewakers van die grendelstaat regulasies. Die wat foonlyne warm bel om die polisie in te lig van iemand wat op die verkeerde tyd met haar hond stap, of waag om te gaan branderplank ry, of die buurman wat iemand oorgekry het vir 'n braai. Dis die persoon wat jou met 'n hewige frons storm om jou voor ander te betig dat jy nie gemasker is nie. Dis ook media wat, in die alewige gejaag om meer nuus te verkoop, moeite doen om mense te "name and shame" wat nie "hou by regulasies nie"...
Vrees. Hewige, allesoorheersende vrees, en die gepaardgande vingerwysings.
In die middeleeue het soortgelyke vrees mense sover gedryf om sommer enige iemand wat hulle nie van hou nie as hekse te brandmerk. Wel wetende dat dit waarskynlik vir daardie persoon 'n uiters onaangename dood, soms op 'n brandstapel, sal beteken. Dit het hulle vrese gevoed en hulle laat voel dat hulle optrede geregverdig is.
Covid-19 het 'n moderne weergawe van hierdie sindroom in 'n tipe subkultuur laat ontaard. Mense wat aan hulle eie vrese en woede uiting gee deur ander te verkla, en wat aan hulleself probeer bewys hoe getrou hulle aan die nuwe reëls gehoorsaam is deur ander uit te wys en verkleineer en te na te kom wat, aldus hulle, durf waag dit nie doen nie.
Dit is die 2020 weergawe van 'n middeleeuse heksejag.
Alles net om hulleself tydelik beter te laat voel.
Stop dit net. Dit is vandag nog net so onsmaaklik soos 600 jaar gelede.
Riaan Coetzee
Kopiereg
18 Mei 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf