Dag 29 van die grendelstaat

Die aarde se diere geniet die tydperk terdeë.
Oral hoor en sien ons berigte van wilde diere wat as 'n norm mense sover as moontlik vermy (met goeie rede) wat dorpe en stede binnevaar.
Coyotes in Chicago en San Francisco se middestede. Pumas in Santiago. Boerbokke in Llandudno in Wallis. Troppe ape in Indië wat huise binnegaan en yskaste plunder. Op strande in verskeie plekke kon seeskilpaaie vir die eerste keer in dekades eiers lê sonder om gesteur te word.
Kangeroes spring rond in stede in Australië. Dolfyne en seevoëls swem in die kanale in Venesië. In Tel Aviv het 'n trop jakkalse hulleself tuisgemaak in 'n lokale park in die stad. In ons eie Kruger Wildtuin het leeus en troppe diere begin werk aan hulle voorgee op die Skukuza golfbaan.
In die Ooste van Pretoria het 'n reuse koedoebul doodluiters in iemand se tuin gemaklik geraak. In Parys, die een met die Eifel toring, het eendfamilies rustig in die stil strate rondgewaggel tot groot vermaak van die ingekerkerde burgers.
In Christchurch in Kiwiland hop hase heel gemaklik in die stad rond en poue pronk voor winkelvensters in Ronda in Spanje. In Nara in Japan is inheemse Sika takbokke gewaar in voorheen volgepakte strate.
En in London loop Mr Bean in stil strate rond en wonder wat aangaan.
Watter heerlike ironie om te dink die diere is besig om vir ons te staar agter ons tralies.
Terug in Suid Afrika is ons nog besig om te probeer verstaan wie van ons gelukkig genoeg is dat die regering goedkeuring gegee het vir hulle om weer te mag inkomste begin verdien maar ons stry klaar onder mekaar oor die President se masker.
Die meeste blyk die humor daarin te sien, en ek glo selfs hy sit vanoggend by sy ontbyttafel en giggel vir die memes wat binne sekondes begin vloei het soos water. En onwillekeurig is daar diegene wat gebelgd voel dat mense durf waag die spot dryf met die hoogste boom in die land.
Ongeag die kamp waarin jy val, jy moet toegee dat dit ironies is dat die bes bewaarde deel van 'n belangrike toespraak die masker is.
Sela
Riaan Coetzee
Kopiereg
24 April 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf