Dag 30 van die Grendelstaat
Nongqawuse: “Ek het ‘n visioen gesien by die helder poele water van die Gxararivier.”
“Wat het jy gesien kind?” vra die hoofman vir haar. “Vertel vir my die hele storie.”
“Ek het gesien dat die dooies sal opstaan, dat al die beeste moet doodgemaak word, dat al die oeste op die lande verwoes moet word. Ek het gesien dat die son op ‘n sekere dag bloedrooi sal verrys, en dat al die beeste en oeste dan herstel sal word, en dat die voorvaders en krygers dan sal opstaan uit die dood en help om die Britte te verdryf” fluister Nongqawuse saggies aan die ou grysaard.
Dit was die aanloop tot ‘n lydingstydperk op amper ongekende skaal vir die Xhosa nasie in 1856/7. Die uiteinde was dat daar uiteindelik tussen 200 000 en 300 000 stuks vee vernietig is. Dit het ‘n aanloop gehad, nie almal het in die profesie ingekoop nie maar stelselmatig het meer en meer mense ingekoop en dieselfde met hulle vee begin doen.
Die uiteinde van hierdie aksie was ‘n hongersnood op 'n kataklismiese skaal wat die dood van derduisende Xhosas tot gevolg gehad het.
Die geskiedenis leer dat die profesie nooit bewaarheid is nie. Soos die tyd verloop het en die nood al erger geraak het, die mense al hongerder, die sterftes al meer en meer, en het hulle selfs diegene wat geweier het om hulle vee dood te maak omdat hulle nie in die hele drama ingekoop het nie geblameer vir alles wat verkeerd geloop het.
Om die waarheid te sê het die hele tragedie mense in so ‘n mate verdeel dat broer teen broer gedraai het, pa teen seun, die oorheerser teen sy volk. Bloedfamilie teen bloedfamilie. Twee duidelike groeperings het as gevolg hiervan ontstaan – die amagogotya (ongelowiges) en die amathamba (gelowiges wat in die profesie ingekoop het en hulle oeste en vee vernietig het).
Sommige amagogotya het uit vrees vir vergelding deur die amathamba ook hulle vee vernietig, so erg het die vrees mense tot onbesonne dade gedryf.
Toe die realiteit van die situasie uiteindelik begin deurskemer, dat hierdie profesie NIE besig is om te realiseer nie desondanks die brutale maatreëls wat hulle nagekom het, het die vrees en realiteit van hulle benarde situasie in woede omgesit wat deur die "gelowiges" op die "ongelowiges" uitgehaal is.
Tientalle moorde is deur die amathamba gepleeg op die amagogotya, wat gedurf waag het om nie in die profesie in te koop nie. Hulle vee is gesteel en weggedryf, hulle krale is verwoes.
Dit was ‘n tragedie wat die Xhosa volk onherroeplike skade berokken het.
Alhoewel dit simplisties is om net Nongqawuse se profesie uit te lig, synde daar ‘n aanloop was wat ‘n ryp teelaarde geskep het hiervoor, is dit dalk nodig vir ons om stil te staan en net ‘n klein bietjie te besin.
Dit is so maklik vir die moderne mens om smalend na sulke tragedies uit die verlede te verwys en dit af te maak as aksies van baie meer primitiewe mense as ons hedendaagse, 2020 moderne wesens.
Tog, in hierdie moderne dag en eeu, loop die vrees vir ‘n virus soos ‘n veldbrand profesie deur die wêreld se bevolking. Staan ons in ons biljoene magteloos voor dit, stem ons heelhartig in om oornag al ons vryhede prys te gee – solank hierdie spesifieke profesie net nie in sy geheel waar word nie.
Dit het tot gevolg dat ons goedsmoeds hele ekonomieë verwoes.
Die groot verskil blyk te wees dat ons in 2020 die vernietiging uitvoer met die doel om eerder hierdie spesifieke profesie te probeer stuit, nie om dit deurgevoer te kry nie.
Maar die verwoesting wat gepleeg word is in effek dieselfde as in 1857, die skaal is net soveel groter.
En die geskille tussen die 2020 amathamba en die 2020 amagogotya neem daagliks in felheid toe. Jy moet of ten volle inkoop in hierdie vrees, of die sosiale prys betaal.
En die gevolge daarvan gaan soortgelyk wees, die keer net op die wêreld se bevolking. As dit nie was dat die tragedie wat besig is om ons te oorspoel so groot was nie sou die ironie hiervan dalk meer tasbaar gewees het.
Mag ons ryklik geseënd raak met gesonde verstand, en vining ook.
Riaan Coetzee
Kopiereg
25 April 2020
Kopiereg
25 April 2020
Comments