Dag 28 van die grendelstaat
Die hofsaal is stampvol gepak.
Die atmosfeer is somber. Gedemp.
In die beskuldigde bank sit die Landsvlag gedweë tussen 'n spul gewapende polisiemanne, sy oë op die grond, soekend na iets.
Hunkerend na sy vryheid.
Hoopvol vir genade deur die hoofregter.
Sy lyftaal wys duidelik dat hy moeg is. Voos, siek van bekommernis, vraend oor wat hy gedoen het om hierdie lot te verdien.
Die polisiebeamptes hou hom so stewig aan al vier sy hoeke vas dat hulle kneukels wit wys teen die blou agtergrond van hulle uniforms.
By al die deure staan weermaglede op hulle pos, gereed om enige een wat sonder toestemming die hofsaal wil verlaat met mag en mening terug te boender.
Julle sal hier sit tot die regter sê julle mag maar loop, is die duidelike boodskap.
In die verte is 'n gerammel vaagweg hoorbaar. Dis glo versterkings wat op pad is indien die mense wat die hof vandag bywoon nie tevrede is met die regter se uitspraak nie.
Die hofsaal gons soos wat almal wat die verrigtinge in ademlose spanning sit en afwag, onder mekaar murmureer. Elkaar is besig om met gedempte stemme sy of haar opinie te lug oor wat hulle voorsien die uitspraak sal wees.
Die vrae is legio maar antwoorde is min. Almal hoop die regter sal die arme vlag genadig wees. Kyk net hoe het hy alreeds boete gedoen vir 'n misdaad wat nie eers sy skuld was nie!
Kort-kort gil die hoof hofbeampte van daar in die hoek dat hulle moet stilbly en stilsit of hy sal hulle laat arresteer. Hy is spoggerig uitgevat, kompleet met hoed wat lyk of dit uit 'n 1920's rampokker fliek uit kom. Hy lyk baie vol van homself, dis ooglopend dat hy dit geniet om almal te hiet en gebied.
Swart, wit, bruin. Die mense wat vandag se hofverrigting bywoon verteenwoordig die totale spektrum. Oud, jonk, armes uit plakkerskampe, rykes uit Waterkloof.
Maar geen drawwers en honde aan halsbande nie. Dis verbode in die hof.
Niemand rook nie. Hulle is te versigtig om die hoof hofbeampte se wraak op die hals te haal.
Daar is selfs 'n paar hoenders op een van die agterste banke. Die feit dat daar 'n moratorium geplaas is om hulle vlees te nuttig het hulle genoeg moed laat bymekaarskraap om gesig te wys. As 'n teken van hoender solidariteit dra hulle t-hemde wat 'n slagspreuk bevat:
Hoenders Was Eerste Oor Die Pad
Ten minste weet almal nou.
Soos wat die tyd naderkom vir die regter om sy opwagting te maak neem die fluisteringe met eentonige reëlmaat toe tot 'n crescendo waarna die hoofbeampte almal stil skree. Na slegs 'n paar minute raak die oomblik egter te groot en begin die fluisterstemme weer plek-plek hoorbaar raak.
Beamptes in uniform staan dreigend nader. Hier en daar wys 'n persoon vanuit die bywonergeledere diegene aan hulle uit wat nie gehoor gee nie.
Die atmosfeer is tasbaar gespanne teen die tyd.
In die beskuldigde bank begin die Vlag se skouers saggies ruk soos wat trane oor sy lapwange begin biggel. Sy senuwees is gedaan.
Asseblief meneer die hoofregter, wees die arme Vlag genadig.
Riaan Coetzee
Kopiereg
23 April 2020
Kopiereg
23 April 2020
Comments