Dag 24 van die grendelstaat

Vat jou pie en waai.
Ek grap net! As jy jou pie vat en waai sal Karen die polisie bel lank voordat Hugo nog die nommer opgesoek het.
Jou handjie sal net 'n vinnige verslae waai kan gee terwyl die vangwa se deur in jou beteuterde gesig toeklap.
Daai pie gaan nou heelwat meer as net jou maag omkrap.
Beter en vat maar eerder die rotisserie hoender.
Ha ha! Skuus! Ek moes net! Ek het eintlik bedoel jy mag net vir die hoenders kyk terwyl jy vir jou bietjie slaai op 'n sny kamertemperatuur brood pak. Dis 'n nuwe Covid resep vir 'n toebroodjie wat hulle Die Cele noem.
Dan sluk jy dit af met n glas verfrissende skelm tuisgebroude pynappelbier en, as jy meer gesofistikeerd is, gemmerbier.
In ons onlangse verlede het konjak drinkers hulleself as gesofistikeerd beskou en neergekyk op diegene wat hulle goedkoop brandewyn met Dieët Coke geniet het.
Nou kyk onwettige gemmerbier stokers neer op onwettige pynappelbier stokers.
Terwyl alles verander bly soveel steeds dieselfde.
Blykbaar kan jy hom oor 'n 3 dag tydperk opstook tot so rofweg 15 persent alkohol status.
Ek raai net. My drank is klaar en die beste wat ek nou uitrig is om weemoedig aan die leë bottel brandewyn te sit en ruik tot die gevoel oorgaan.
Hoe dit ookal sy, die onwettigheid verdubbel dit outomaties so jy behoort met 'n bietjie geluk by 30 persent uit te kom. Of dalk meer soos jy die kuns vervolmaak.
As jy boonop op Facebook alles oor jou onwettige drankstokery uitblaker kom jou bierpoging ook in aanmerking vir 'n verdere outomatiese alkoholpersentasie verhoging van 10% vir waaghalsigheid. Dan kom jy straks by 40% uit en almal wonder waarom jy eers vanaf middagete se koers elke dag aktief raak op sosiale media.
Wees maar net versigtig want die soetigheid gaan enige oorboordganery beloon met so 'n hoofpyn dat Coronameters binne 'n kilometer radius gaan dink jy is positief.
Wat jy ookal doen, moet net nie in die straat gaan opgooi nie. Dan ry jy op 'n vangwa vakansie saam met die ou wat met sy pie probeer waai het.
As jy klaar aan jou Cele gepeusel het en jou maag is vol en jou skelmbier is klaar kan jy behaaglik agteroor sit en vir jou 'n sigaret aansteek. Maar tensy jy jou splinternuwe rampokkerstatus portfolio onverskrokke wil uitbrei deur swartmark rokies by te voeg is dit waarskynlik 'n strategiese skuif om net 3 trekke elke 2 ure te vat sodat jy twakkies kan hê tot aan die bittereinde toe.
Onthou tog net om deur al hierdie waaghalsige aktiwiteite jou masker opsy te skuif want as hy nat raak moet jy 'n nuwe een kry. Of dalk het jy een van daai veelkleurige Josefskleed tuisgemaakte maskers wat gewas kan word. Die jurie is nog uit of hulle enige iets meer as 'n skelm windjie se klankie sal uithou maar jy weet verseker jy gaan heelwat koeler lyk as die lot met hulle vervelige Gray's Anatomy nommers!
Dan, net om jou te bly herinner aan een van die belangrikste funksies van die wêreld voor Covid, behoort jou foon te lui sodra jy voel jy ontspan....
"Hallooooo Mister Coetzee? Let me tell you about our wonderfully discounted car insura... hallo? Hallo! Mister Coetz...oh."
Riaan Coetzee
Kopiereg
19 April 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf