Dag 26 van die Grendelstaat

Stoffel het ‘n rot gevang. Gisteraand.
As ons nou tegnies moet raak het Stoffel half 2 vanoggend ‘n verdomde rot gevang.
Dit was ‘n moerse rot. Darem nie daai een wat sy eie Michelen Ster restaurant in Parys, Frankryk oopgemaak het net omdat hy so oulik was nie.
Stoffel is my Pa se brak. Ons noem hom nie ‘n hond nie want hy beskik oor ‘n baie deurmekaar bredie brakbloed, met ‘n oormaat terriër. Ons vermoed ook sterk dat sy ma êrens ‘n ding met ‘n otter aangehad het want hy swem soos een.
Hy is Oupa Piet se skaduwee en hy is oortuig hy is eintlik ‘n leeu, al is hy nie veel groter as die gewese rot nie. En hy is bedonnerd, ons is baie dankbaar hy is nie regtig ‘n leeu nie.
As ons in die woonstel instap begin hy al vir ons grom want ons is in sy gebied. Jy kom nie naby sy mens sonder sy toestemming nie. As my Pa in sy bakkie klim om êrens heen te gaan kom sit hy darem by een van ons om vertroosting te soek, maar op sy terme. Hy kyk jou met sulke jammer ogies tot jy hom optel, net sodat hy op jou skoot kan sit en vir jou grom.
Ons vermoed dit mag dalk ‘n manier wees hoe hy homself warm hou.
Ek het net behaaglik begin droom (ek kan nie onthou of dit weer oor ‘n pratende papegaai was nie) toe skuifgeluide my wakkermaak.
Aanvanklik het ek in my benewelde toestand gewonder of dit iemand se maag was. Groot was my dankbaarheid toe ek besef dis my Pa wat meubels rondskuif in die tuinwoonstel. As daai ‘n maag aangeleentheid was sou ons spyt gewees het ons het net met die mense gespot wat toiletpapier gepaniekkoop het.
Ek trek toe gou ‘n hemp aan en storm om die hoek om te gaan kyk wat aangaan. Staan Deon ook by sy kantoordeur en bekyk die spulletjie.
“Hulle vang ‘n rot”, Reken hy toe hy my sien.
“Hulle maak hoe??” vra ek verby geknersde tande, steeds besig om te probeer wakker word en die dankbaarheid te verwerk dat dit kaste is wat so skuif en nie iemand se maag nie.
“Rot”, sê hy weer, nog nooit iemand wat meer woorde gebruik het as net een deug nie.
“Moerse rot”, verbreek hy byna dadelik sy eie reël.
“Vat hom, vang die moerskond se kind, gryp hom Stoffel!” hoor ek hoe Oupa Piet vir grootleeu aanmoedig uit die tuinwoonstel uit.
“Njarrrrrrrrr GRRRRRR fokken woef woef njarrrrrrrrrr!” antwoord Stoffel, te besig om te konsentreer om iets meer konstruktief by te dra tot die gesprek.
“GGGGGGGGGGGGGGGGGG” skuif die boekrak weereens.
“O koek!” hoor ek die rot in ‘n fyn stemmetjie gil. Nie regtig nie maar ek was steeds nie lekker by nie so enige iets is moontlik.
Die volgende oomblik sien ek net hoe Stoffel daai rot rondswaai onder die skuifdeur se gordyne deur.
Dit was toe nog vinniger verby as die 13 sekondes wat dit Connor McGregor geneem het om Jose Aldo se droom te kelder in 2015 in Las Vegas.
Die deur gly oop. Stoffel dans in sy bokskryt rond soos iemand wat sopas die titel verower het. Oupa Piet wys trots die rot vir my. Die gewese rot.
Dis wat jy kry as jy nie toestemming vra om in Stoffel se gebied te mag wees nie.
En vanoggend dans hy die hele erf vol en sy gat swaai trots sodat ons moet kennis neem van die suksesvolle verdediging van sy gebied.
Mooi Stoffel.
Kan ons nou inhaal op slaap asseblief?
Riaan Coetzee
Kopiereg
21 April 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf