Dag 27 van die grendelstaat
Ons paroolvehoor gisteraand was toe 'n nat kombers. Ons het verniet geskeer, tande geborsel en mooi aangetrek.
Ons hoor nou glo eers more-aand wat ons verdere lot is. Gaan ons bevry word of gaan die medoeënlose inkerkering voort.
Intussen wil dit voorkom of die President die hele weermag gaan oproep. Oor die sewentigduisend lede. Ek is een van diegene wat dit as kommerwekkend ervaar, vir 'n magdom redes. Ons hoop egter dit gaan net vir 'n moerse parade wees om ons vryheid te vier...
Dis 'n bitter lydingsbeker om met alles in jou te veg, elke dag van voor af, as jou inkomstestrome opgedroog het soos riviere in droogteseisoen en jy moet poog om kalm en rustig te bly en jou kop omhoog te hou en positief te bly. Vir ons eie redding egter het ons min keuses - of jy veg of jy gee heeltemal boedel oor. Die sinvolle keuse is voor die hand liggend.
Darem nie alles aan hierdie proses is noodwendig sleg nie. Mense wat al jare so besig is dat hulle eie kinders en lewensmaats hulle beswaarlik onthou het skielik 'n geleentheid om in oormaat op te vang. Weer hulle families te leer ken, kwaliteit tyd saam met hulle kinders te spandeer, en dieselfde met 'n lewensmaat. Ons hoop maar hulle gebruik dit goed.
Gister medisyne gekry vir my oog wat so aanhoudend traan. Dis uiters irriterend. Die voordeel sal wees, mits die apteker korrek was met die uitdeel van advies, dat ek nie meer heeltyd sal lyk of ek huil oor my bankrekening nie.
Iets wat die mens nog altyd kon regkry was om skeppend te raak onder druk. En ons beleef dit in oormaat. Ons is gatvol en moerig ja, maar ons skeppingsdrang het deur die opdrifsels van inkerkering gebreek en dryf nou op die water soos ysblokkies in jou afwesige brandewyn.
Ek moes seker 'n ander voorbeeld gebruik het.
Oral op sosiale media sien jy hierdie oplewing - mense skilder en teken, hulle ontwerp en bou en flans pragtige nuwe skeppings aanmekaar. Houtwerk, kralewerk, sommiges maak pragtige maskers.
Ek het selfs maskers gesien wat van bra's gemaak is en gewonder of dit jou betiteld gaan laat voel as jy een dra.
Party se skeppingsdrang word uitgebeeld in 'n nimmereindigende stroom tuisprojekte wat opgedis word aan hulle wederhelftes, wat waarskynlik na afloop van inkerkering gaan wens vir vakansie sodat hulle net bietjie kan rus.
Ander ontaard in ware Gordon Ramsey's en kook en werskaf in hulle kombuise asof hulle aan 'n Masterchef kompetisie deelneem.
Mense sing en hou aanlyn konserte. Ander, ekself ingesluit, het lank reeds besef ons behoort net te sing wanneer, nee. Nee ons behoort eerder net te luister as ander sing.
Ons skryf dus en poog om daardeur 'n blywende studie van hierdie emosionele oorgangsfase te laat wat hopelik jare of dekades later steeds sommiges nostalgies sal laat terugdink en onthou hoe dit gevoel het. Hopelik ons en ons nageslag ook sal herinner dat ons sterker is as wat ons besef.
Ander brou hulle eie alkoholiese verversings. Geen pynappel is meer veilig nie! Ek voorsien dat hier na afloop van die grendelstaat 'n hele nuwe agterplaas industrie gevestig gaan wees wat blywend deel van die samelewing sal word.
Ongeag die gevolge van die inkerkeringstydperk, sal dit 'n pragtige nalatenskap wees as hierdie skeppingsdrang nie weer weggebêre word wanneer ons lewens weer 'n modikum van normaliteit bereik nie.
Karakters word gevorm op die aambeeld van geforseerde verandering.
Dalk sal dit 'n waardige saluut aan die karakter van ons as mense wees as ons hierdie kreatiewe drang kan saamneem die onsekere toekoms in en voortbou daarop.
Riaan Coetzee
Kopiereg
22 April 2020
Kopiereg
22 April 2020
Comments