Dag 80 van die grendelstaat
Ons was weer hoogs bevoorreg vanaand.
Ons het weer 'n president toespraak gekry. Ons mag luister hoe hy gaaf genoeg is om na goeddunke ons regte terug te gee, op die regering se pas. Vreeslik dankie hoor.
Maar ons mag nog nie rook nie. Of wettig rookgoed koop nie. Dis nogsteeds iets wat die regering nagte laat wakkerlê van bekommernis oor hulle onderdane se longe wat so mishandel word. Dis net beter om onwettige rookgoed teen beursiebrekende pryse aan te koop, solank die hoofkonstabel jou nie vang nie. Onwettige sigarette is ligter op die longe en het blykbaar 'n positiewe impak op ministers se bankrekeninge. Of so verstaan ons. Corona kry mense ook jammer wat so duur betaal om onwettig op te tree en vermy hulle eerder.
Ek dik natuurlik die pap nou lekker aan. Almal weet dat ministers slegs nagte wakkerlê as hulle bankbalanse negatief geraak word.
Ons is darem dankbaar dat ons nou weer toegelaat word om by ons gunsteling restaurante te gaan sit en eet. Dis nou indien hulle weer hulle deure oopmaak en indien ons gelukkig genoeg is om wel toegelaat te word onder die beperkte klandisie voorwaardes. Dit is inderdaad fantasties dat die regering hulle so ontferm oor ons dat hulle, gewoonlik nadat howe hulle beveel, van ons regte teruggee. Alhoewel hulle dit maar langtand doen en dit laat klink of hulle ons 'n reuse guns bewys.
Ons mag net nog nie by vriende en familie gaan kuier nie. Nee. Dit is nou moeilikheid soek. Corona is glo ingestel om sy intrek by mense te neem wat so na hartsmense verlang dat hulle binnekant voel asof hulle stadig doodgaan, so ons moet met mag en krag weerhou word van daardie versoeking.
Gelukkig mag ons darem reël om mekaar by ons gunsteling restaurant te ontmoet sodat ons daar kan kuier. Meer nog as dit by 'n eetplek is wat vleis op die spyskaart het. Corona is glo erg vegan en vermy enige iets wat vleis aanbied.
En daar is mense wat beweer modder is helder.
Nog iets wat sommige politici dalk mag sover kry om te sukkel om te slaap, soos soveel van ons gewone sterflinge al sukkel sedert die inkerkering begin het, is die feit dat die Valke neergedaal het op 8 groot kanonne in die VBS Bank strooptog dat jy net vere sien spat het. Boeie het soos swepe geklap om skelm polse. Vanaand begin 'n sekere oorpak party se mede touleier sekerlik sy duur Range Rover bemark op Facebook se Marketplace. Môre staan sekere politici tou by Dischem om slaappille te koop.
Met Vlak 3 Ekstra Speeltyd mag ons weer gaan fliek en gaan dobbel. Met ons maskers aan, en solank ons seker maak die springmielies handhaaf behoorlike sosiale afstand. Ons mag ook weer tennis speel. Wat uitstekend is behalwe vir die feit dat niemand regtig tennis speel nie. En jy mag nou amptelik die solidariteit van jou naaste golfbaan gaan opsoek sodat jy weer 'n verskoning kan kry om jou moer te koer en jou stowwerige 3 yster om 'n boom te buig. Hou net jou masker aan sodat niemand weet wie jy is nie en maak seker jou balle handhaaf behoorlike sosiale afstand.
Jou golfballe, vir wat staan jy so wydsbeen?
Riaan Coetzee
Kopiereg
17 Junie 2020
Kopiereg
17 Junie 2020
Comments