Dag 78 van die grendelstaat



Ek is gatvol om oor die probleme te skryf so vandag wil ek oor iets ander skryf. Iets baie persoonlik vir my, en iets wat ek ontsaglik geniet.
Mense reken ek is gek om in ysige water te swem.
Hulle is nie noodwendig verkeerd nie. Om in 'n gesellige jacuzzi te klim het beslis sy voordele bo yskoue water. Veral as dit kom by die gerieflikheid daarvan.
Warm baddens het maar eers sedert die 1920's begin algemeen voorkom in privaatwonings in die VSA en Europa. Die mens het vir 'n bitter lang tyd slegs koud gewas, en met slegs die nodige in uiterste temperature oorleef. Ons moes, of ons sou uitsterf.
Al wat intussen gebeur het is dat ons die gerief van 'n warm bad of stort gewoond geraak het. Daarmee saam ook die gerief van lekker warm klere wat gemaak is om die grootste hoeveelheid koue weg te hou van ons lywe af en die grootste hoeveelheid hitte te behou.
Voor ek begin het met hierdie spesifieke malligheid, het ek ook altyd vreeslik opgesien na winters. Dit was net vure en verwarmers en elektriese komberse en nog dikker baadjies en handskoene en dies meer. En Old brown Sherrie.
Die Old Brown Sherrie het darem nog nie verander nie!
Maar bo en behalwe die gegewe voordele van koue water behandeling - dit verbeter sirkulasie, dis uiters verfrissend al is dit baie koud, dit verbeter die limfatiese en imuun sisteme, verminder spier inflammasie, dit kan regtig aanleiding gee tot 'n ligter gemoedstoestand - ek het myself al menige kere gevang hardop lag in die koue water en sukkel om op te hou. Totaal spontaan.
Wat ek eerstehands ervaar is dat dit my liggaam se temperatuur regulering herstel. Waar ek altyd gevrek het van die koue in winters, vind ek dat ek nou mal is oor die koue, ek loop meeste van die tyd met 'n kortbroek en t-hemp en slegs 'n dunnerige moulose Jeep baadjie, en met sandale. As ek koudkry sit ek my mus op. Ek voel steeds die koue maar dit is asof my liggaam - en my brein - dit net soveel gemakliker hanteer. Ander mense om my loop met dik lae klere rond, en kyk vir my asof ek ontsnap het van 'n plek af waar mens gewoonlik een van daardie baadjies dra wat by die moue met 'n slot vasmaak. So my termometer het baie beslis aangepas. Nou praat die weerburo van moontlike sneeu in Gauteng. Al wat ek dink is fantasties, ek hoop Centurion kry ook want dan gaan ek eers lekker swem.
Vir my persoonlik egter is die groot uitdaging, en ook plesier hiervan, die feit dat ek daagliks iets doen wat jou werklik toets. En glo my dit is 'n toets. Dit is nie maklik om uit 'n lekker snoesige bed op te staan en dan in water wat netsowel uit die yskas kon gekom het in te stap en daar te staan vir tussen 10 en 15 minute nie. En daardie is juis een van die grootste aantrekkings hiervan - die "mind over matter" deel daarvan. Dis 'n reuse, daaglikse toets. Die gevoel van genoegdoening elke keer as ek dit klaar gedoen het, is ongelooflik. Ek dink ek kan tereg verklaar dat ek verslaaf geraak het daaraan.
Die ander grootste deel hiervan vir my is dat dit die enigste plek is waar ek my gedagtes werklik feitlik 100% stil kan kry. Die water is koud genoeg dat jou liggaam in skok wil ingaan as jy inklim. Die veg of vlug reaksie waarvan mense praat. Dit is ook wat aanleiding gee dat mense so vinnig verdrink in sulke koue water - omdat dit so koud is, en dit so 'n skok is, neem paniek oor. Die res is geskiedenis.
Die geheim lê in die asemhaling. Dit is hoe jy die paniek afweer.
Ek is al lank 'n volgeling van 'n kêrel met die naam Wim Hof. Hy het 'n spesifieke asemhalingstegniek verfyn, wat ek daagliks gebruik. Hy is ook bekend as the Iceman Wim Hof en hy is die houer van 26 Guiness Book rekords. In 2007 het hy 22 duisend voet teen Everest uitgeklim, geklee in slegs 'n kortbroek en skoene. In 2009 het hy 'n vol marathon in die Arktiese Sirkel gehardloop geklee in slegs 'n kortbroek, in temperature van so laag as minus 20 grade Celcius. in 2011 sit hy nekdiep in 'n ysbad vir 112 minute lank. Google hom gerus vir meer inligting. Feit is - dit is hoofsaaklik waar ek aan die hele ysige water storie begin raak het. Dit was hy wat my uiteindelik oortuig het om tog wel die groot stap te neem en met die koue water te begin.
Ek het begin deur warm te stort en dan die warmkraan stadig toe te draai tot dit net koue water is. Net 30 sekondes lank. En dit opgebou tot waar ek myself net elke dan en wan 'n geskenkie van 'n warm stort gee. Sederdien het ek ysbaddens bygevoeg - met eish ja! En grotendeels in die winter fokus ek op die swembad omdat die water nou so koud is. Enige iets tussen 8 en 15 grade Celcius is goed, maar laer is dit is my persoonlike gunsteling. So 6 grade en minder is veral my gunsteling. As jy jou hand insteek en dit voel of hy brand - dis my tipe temperature daardie.
Omdat die water so koud is, is dit vir my in onmoontlik om aan ander dinge te staan en dink terwyl ek in is. Grotendeels is dit basies 'n meditasie in yskoue water. 3 minute is goed om die voordele te kry, ek verkies persoonlik net effe langer tye. In 'n ysbad wat kouer as die swembad is, sal ek uiteraard korter sit as 15 minute. Dalk. Ek weet teen die tyd wat vir my liggaam werk en hoe lank ek kan verwag om te neem om weer op te warm na die tyd. Want jou liggaam se kern temperatuur val verseker. So as jy dus nie behoorlik asemhaal nie, en veral die asemhaling doen om deur daardie inisiële tyd van skok te stoei aan die begin nie, gaan jy dit eenvoudig nie regkry nie. Jy gaan uitskiet soos 'n sjampanje kurkprop. Ek belowe. Na omtrent 60 sekondes begin ek warmer voel, en na omtrent 120 sekondes is ek - glo dit of te nie - relatief gemaklik daarbinne.
Nooit gemaklik nie, dis eenvoudig te koud daarvoor. Maar dit is so 'n onstaglike kragtige oefening. Ek staan daar en my fokus is ten volle op my asemhaling - 15 minute gaan soos niks verby. Ek kan letterlik voel hoe my bloed deur my liggaam bruis soos wat hy veg teen hipotermie. Ek voel so ongelooflik bewus van die stryd wat my liggaam besig is om te voer om te oorleef, en is so absoluut in daardie oomblik vasgevang dat die wêreld letterlik kan vergaan om my.
Dit is ongelooflik kragtige ervaring, dag na dag. En moeilik om te beskryf as mens dit nog nie ervaar het nie.
Kom sneeu - pappa wag vir jou.
Riaan Coetzee
Kopiereg
15 Junie 2020


Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf