Dag 79 van die grendelstaat

Standbeelde het nou genoeg gehad van hierdie balhorigheid en veg terug!
Van oral af begin wilde gerugte opduik van standbeelde wat hulle verset teen aanvallers wat hulle wil beskadig. Daar het selfs foto's op die internet begin verskyn, wat veroorsaak het dat Antie Fa se mediaskakelbeampte galgebraak het op Twitter - Ons Het Nie Opgeteken Vir Hierdie Geweld Nie, Daar Is Plek Vir Ons Almal In Chaz!
Die Internasionale Voorsitter van die Standbeeldvereniging, Meneer A.M. Beeld, het glo net gelag en gefluister dat hulle nog net besig is om op te warm. Dit vat blykbaar 'n tydjie vir 'n standbeeld om op te warm, veral die wat uit marmer gemaak is.
Toe Antie Fa hiervan te hore kom het hulle sosiale media met 'n tsunami video's van gillende, huilende lede toegegooi om duidelik te wys hoe verontreg hulle hieroor voel. Chaz het noodberigte uitgestuur vir soveel moontlik ekstra toiletpapier omdat hulle burgers hulleself hieroor beskeit.
Die Krygsheer in Beheer het dit so ernstig opgeneem dat hy glo beplan om die naam te wysig. CHAZ (Capitol Hill Autonomous Zone) gaan glo nou CHOP (Capital Hill Occupied Zone) word. As dit in SA moes gebeur sou dit SKAAPCHOP gewees het. Die Spesmagte het net gelag hieroor en goedkeurend vir mekaar gesê "Ja swaer, hulle gaan beslis afchop as ons daar moet in."
Hulle moet darem net versigtig wees. Chaz, of Chop, het hulle eie spesmag begin bymekaarmaak. Verskeie sosiale media rekeninge wat verband hou hiermee het gemeld dat alle Call Of Duty spelers vanmiddag om 18:00 moet aanmeld vir 'n vergadering by die voormalige polisiekantore wat hulle beset het, en dat hulle baie Red Bull en springmielies moet saambring en beplan vir 'n lang spel. Ek meen geveg!
Mense wat meer van die goed weet as ek beweer dat Corona in Sjina begin het as 'n virus. Van daar is dit oor Europa toe as 'n pandemie, en het in SA gevestig as 'n reuse kontant besigheid.
Intussen weet die Minister van EkWeetBoggerol, Minister Zulu, steeds nie dat die grendelstaat 'n totale slagveld geskep het vir armes nie. Om die waarheid te sê, sy was geskok om te besef sy bly in Suid Afrika.
Standbeeldjie vir haar?
Riaan Coetzee
Kopiereg
16 Junie 2020





Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf