Dag 82 van die grendelstaat
Wonderwerke gebeur regtig, ek het dit vandag beleef!
Ek stap in by 'n gunsteling koffiewinkel vir 'n haastige bekertjie liefde. Ek het 'n snobbistiese koffie benadering, synde ek self in die bedryf staan. Ek sal veel eerder water drink as slegte koffie. En beslis nie kitskoffie nie.
Met die instap merk ek 'n splinternuwe melktert op. Hy vang my oog soos 'n bloedrooi nuwe Ferrari by 'n tweedehandse motorhandelaar. Hy lyk sommer so "jy weet jy wil my eet" lekker. Ek besluit toe net daar om maar te vra vir 'n stukkie, synde Vrydag en dag 82 en dis effe koelerig en sommer net want ek kan.
Met groot plegtigheid word die snymes nadergehark en met groot presiesheid word 'n reuse sny uitgemeet en gesny, sy rante so netjies soos 'n weermagbed tydens basiese opleiding.
Ek staan die petalje met groot oë en gadeslaan omdat my bek water want ek kan nie onthou wanneer laas ek 'n lekker stuk melktert geproe het nie. Die sny word versigtig uitgelig en dis net daar wat die wonderwerk gebeur! Skielik snak almal na hulle asem! Ek wonder nog wat aangaan toe sien ek hoe almal na my tert staar.
Nou, daai is nie aan nie. 'n Man se tert is 'n man se tert jy weet. Ek staan toe vinnig nader om uit te vis wat aangaan, toe vang my oog dit ook!
Die sny melktert!
Dit het my naam op!!
Hoe is dit moontlik? Niemand kan dit verklaar nie. Ons besef net almal dat ons hier in die teenwoordigheid van iets groots is. Dis nie aldag dat 'n man se naam sonder meer op 'n sny melktert gegraveer is nie.
Vir 'n oomblik het 'n gewyde stilte geheers. Dit was asof selfs die molekules suurstof tot stilstand geruk het. Onmiddellik gevolg deur luide toejuiging soos ons hierdie ongekende wonderwerk begin toejuig!
Dit was op daardie oomblik wat ek geweet het, sonder enige twyfel, dat ek twee snye sal moet eet.
Die molekules wat tot stilstand geruk het herinner aan 'n ander geleentheid, lank gelede, toe iets soortgelyks gebeur het. Ook 'n tot stilstand gerukkery, maar op 'n totaal ander vlak.
Ek was nog in die hoërskool en besig om te leer bestuur. Oupa Piet het so 'n spoggerige Chevrolet 4100, 1974 model gehad daai tyd. Hy het 'n karavaan gesleep dat jy in die spieëls moes kyk om jouself te herinner jy sleep iets. Outomatiese ratkas - onthou dit. Dit was in die baie vroeë tagtigs.
Ons was die betrokke dag in Potchefstroom gewees. Ek bestuur en Oupa Piet is die navigator synde ek toe nog net 'n leerlingliksens gehad het. Klaar met ons besigheid ry ons deur 'n area met die naam Die Bult. Nou vir die wat nie weet nie, dit is die studente area, so dit krioel van mense. En ek trap die Chev so bietjie vas, want daar is 'n swetterjoel mooi meisies en wel, die Chev kan!
Ek sit en hou die enjin se toere fyn dop, en toe die naald aan die 4000RPM lyn raak, besluit ek toe, vir een of ander totaal onverklaarbare rede, om oor te skakel na die volgende rat toe. En ek trap daai koppelaar so hard vas dat my skoen se hak klap teen die vloer.
Julle sal nou onthou dat dit 'n outomatiese Chevrolet was die. So ek het toe die rem so getrap, want koppelaar die is daar nie. Met die linkervoet nogal, soos 'n ware renjaer.
Daai Chev se neus druk amper in die teerpad vas. Oupa Piet sit voor teen die instrumentepaneel vas. Ek klou die stuurwiel dat my hande kramp terwyl my brein teen 'n miljoen ligjare per sekonde probeer uitwerk wat die donner ek doen. Die bande gil soos honger seemeeue en Die Bult verdwyn feitlik heeltemal onder die blouwit rubberrook. Soos mis. Behalwe dat hierdie baie raak was.
Ons kom tot stilstand midde 'n see starende, oopmond gesigte. Insluitende al die mooi meisies. Soos Oupa Piet terugskiet in sy sitplek kom sy hand so half ongeërg teruggeswaai en hy rughand my so terloops voor die bors dat my ribbes 'n Meksikaanse golf maak.
Ek kyk vir hom. Hy kyk vir my. Almal kyk vir ons.
"Nou wat de donner was dit?" vra hy my.
"Ek wou ratte ruil..." antwoord ek met 'n hees stemmetjie, heeltemal uit my pronkerigheid geskrik deur my selfopgelegte oomblik van waansin.
"Jy weet die donnerse kar is outomaties, reg?" vra hy.
Ek het nie geantwoord nie, net die lepel getrap en so vinnig as moontlik uit Potchefstroom uit weggekom, terug Kroonstad toe.
In my verbeelding hoor ek nou nog al die meisies lag. Al verskil is - nou lag ek darem saam.
Riaan Coetzee
Kopiere
19 Junie 2020
Kopiere
19 Junie 2020
Comments