Dag 77 van die grendelstaat
Ek was in Brooklyn Mall gewees.
Net 'n vinnige deurstap, meer net omdat ek nuuskierig was om te sien hoe dinge daar lyk. Ek was voor die inkerkering begin het laas daar.
Dis moeilik om dit te beskryf. Hartseer? Somber. Makaber. Fiasko. Onuithoudbaar. Ek weet nie werklik nie, al wat ek weet is dat ek nie kon wag om daar uit te kom nie.
Daar is heelwat winkels oop vir besigheid. Maar grotendeels meer personeel as klandisie. Hoe hulle met daardie hoeveelheid voete selfs net die maand se huur gaan dek is vir my 'n raaisel. Ek twyfel sterk of daar tien persent van die gebruiklike Sondag besoekers was.
Die meeste wat jy kan doen is 'n wegneem koffie koop by twee plekke. Die hele spul eetplekke is verder toe soos 'n klei-os se gat. Duidelik het hulle die somme gemaak en besluit dit maak geen sin om oop te maak in die hoop om 'n paar wegneem etes te probeer verkoop nie. Ek wonder hoeveel van hulle gaan weer oopmaak vir besigheid na hierdie fiasko. My vermoede is dat goed die helfte gaan verdwyn.
Die maskers het ons hele optrede oorgeneem. Mense se lyftaal lyk moeg en gatvol. Niemand wil ander in die oë kyk nie. Almal is afgesonder van mekaar, fisies en emosioneel afgesny van mekaar deur maskers. Dit lyk soos 'n hartspesialis konfensie, almal lyk soos dokters. Baie bekommerde dokters.
Die nuwe normaal is verpestelik.
Vandag in 2006 word Madalitso Muthiya die eerste Zambiër wat in die roemryke VSA Ope Golftoernooi speel. In 1929 wen die Nasionale Party die verkiesing. In 1986 word die Magoo's Kroeg uitmekaar geruk deur 'n kragtige bom. In 2005 word Adjunk President Zuma afgedank deur President Mbeki.
14 Junie is Amerika se Vlagdag, wat die amptelike dag in 1777 herdenk waarop Kongres die huidige ontwerp goedgekeur het en die alombekende Stars and Stripes gebore is.
Almal ken die ongelukkige verhaal van die Bounty. Vandag in 1789 kom Kaptein Bligh in 'n klein hawe in Timor aan op die klein bootjie waarop hy toegelaat is om sy eie skip agter te laat toe die bemanning gemuit het. Hy en 18 van sy bemanning was amper 7 weke lank in 'n oop skuit op die oseaan en het amper 4000 seemyl afgelê voordat hulle Timor bereik het.
Die mense wat sederdien die naaste daaraan gekom het om hulle groot dors te verstaan was Suid Afrikaners in die grendelstaat tydperk in 2020.
In 1940 marsjeer die Nazi weermagtroepe Parys binne. In 1951 in Philidelphia word UNIVAC gedemonstreer deur Dr John Mauchly en J. Presper Eckert Jr. Dit was die wêreld se heel eerste kommersiële rekenaar. In 1982 gee die Argentynse weermag in die Falkland Eilande oor aan die Britte. In 2005 neem Chechen rebelle tweeduisend gyselaars in 'n hospitaal in Rusland.
Het die wêreld toe maar geweet dat 'n virus 15 jaar later al sewe biljoen van ons gyselaar sal hou het ons waarskynlik almal uitgewyk Mars toe.
Tussen die lyne deur verneem ek dat 'n baie bekende buiteband vervaardiger die maatskappy se naam gaan verander.
Vanaf 1 Julie staan hulle glo bekend as Fucking Shit Year.
Riaan Coetzee
Kopiereg
14 Junie 2020
Kopiereg
14 Junie 2020
Comments