Dag 92 van die grendelstaat

Gaan dit ooit einde kry? Hierdie gekkeparadys.
Gaan ons ooit weer voel of ons selfs net in 'n semi normale wêreld leef.
By die dag voel dit meer en meer of Mars regtig 'n goeie opsie word.
Dis maskers heeldag en al wat jy in die media en sosiale gevoer word is Corona vrees statistieke en nog regeringsflaters en diefstal. Dis net grafieke en statistieke oral waar jy kyk - kry tog net jou sake in orde want ons gaan binnekort almal in ons moere wees! En as Die Corona jou nie kry nie gaan jy in elk geval oor 'n dekade jou gat sien as aardverwarming die einde van die mensdom met trommegeroffel realiseer.
Dis Karen's oral wat die bestuurders wil spreek en die ewige vrees om tog net om Vadersnaam nie iets te sê wat iemand gaan aanstoot gee en 'n woedende reaksie ontlok nie wat mens meer oor jou skouer laat loer as omkyktwak in die 80's toe dit nog streng taboe was. En fok weet, alles gee aanstoot. As jy jou bek oopmaak is iemand alreeds kwaad vir jou voor jy nog 'n enkele woord besig. As jy skuins kyk, as jy jou masker dra, as jy nie jou masker dra nie, as jy links in die politiek is, as jy regs in die politiek is. As jy neutraal in die politiek is, is jy ook in die moeilikheid by iemand.
Dit is springety in die outrage poel!
Om heeltyd de moer in te wees oor iets is hoogmode. As jy nie deel is van die kwaad kaskenades nie is hulle kwaad vir jou.
Dit laat my verlang na die dae toe ons net gestry het oor mullet haarstyle en of eiergele sleg is vir jou.
Ek dra my masker net om te verseker niemand sien as ek my mond oopmaak nie. Dit verhoed hopelik dat ek iemand aanstoot gee. Netnou wil iemand met my bestuurder praat.
Nie dat dit help nie, noudat ek daaraan dink. My bek is so glad dat mense gereeld my bestuurder wil spreek. Wat hulle gewoonlik eers te laat besef is dat my bestuurder net nog een van my onsigbare vriende is. Dit help nie om hulle te kalmeer nie.
Die reserwebank beweer ons ekonomie het 'n 30 persent inkrimping beleef in die tweede kwartaal van 2020. Dit beteken basies ons kanse om van honger dood te gaan het ons kanse om van Die Corona dood te gaan verbygesteek en maskers en geveinste outrage oor alles gaan dit waarskynlik nie keer nie.
Maar nêrens sien ek grafieke daaroor nie.
Riaan Coetzee
Kopiereg
31 Junie 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf