Dag 88 van die grendelstaat
Om springhase te jag sit nie in elke man se broek nie.
Veral nie as jy hulle wil inhardloop nie.
So kuier ons een langnaweek baie jare gelede saam met Bruce hulle op die familieplaas doer anderkant moerlandspan. Hulle familieplaas. Daar is beeste en meer rooibokke as in die wildtuin. Elande, blouwildebeeste, koedoes. Vlakvarke. Die klas van goed. Dis mooi boswêreld, en mens ontspan so lekker.
Een vroegoggend word ek wakker met 'n vreeslike vol blaas en besluit om in die bos te gaan water afslaan en die badkamer 'n ruskans te gee. Dis so donker soos die binnekant van 'n walvis, maar die sterre is absoluut wonderlik. Ek stap liggies uit sodat ek niemand wakkermaak nie, en kies koers seker so 'n stuk of 30 meter die veld in.
Ek kry my staan lekker reg en haal die nodige uit om die nodige te doen. Jy weet mos. En net toe die water afslanery op sy lekkerste begin raak druk 'n donnerse swart koei haar snoet hier van agter af teen my arm vas en sê liefderyk - Moooooooooo.
Skielik is die bos vol lewe. Histeriese lewe. Ek, om presies te wees, wat gil soos 'n histeriese speenvark wat deur 'n luiperd gelek word. Ek piepie die bees nat, my voete, die naaste sterre, my ego en 'n arme naguiltjie wat net 'n onskuldige bystander was. Almal kom uit hulle kamers uitgestorm met groot ogies om te kyk wie is deur 'n luiperd gevang.
Die bees is so bly dat daar lewe is dat sy net staan en my arm lek. Ek gee haar sommer 'n klap van bemoerdgeid en strompel badkamer toe om maar te stort.
Drie dae later, na 'n paar Old Brown Sherries, besluit ons om die stokou Jeep te vat en te loop kyk vir springhase. As ons kry eet ons haaspastei. Die Jeep was oud genoeg dat hy waarskylik twee-twee saam met Noag hier beland het. Geen deure, die remme moet jy al begin trap sodra jy wegtrek om te probeer verseker daar gaan iets gebeur teen die tyd wat jy moet stop, en die stuurwiel het soveel speling op dat jy hom selfs op 'n reguit stuk pad 180 grade heen en weer sit en speel net om in die pad te bly. Maar hy loop, dis al wat tel. En sy ligte werk so jy kan in die nag ry. En daar gaan ons, ek en hy voor, hy bestuur, die vrouens agter met komberse en flitse en OBS.
As ons ogies sien is ons sommer veld in, agter hulle aan. Dit was ook nie lank nie toe roer ons die Jeep in die veld rond en 'n springhaas kies koers hier voor ons uit. Ons jaag hom in. Dit was 'n wonderwerk dat ons dit kon regkry, maar ons het. Toe die haas hier ongeveer aan my steelkant hardloop skree Bruce ek moet uitklim en hom vang.
Ek maak toe presies net so. Maar ek is nie totaal onnosel nie, ek het daai een keer baie mooi opgelet in die klas toe Klein Koos ewe kordaat agter by die Samil 50 afspring om ons te probeer wys hoe koel hy is. Sy idee was om te spring en dan so 'n windgat saluut in ons rigting te stuur. Dit was nie 'n heeltemal slegte idee nie, totdat gravitasie ingemeng het. Toe Koos weer sien sleep sy neus sulke spore deur die teerpad. Agterna het dit gelyk soos 'n bloederige stuk broccoli op sy bolip. Ek leer vinnig as ek wil, so ek begin al in die afklim hardloop dat die wind so 'n effense huilgeluid deur my beenhare maak.
En dit werk wragtag - my voete vat grond langs die Jeep en ek is in aksie! Ek hardloop! En ek hardloop so lekker dat die springhaas oor sy skouer begin loer en jy kan duidelik in die wit van sy haasogies sien dat hy ook al begin dink aan haaspastei. Bruce swaai daai stuurwiel van bakboord na stuurboord soos hy poog om my mis te ry.
Miershoop.
Die volgende oomblik plant Moeder Natuur 'n miershoop reg waar my regtervoet moet grondvat. Ek skop 'n gat in die ding maar hy staan asof hy geplant is. My voet kom binne 'n breukdeel van 'n sekonde tot stilstand. Soos julle behoort te weet beteken dit basies jy het nou groot probleme want die res van my lyf hardloop nog teen tempo erg agter die bekommerde haas aan. Maar dit hou nie lank nie want soos die voet skielik stilstaan swaai ek agter die ding aan soos 'n tol en bliksem daar neer op volle galop.
Bruce het amper sy voorarms verstuit soos hy die stuurwiel moes werk om nie oor my te ry nie. Ek het egter nie opgelet nie want ek was te besig om bloed te skenk. Ek val my binne in my desmoerse in dat hulle my moet kom ophelp en OBS voer.
Ja dis 'n erkende mediese behandeling julle lyk verniet so verbaas. Toe drink ek maar van jammer voel vir myself so baie OBS dat ek eers die volgende middag weer onthou het om kruppel te loop.
Ons het toe maar vleisgebraai.
Riaan Coetzee
Kopiereg
26 Junie 2020
Kopiereg
26 Junie 2020
Comments