Dag 89 van die grendelstaat

Die bobbejaan wat toe nie kon swem nie.
So kuier ons een paasnaweek op 'n reuse groot wildsplaas by vriende. Insoverre dit wegbreke uit die stad aanbetref was hierdie een topklas gewees.
Een oggend terwyl die son sy kop uitsteek om vir die bos te loer trek ek my stapskoene aan en kies koers in 'n rigting in. Ek het seker 'n goeie driekwartuur gestap toe ek besluit hierdie is 'n aanvallige plek om sommer net te sit en vir die bos te luister. So gesê, so gedaan. Ek sit nog so toe een van my stemme vir my fluister dat iemand of iets my dophou.
Julle al daai gevoel gehad? Ek sit roerloos en fokus net op wat om my aangaan en word inderdaad bewus van 'n beweging agter my. Stadiger as 'n trapkar in 'n Formule Een ren draai ek my kop om te probeer sien wat dit is. Dit was nogal 'n kommerwekkende paar oomblikke want vir al wat ek weet was dit iets met 'n bek vol tande! Dit is toe al die tyd 'n koedoebul. Maar hy is groot, sy horings lyk soos die rugbypale op Loftus want hy staan letterlik twee meter weg van my af. Ek en die koedoe kyk vir mekaar in 'n gewyde oomblik van wedersydse respek, en ek veg teen die oorweldigende drang om te sluk en my oë te knip. Die koedoe herkou aan iets en wonder vir wat traan die ou se oë so. Sy reuse ore swaai heen en weer soos radars. Daai kop swaai liggies heen en weer op sy gespierde nek terwyl ek sukkel om weg te kyk van die groot stel horings af. Ek hoop nie hy het al gehoor van sosaties nie. Ons besigtig mekaar, ek in stille verwondering vir hierdie manjifieke dier wat feitlik reg agter my kom staan het.
Toe kon ek net nie meer nie en knip my oë. Ek wou improviseer en hulle een vir een knip. So ek begin stadig maar seker my regterkantste ooglid sak in wat vir die koedoe moes gelyk het na 'n orige oogknip van 'n ongewenste aanhanger. Toe my oog toe is besluit die koedoe hy het genoeg gesien want wat volg na die oogknip? Soentjies?? Hy vlieg daar om dat die sand en klippies tot teen my spat en verdwyn die bos is soos 'n skim. Een oomblik was hy daar, die volgende oomblik was hy weg.
Nes mense se geld by VBS bank.
Wat 'n ongelooflike ervaring. Nie die bank storie nie, die koedoe!
Een oggend ry ons die plaas vol en inspekteer heinings en al die sementdamme. Die bobbejane rig groot skade aan by die damme want hulle ontsien niks. By die tweede of derde dam wat ons stop kry ons toe 'n probleem. Nou kyk, die dam is rond, soos dit mos maar is op plase, en sy muur is 'n goeie twee meter hoog en omtrent 15 sentimeter dik. Die boer het by elke dam 'n kontrepsie opgesit wat die bobbejane die geleentheid gee om uit die dam te ontsnap indien hulle sou inval. Dit basies net 'n lang, swaar stuk boomtak wat hy bo vasgemaak het en wat teen ongeveer 45 grade tot in die water hang. Maar ons merk toe dat die heel weg is, so ons klim op om te kyk wat aangaan.
En daar dryf die tak op die water, reg langs 'n moerse groot bobbejaanmannetjie. Dalk selfs die tropleier. Dood soos 'n mossie, versuip. Hulle het so wild gespeel dat hulle die einste tak wat hulle moes red in so 'n situasie afgebreek het, en hy het reg langs dit versuip.
Die bobbejaan moet uit, hy kan nie daar in die water lê en vrot nie. Dit sal nie deug nie. So ons sit koppe bymekaar en kry bloudraad in die hande om 'n strop te maak met 'n lekker lang handvatsel van 'n tak wat ons opgetel het. So staan ons en balanseer baie versigitg op die dam se muur doer in die lug en kry uiteindelik die stop om die bobbejaan se nek. Hy word versigtig nader getrek sodat ons hom kan ophys.
Broer, so 'n volgroeide mannetjie kan maklik 40 kilogram weeg, en met die helfte van die dam se water in sy lyf voel dit soos 'n halwe ton. Dit gaan broekskeur om daai kêrel tot bo te kry, so toe ons dit uiteindelik regkry lyk dit of ons sopas 'n vinnige 5 kilometer gehardloop het.
Ek vat sy arms vas om hom gedraai te kry sodat ons die strop van sy nek kan afhaal, toe druk sy maag seker te hard teen die sement en daai bliksem breek 'n wind. Dis so 'n waterige wind wat herinner aan 'n baie nat poep, en hy vrot erger as 'n leeu se asem. Ek weet hoe ruik 'n leeu se asem.
Ek skrik my so buite weste dat ek bo van daai muur afspring en tussen die doringbosse te lande kom onder. Ek wil so graag braak dat ek skoon vergeet om dadelik te bloei. Daai reuk is in 'n ander klas! My vriend staan op die wal en lag so dat hy ook sy balans verloor en afmoer. Toe is dit my beurt om te lag.
So sit ons op ons knieë en vee die stof en bloedstrepe af en lag vir mekaar. Meer uit medelye op daardie punt, en ons vloek daai bobbejaan dat hy, indien hy nog geleef het, oortuig sou wees ons praat vlot Aramees.
Toe ons uiteindelik sover kom op op te staan en ons te verwonder dat ons enkels dit gemaak het, trek ons hom daar af, gooi hom agter op die bakkie en loop sit hom 'n ent verder neer sodat die jakkalse en ander aasdiere hom kan versorg.
Daai dag het 'n bobbejaan uitgevind jy kan hoe groot en windgat wees, as jy nie kan swem nie is jy in jou moer.
Riaan Coetzee
Kopiereg
27 Junie 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf