Dag 90 van die grendelstaat
Beertjies vir sosiale afstand!
In Parys het 'n restaurant met 'n sin vir humor besluit om groot teddiebere te gebruik om sosiale afstand te verseker tussen hulle aansit kliënte.
Ek sou een huistoe vat, ek het nog altyd 'n ding vir teddies. Ek bedoel teddiebere! Wel, teddies ook. Maar laat ons nou nie afdwaal nie.
Dit herinner my aan 'n goeie ou verhaaltjie oor bere.
Eendag lank, lank gelede was daar 'n beer. Hy was vreeslik aantreklik, met 'n 6 pak en gespierde bo-arms en 'n groot Jeep. Hy was nogal eensaam Nadat hy eendag 'n hele spul biere saam met Rooikappie en haar Ouma deurgewerk het, het Rooikappie hom oortuig om aan te sluit by die woud se aanlyn webwerf vir eensames - www.vindjoudiertjie.brul.
Dit was nie lank nie toe stroom die aanbiedinge in maar die een het sy beer oog dadelik gevang. Amper 8 voet as sy op haar agtervoete staan, die langste naels wat hy nog ooit gesien het, pragtige gebit, blink pels, harig soos dit hoort en 'n neus wat 'n beer agter 'n bessiebos kan uitruik.
Hulle het dadelik gereël om bymekaar te kom by Tigger se Sportkroeg agter Feëtjieland se Spaar. Die twee het dadelik aanklank gevind bymekaar en kort voor lank moes Tigger hulle vra om eerder huistoe te gaan want die mengsel van verliefdgeit en heuningbier het die twee heel orig laat raak. En jy weet as twee bere orig raak gaan jou kroeg daaronder lei.
So is baba beertjie gebore, ongeveer 220 dae later. Pragtige ou dingetjie, so 'n harige gevreetjie en hy maak sulke beergeluidjies as jy sy pensie krap.
Pappa, Mamma en Baba bere het vreeslik lekker gebly in die bos. Baba was goed bevriend met Winnie en Piglet en hulle het gereeld lekker kak aangejaag saam met die 3 varke. Dan mos Pappa beer maar poot inlê om dissipline te handhaaf.
Een grou, reënerige dag het dinge egter drasties verander. Die 3 bere was Feëtjieland Spaar toe om proviand te gaan koop en toe hulle terugkom sien hulle dat die voordeur oopstaan.
Pappa beer wys dadelik hulle moet terugstaan, haal sy .44 Magnum met 'n 12 duim loop uit sy rugsak uit en stap versigitg nader. Nadat hy hulle huis takties deurgewerk het en bepaal het alles is veilig wink hy vir Mamma en Baba beer nader.
Hulle is NIE vol glimlaggies nie!
"Wie het my Pronutro gevreet?" gil Baba beer ontstig.
"Wie het die televisie van die sepies kanaal verander?!" bulder Mamma beer ontstig.
"De f...!" brom Pappa beer uit die lapa area, "wie de donner het my Kubaanse sigare in die bier laat val, vandag vermoor ek iemand!"
Die hele beer gesin se dag is omgekrap. Alles kan min of meer hanteer word maar die kind se pap, ma se sepies EN pa se sigare?! Nee regtig!
Hulle roep dadelik die Bos Polisie. Dit was nie lank nie toe hoor hulle Pee Poo Pee Poo Pee Poo soos Sersant Shrek aangejaag kom met sy nuwe vangwa.
"So, wat het gebeur?" vra Shrek vir Pappa. Mamma beer begin huil en Baba beertjie gooi 'n vloermoer wat skrik vir niks.
"Jy beter hulle vang Shrek" brul Pappa beer boosaardig. "My sigare is vernietig, my vrou kan nie vanaand haar sepies kyk nie en my kind is honger! Iemand moet boet hiervoor!"
"Geen pyne ou maat" reken Shrek, "kom ons sit by die eetkamertafel sodat ek net jou verklaring kan afneem. Prosedures jy weet."
Hulle gaan sit, Mamma beer maak koffie en Baba beertjie vloermoer nogsteeds want hy is honger.
Shrek kyk vir Pappa beer en vra "So wie gaan die verklaring skryf?"
"Jy, ek kan nie skryf nie ek is 'n beer onthou" reken Pappa beer hom.
"Wel ek is 'n mitiese karakter in 'n fliek, ek kan ook nie skryf nie!" se Shrek. "Mamma beer, kan jy die verklaring neerskryf?"
"Hoe?" vra Mamma beer. "Ek het nie opponerende duime nie, ek is 'n beer!" sug sy. "Dalk moet Baba beertjie sy deel doen?"
"My vrou, die kind was nog nooit 'n enkele dag in die skool nie, de moer verwag jy hy moet skryf?" vra Pappa beer vreeslik iesegrimmig.
So sit hulle en koffie drink om die eetkamertafel en bepeins die probleem. Na vele koffies is Shrek maar terug hoofkantoor toe, Mamma beer het 'n slaappil gevat en loop lê, Pappa beer het oorgery na Tigger se kroeg toe om sy kwaadgeit met bier te versuip en Baba beer het agtergekom niemand steur hulle aan hom nie, besluit om sy eie rigting in te slaan en het uiteindelik, jare later, 'n hoofrol in 'n fliek oor 'n kind wat deur wolwe grootgemaak word losgeslaan.
En tot vandag toe weet hulle nie wie was in hulle huis nie.
Riaan Coetzee
Kopiereg
29 Junie 2020
Kopiereg
29 Junie 2020
Comments