Dag 99 van die grendelstaat

Uit. Ek wil uit en in die bos in my houthut loop afpak langs die pragtige meer en net na die voëls en wolwe luister.
Ek wil net afskakel van al die chaos en kanselleer kultuur en galbrakery en grafgrouery en afknouery en vrees.
My siel smag na vrede en rus en hernuwing.
Ek wil die kilometers lange vervalle grondpad ry met my tweedehandse 4 x 4, gepak met proviand, visstokke, my slaapsak, my verkyker en kamera, genoeg koffie en 'n paar bottels enkelmout whisky. En my gunsteling kampstoel.
Ek wil voel hoe die woud my omsingel en die waarneem hoe die geraas van die beskawing stelselmatig verdwyn.
Die grondpad kronkel stamperig al dieper en dieper die woud in, teen berge op en in dale anderkant weer af. Uiteindelik sien ek die meer waarna ek smagtend op soek was vandat ek van die hoofpad afgedraai het glinster doer onder in die vallei in die laatmiddag son. Ek is kilometers ver weg van alles en almal hier, en die laaste selfoonopvangs was neffens die laaste dorp waar ek gestop het om ekstra vleis te koop, want ek is honger en 'n man wil vanaand onder die sterre braai.
Daar op die oewer van die meer met sy kristalhelder water en hout pier wat in die water instrek, lê my pragtige houthut.
Knus versteek in die skadus van oorhangende rooi esdoorn, berk- en wit dennebome met die stoep wat uitkyk oor die meer en die ongerepte woud en berge op die oorkantste wal, het ek jare gelede vir my 'n houthut gebou. My wegkruipplek as my siel smag na vryheid.
Ek stop in die laaste skadu van die dag en dra haastig al my saamrygoed uit na die hut toe. Dis nie groot nie, 2 slaapkamers met 'n oop leefarea, 'n badkamer agter, en 'n lieflike stoep met 'n houtdek voor. Ruwe, swaar houtmeubels. Ek het 'n klein boma net weg van die hut gebou waar mens veilig vuur kan maak en dit is ook waar die meeste etes voorberei word.
Uitstekende tydsberekening! Net toe die son sy laaste knipoog oor die berg gee, vat my vuurtjie en ek voel hoe die behaaglike hitte op my vel kom neersyg. Ek steek gou 'n lantern op en berei die vleis voor terwyl ek 'n whisky geniet op my vryheid.
Om my word die woud se nagbewoners wakker.
Witstertherte maak hulle diep kwaakgeluide terwyl hulle horings takke in die woud breek waar hulle loop. Tussenin uiter hulle amper belaglik fyn blaasgeluide wat nogal klink na iemand wat sy neus blaas. Op die oorkantste wal is 'n swartbeer besig om kos te soek. Ek hoor sy hees blaasgrom roep soos wat hy met homself loop en gesels. Hy klink ietwat moerig. Ek is nogal bly ek is aan hierdie kant van die meer, alhoewel die kanse uitstekend is dat hy deur die nag sal kom kyk of hy iets te ete kan kry.
Op die dak van die hut sing 'n nagtegaal vir my sy konsert om my welkom te heet. In die gloed van die vuur vang ek net 'n haastige blik van 'n skuuruil wat laag oor my swiep. Sy roep klink nogal na iemand wat histeries raak. Hopelik histeries oor 'n muis, dit sal so gepas wees. Dis sekerlik een van die broeipaar wat hier agter die hut in 'n reuse esdoornboom bly. Hulle het al verskeie kleintjies daar grootgemaak oor die tyd vandat ek daar begin afpak het.
Ek braai 'n paar heerlike stukke vleis en eet my trommeldik. Daarna dra ek alles binnetoe en maak doodseker die area is skoon en alles word behoorlik toegemaak - hier is gereeld nuuskierige Lynx Rufus katte (bobcat) wat kom inloer deur die nag en elke dan en wan 'n swartbeer wat kom kyk of hy gelukkig raak as ek onverskillig is.
Dis redelik laat toe ek uiteindelik klaar is met my gewerskaf. Die woud konsert in 'n kakofonie van naggeluide. Derduisende krieke tjirrrrrrrrr oral om my. In die verte blaas nog herte wat vir mekaar slaaptydstories vertel. Nagvoëls voeg hulle helder stemme by die kriekekoor. Dis amper oorverdowend, maar tog so absoluut lawend. Die vuurtjie is nou straks net 'n laaste paar kole wat heldhaftig poog om nog net 'n laaste bietjie gloei in te kry.
Bokant my glinster die hemelruim met miljoene sterre wat lyk of hulle so laag hang dat jy letterlik jou hand kan uitreik en aan hulle vat. Die meer se water kabbel rustig teen die klippe op die wal en 'n ligte briesie suis deur die bome om my.
Eerste ding sodra die son sy kop uitsteek gaan ek visvang, sommer net daar van die hout pier af.
Maar nou gaan ek inkruip.
My siel glimlag.
Ek is tuis.
Riaan Coetzee
Kopiereg
9 Julie 2020


Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf