Dag 101 van die grendelstaat
Soos kindertjies wat getugtig word deur ouers wat jou nie lief het nie.
Dis hoe dit voel elke keer as 'n verfokte, korrupte, magsbehepte, liegende spul politici ons Covid toutjies trek en wipplank speel met ons emosies en inkomste. Lank reeds word gedreig met die wegneem van drank nadat dit weer toegelaat is.
Gedra julle of ons vat julle X boksies weg hoor. Ons weet wat ons doen, julle aan die anderkant, is dom en het ons nodig om julle te lei.
Dis dieselfde lot politici wat oor net meer as 'n kwarteeu hoeveel honderde biljoene gesteel het. Dis dieselfde politici wat eersdaags julle pensioene gaan begin stroop om nog grandiose, ondeurdagte planne wat opgedis word as hulle volgende groot oorwinning, te finansier. Dis dieselfde politici wat hierdie pandemie gebruik om volstoom voort te gaan om meer biljoene te laat verdwyn.
Hulle trek ons toutjies soos hulpelose marionette. Kyk hoe red ons julle van die virus.
Deur julle te keer om drank te koop. Deur julle te keer om julle familie en geliefdes te sien. Deur julle te keer om inkomste te verdien. Maar wat te donners bang is vir taxi base om dieselfde hardegat houding met hulle in te neem.
Ek weet wat jy gaan sê oor die virus. Die argumente is na al die maande al holrug gery. Nee ek wil niemand laat sterf nie. Hou jou in. Maar ek wil ook nie mense laat sterf van wanhoop en ander verwante probleme wat vloei uit 'n ekonomie wat reeds gebreek was voor Covid nie. Gebreek deur hierdie selfde spul politiese adders wat hulle reuse salarisse getrou ontvang, aandring op verhogings, en nou ons toutjies ruk en pluk na hartelus. Wat agter geslote deure konkel om hierdie Corona Command Council of wat hulle hulleself ookal noem as die oppergesag van die land te vestig. Daardie politici.
Dalk as al hierdie absurditeite gekom het van 'n regering wat nie oor en oor bewys presies hoe diep hulle minagting vir hulle eie landsburgers strek nie, sou dit beter afgegaan het. Sou dit minder van 'n bitter pil gewees het om soos stout kindertjies oor die vingers getik te word.
Sien, dis die onderliggende probleem. Die absolute gatvol wees hiervoor is daar ja. Maar die feit dat die situasie afgedwing word deur 'n regering in wie dit onmoontlik is om enige vertroue of erns te hê steek dwars in mens se krop.
Dis onmoontlik om te dink dat politici wat 26 jaar lank net in hulle bankrekeninge belangstel, en in magsvergrype, skielik hierdie pandemie op enige redelike wyse bestuur. Hoe? Hulle is steeds besig met hulle onderlinge gevegte om seker te maak hulle bly in hulle magsposisies. Dis hulle grootste dryfveer. En as 'n nagedagte word daar gepoog om dit te laat lyk of hulle 'n greep op die pandemie het. Regtig? Hulle treurmares oortref hulle suksesse op so 'n skaal dat dit lagwekkend sou wees as dit nie so diep getref het nie. Maar ons moet sterk staan en glo hulle weet wat hulle doen met Covid, ons moet dankbaar wees as ons reeds gebreekte ekonomie onherstelbaar verkrag word, ons moet ons maskers opsit en glimlag.
Dis nie ons skuld nie, aldus politici, en 'n staatshoof, wat oudergewoonte geen verantwoordelikheid vir niks vat nie. Dis julle skuld, julle stoute wettertjies wat ons onderdane is.
Nou vat ons maar julle X boks weg. Laat dit vir julle 'n les wees.
Ek dra my masker. Want ek moet.
Maar onder die ding is daar geen glimlag nie.
Riaan Coetzee
Kopiereg
12 Julie 2020
Kopiereg
12 Julie 2020
Comments