Dag 104 van die grendelstaat

Die Formule Een wedren met die kinkel in die kabel.
Ek is gek oor motorsport. As 'n ding wiele het en jaag wil ek loop kyk. Of dit nou op grond, sand of teer is. Bo-aan hierdie lys is Formule Een en Dakar. Beide volg ek al so lank as wat ek maar kan onthou.
Destyds het SA ook nog die bekende toermotor reeks aangebied met Giniel en Terry en Sean en Deon en Chris Aberdein en natuurlik Sarel. Ek het selfs so ver gegaan om sekuriteit by Kyalami te loop doen vir ekstra geld - en om tussenin die karre te wees. Meer later daaroor,
Die laaste Formule Een wedren wat ek in lewende lywe gaan kyk het was hoeka op Kyalami in 1993. Ek en my neef Anton, ook 'n groot motorsport man.
Dit was 'n groot storie gewees. Jy kon glad nie naby die plek parkeer nie, so daar was oop velde oral ge-allokeer vir parkering en dan is almal met munisipale busse ingery baan toe.
Ons het op die pawiljoene by die Crowthorne draai gesit, en glo my, die hele Kyalami was gepak soos sardientjies. Die manne met hulle VW Golfs met die uitlaatpype wat lyk soos kanonlope was ook daar, waarskynlik om aanvanklik iets te leer by manne soos Senna en Prost. Nader aan die einde van die ren, na al daai bier, was dit eerder hulle wat advies uitgedeel het aan die jong Schumacher. Jy weet mos hoe werk manne met lawaaierige Golf 1 gevaartes.
Dit was 'n reuse suksesvolle dag, die geluid van 20 of meer Formule Een motors wat wegtrek is iets wat jy nie vergeet nie. Prost in sy Williams het gewen, met Senna tweede en Blundell derde nadat Schumacher afgetol het. Riccardo Patrese met sy Benetton-Ford het reg voor ons afgetol en teen die heining tot stilstand gekom tot groot vermaak van die bier deurdrenkte toeskouers.
Maar die grootste opwinding was voor die hoofren begin het.
Daar slaan toe hierdie aanvallige meisie uit wat met vakansie in SA was saam met twee sulke hippie tipe kêrels. Uit Swede of iets dergeliks. Een van die Nordiese lande, maar hulle was nie Wikinge nie. Wikinge kon hulle drank hanteer en daarna nog sommer vir die grap 'n stad oorgeneem en die koning se vrouens as slawe geneem het. Die drie het nie sover gekom nie.
Hulle is jolig, duidelik op die vliegtuig al besluit hulle gaan hierdie SA vakansie vir lank onthou. En sommer 'n vinnige Formule Een ren inwerk. Die meisie hang op almal se skouers rond op die pawiljoen. En sit op die manne se skote - maar sy werk met 'n plan. Hulle soek drank want hulle het niks gebring nie. Jy kan nie glo hoe daai Sweedse aksente op daai meisie die Boere se harte laat oopgaan het nie. Die manne deel hulle drank so vrygewig dat mens skoon 'n knop in die keel kry om deel te wees van so 'n omgee skare mense.
Dit het dus nie te lank geneem nie toe is daai drie Sweedjies stukkender as 'n pantoffel wat deur 'n Rottweiler gekou is. En sy is so braaf dat sy aanbied om haar klere uit te trek vir nog drank.
Nou, soos goeie opgevoede mense het ons almal haar eers probeer keer.
Goed, goed ek lieg! Ons het haar luidkeels aangemoedig!
Dit was ook nie lank nie toe waai daai laaste stukkie lap en daar staan ons Sweedse toeris poedelnakend op die pawiljoen. Nie eers Senna het so 'n groot toejuiging gekry toe hy daar verby is nie. Manne kom van die losies aan die binnekant van die baan aangeharloop met kameras met lense wat lyk soos teleskope om ook foto's te neem! Die meisie dans die pawiljoen vol en sit op almal se skote en vertel ons van Swede.
Al wat ek regtig van Swede onthou is dat hulle mooi borste het.
Dit was egter ook die vroeë 90's so kort voor lank storm daar 'n polisie aanvalspan op ons pawiljoen agter 'n vreeslik ontstoke Kaptein aan. Ons vermoed hy was maar net moerig omdat sy nie op sy skoot wou sit nie.
Hulle gryp ons Sweedjie aan die arms en begin haar afsleep na die vangwa toe. Maar hulle het nie besef dat vandag se Antifa sy oorsprong op 14 Maart 1993 op Kyalami neffens Johannesburg gehad het nie!
Ons bestook hulle met elke leë blik wat ons in die hande kon kry. En daar was baie leë blikke. En ja, hulle het 'n groot geraas ook gemaak. Daardie sêding het dalk ook daar ontstaan.
Daai polisemanne was hoogs ongelukkig gewees. Hulle wou nie die meisie arresteer nie, hulle wou saamkyk. Maar die Kaptein het die trom geslaan, en nou moet hulle nog bontstaan want hulle het 'n oproer op hande. Dis ons dronk Sweedjie!
Hulle boender haar in die vangwa en raak toe bemoerd met ons en storm terug met traangas. Toe ons sien wat kom moes jy sien hoe vinnig sit ons skielik stil en tel blikke op om die pawiljoen netjies te laat lyk. Kaptein Kwaad dreig ons met teregstelling as nog een blik hom tref.
Kom daar so 'n verdwaalde stem uit die pawiljoen... Blik? Sem!!!
En daar storm hy maar kar toe. Ons was baie mismoedig dat ons ontkleedanseres weg was. Gelukkig het sy haar sjarme op hulle ook uitgehaal want omgeveer 15 minute voor die ren begin het kom laai hulle haar af met dreigemente dat 'n herhaling 'n nag in die selle sal beteken.
Dit was egter onnodig. Sy het net die helfte van haar klere aangekry toe sit slaap sy in die voorste ry, neffens haar twee hippie vriende wat toe alreeds omgedop het.
En so mis hulle toe hulle vakansie Formule Een wedren heeltemal.
Maar hulle sal nie die vakansie vergeet nie. Ons ook nie.
Riaan Coetzee
Kopiereg
15 Julie 2020


Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf