Dag 100 van die watsenaam.
Van Die dinges. Kakspul.
Grendelstaat.
Dit.
In die Wes Rand bestorm 'n horde swaar gewapende mense 'n kerk, skiet 5 mense en neem ander gyselaar. Blykbaar 'n geskilletjie tussen gemeentelede.
Corona tas beslis mense se breins aan.
Kon julle nie eerder net bidgroepies gestig het nie?
In Amerika wil lede van die kansellasie kultuur alle standbeelde wat hulle ontstig omruk en vervang met standeelde van Nicki Minaj. En ek sit hier sonder drank.
Fok.
In die Oos Kaap was daar motorfietse met sytente, nes karavane maar kleiner. Glo om Corona pasiënte in afgeleë areas te kon optel en uit te ry tot waar ambulanse hulle kon oorneem en hospitaal toe vat.
Ek het nog altyd vrae gehad. As jy siek genoeg is om te moet hospitaal toe, hoe oorleef jy 'n rit in 'n mobiele tweewieltentjie op slegte grondpaaie in die boendoes met 'n ou wat die ding ry wat waarskynlik in die week 'n minibus taxi bestuur? Waar gaan hulle 'n ambulans kry wat werk? Watter staatshospitaal gaan hulle jou heen neem, dis nou as jy beide die motorfietsie en die ambulans oorleef, waar jy 'n kans staan om gesond uit te stap?
Dit was 'n besliste resep vir 'n ramp. Gelukkig het dit nou deur die mat geval, die motorfietsies werk nie behoorlik nie en basies het iemand se nefie se oom net weer tien miljoen rand gesteel. Wat in die spesifieke geval so half 'n bedekte seën is synde dit vir 'n verandering lewens sal spaar.
Die premier van Gauteng is die derde premier wat positief getoets is vir Corona. Dit begin al duideliker blyk dat politici oor hulle skouers moet kyk, hierdie virus is lus vir hulle. Die virus het seker Suid Afrikaners se gesprekke oor hulle politici afgeluister.
Karen's veg steeds met almal om uiting te gee aan hulle inkerkering frustrasie en nydigheid oor daai haarstyl, standbeelde word omgetrek en beskadig, geld word gesteel, politici lieg as hulle monde oopgaan, ons braai in die aangesig van teespoed, ons mag net drank koop tot Donderdag, dit sneeu op plekke in SA, die see in die Kaap is so rof dat haaie begin inboek by gastehuise op die kus, ons mag steeds nie wettige sigarette koop nie, slegs onwettiges maar ons mag nie gevang word nie, daar is steeds meer mense aangekla van corona oortredings as skelm politici en regte kriminele, ons skel mekaar oor letterlik alles onder die son, ons naweke is saai sonder sport op televisie, ons groot vyand Eskom het weer sy donker kombers oor ons laat neerdaal.
Geen manier hoe Eskom sal toelaat dat Corona sy kollig steel nie.
Nee wag. Dis Eskom. Geen manier wat Eskom 'n kollig lank genoeg sal kan laat brand dat iemand kans kry om hom te steel nie.
Maar julle verstaan wat ek bedoel.
In 'n neutedop dus, het min dinge werklik verander sedert die grendelstaat begin het, behalwe dat ons almal waarskynlik etlike treë nader aan 'n gekkeparadys is.
Sela.
Riaan Coetzee
Kopiereg
10 Julie 2020
Kopiereg
10 Julie 2020
Comments