Dag 102 van die grendelstaat
Toe ek 'n baie jong laaitie was het ek per ongeluk in 'n gansdam geval.
Dit was in Namakwaland. Daai wêreld is Oupa Piet se geboorteplek, doer in Skaaprivier se omgewing. So loop kuier ons toe daar vir 'n paar weke en geniet onsself gate uit.
Die dag wat ons moet begin huiswaarts keer, loop groet ek eers ewe windgat die ganse by hulle dam op die werf. Dis 'n ge-arms swaai en voor op die wa wees want almal staan en kyk en 'n man moet mos 'n indruk maak. Die een gans mannetjie het my egter in 'n lokval gelei en hy storm my van agter af met 'n vreeslike geraas.
Ek draai om sodat ek hierdie gevaar manmoedig kan probeer trotseer - julle weet dis baie moeilik vir 'n klein laaitjie om 'n aanstormende kwaai gans in die oë te kyk as jou agterent sulke happe uit jou broek uit vat van benoudgeit. Maar ek probeer immers.
En slaag nie.
Soos die gans met my dans retireer ek om uit sy pad te kom, maar die blikskottel hou nie op nie. My vermoede is dat 'n hele vakansie se gesukkel met die stadskind nou oorgekook het en dat die gans besluit het om 'n voorbeeld van my te maak.
Ek retireer nog so verskrik toe is daar skielik niks agter my nie. Net water. Wanneer laas het jy mooi gekyk hoe lyk ganse se water? Hy is so 'n vuilgroen kleur, daar dryf verlore veertjies oral, en gans akkies, en dit ruik nie noodwendig vars nie. Dit laat skottelgoedwater heel uitlokkend lyk.
Daarbenewens kry mense dit net in die Bybel reg om op die water te loop. In Namakwaland werk dit nie.
Ek trap daai water dat hy so 'n skuimkop maak soos 'n koue bier, en toe doen ek my beste indruk van 'n agterstevoor duikboot lansering. Ek het so 'n verspotte helderkleurige hoedjie opgehad. Die grootmense reken dis al wat jy op die ganswater gesien het terwyl ek onder besig was met 'n onbeplande swemles.
Om dit interessanter te maak reken die ander ganse toe dis hulle kans, so toe my kop bo die water uitsteek en ek geskok probeer bepaal wat sopas gebeur het, toe kom die lot sommer vir my!
Gee 'n gans 'n kans se moer. Ek skree soos 'n maervark wat uitgesonder is om die Kersmaal te word en storm met my nat lyf uit daai vuil water uit dat die ganse dink hulle is midde in die jaarlikse blouwildebees migrasie in die Serengeti as hulle die Mara Rivier oorsteek. Die water spat amper tot in Pretoria soos ek aangaan. Selfs die ganse het beïndruk gelyk met my self reddingspoging.
Nodeloos om te sê was my gemoed uiters swaar, my seuntjie ego erg gekrenk en my moed in my skoene. Ma moes my eers loop skoonmaak en droeë klere aantrek.
Hierdie was 'n duidelike oorwinning vir die ganse.
Dit herinner sterk aan die situasie waarin ons huidig is. Die regering storm ons ook heeltyd van agter af terwyl ons aandag gevestig is op virusse, maskers, sosiale afstand, massagrafte en dies meer, en jaag ons tot binne in die stinkende moeras wat hulle die afgelope 26 jaar geskep het. Daar moet ons vervaard poog om nie te sink nie, terwyl ons naar-naar sluk aan al die kak wat op die water dryf.
Kwaak fokken kwaak.
Riaan Coetzee
Kopiereg
13 Julie 2020
Kopiereg
13 Julie 2020
Comments