Dag 75 van die grendelstaat

Suid Afrika se kaalbaskoning is oorlede.
Beau Brummel het in 1981 die heel eerste nudiste oord in die land oopgemaak. Nou kyk, die manne wat in daardie tyd in beheer was, het ernstig neergekyk op kaal enige iets.
Selfs 'n bekende tydskrif van daardie tyd moes sterretjies op strategiese heuwels plaas. Amper soos 'n militêre oefening - hulle wil ook altyd die strategiese heuwels beset en hulle eie sterretjies daarop plaas.
So Beau het 'n opdraande stryd gevoer. Mens mag tereg sê dat dit 'n besigheid was wat groot knaters geverg het. Hy het selfs een slag poedelnakend op televisie verskyn.
Verslaggewer "Dames en here, ons voer vanaand 'n onderhoud met Beau Brummel van die berugte Beau Valley nudiste oord.... uh, hallo meneer Brum... ooooh! Meneer! Klere, waar is jou klere?"
Beau " Hallo! Ek is Beau en dis my staf."
Verslaggewer "Staf???" Waar is hulle? Dis dan net jy.... aaaaaaaaah!!"
Beau "He he he he he"
Mag hy in vrede rus, staf en al.
Dit herinner my aan die keer toe 'n paar van ons hoogs onwettig Sandy Bay toe was. Dit was ons al 4 se eerste keer. Ons het met 'n weermag R-voertuig gery en die kabel ontkoppel wat die kilometers gery aandui sodat dit nie opgetel kon word dat ons privaat ook rondry nie. Ons parkeer toe die karretjie doer in die heel verste hoek van die parkering by Llandudno waar hy hopelik die minste sigbaar sal wees en staan en drink eers nog 'n bier terwyl ons redekawel oor hoe om nou hierdie staptog aan te pak strand toe. Jy stap eers 'n goeie kilometer of wat as ek reg onthou.
Terwyl ons wonder oor die reëlings kom hier 'n ou kaalbas sonbaaier verbygestap na sy kar toe. Hy het 'n handdoek oor die skouer en plakkies aan sy voete. Dis dit. Hy stap al swaaiend verby en groet vriendelik op die tradisionele Kaapse manier.
"Howzit!"
"Hallo oom! Are you came from the beach now?" vra een van ons vier waarskynlik sy domste vraag ooit.
"Jaaaa hey guys, it's kief, get there!" slinger hy oor sy skouer terug soos hy aanstaltes maak. Sy een oog kyk see se kant toe en die ander een bespied die berg. Watookal hy gerook het was duidelik sterk.
Toe spat die klere, dis tog duidelik hoe dit werk of hoe! En daar gaat ons, ewe nonchalant met slegs ons klein weermag uitgereikte bruik handdoekies oor die skouer en 'n koelkas om die bier koud te hou. Halfpad soontoe begin die wind waai. Maar hy waai soos die Kapenaars hom ken - erg kaalgat onvriendelik.
Ons is egter weermagmanne en taai reg? Natuurlik! So ons druk deur en kom op Sandy Bay se strand uit, teen die stroom mense in wat skielik baie haastig op pad is na hulle motors toe. Hulle het iets geweet wat ons gemis het. Maar ons kry 'n goeie plekkie en kry ons sit. Wat nie te moeilik was nie synde ons die hele plek teen daai tyd vir onsself gehad het.
En die wind waai. Die sandkorrels piets jou op plekke waar jy nie regtig gepiets wil wees nie. As die wind 'n gaatjie kry loei hy so dat die honde in Llandudno begin saamhuil. So jy durf nie buk om nog 'n bier uit te haal nie.
So sit ons seker 'n goeie 40 minute in daai wind en drink bier. Ons is op Sandy Bay manne - ons is hier! Uiteindelik besluit ons toe dis nou hoog tyd om terug te kom by ons versteekte R-karretjie, want selfs sulke rowwe manne soos ons begin nou traanogies kry.
Terug in die kar het ons 'n paar minute geneem om net seker te maak alles is nog daar.
Sandy Bay.
Wat 'n besnydenis.
Ek bedoel belewenis!
In die VSA wil Antie Pelosi nou glo hê alle ou oorblyfsels uit vergange dae wat aanstoot gee moet verwyder word uit die Capitol Building.
Ek merk daar is heelwat mense wat nou wil weet of sy gaan bedank.
Plaaslik wil ons ook graag 'n paar mense sien bedank.
Riaan Coetzee
Kopiereg
11 Junie 2020




Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf