Dag 71 van die grendelstaat
Dis vir my onmoontlik om nie op die 6e Junie oor die inval van die Geallieerde magte in Normandië te praat nie.
Desnieteenstaande verdere oorloë en gewapende stryde sederdien, is dit steeds onmoontlik om die oorweldigende skaal van die Tweede Wêreldoorlog heeltemal te verstaan.
Operasie Neptune, grotendeels bekend as D-Dag, was die afset van die ontsetting van Hitler se Festung Europa uit die kloue van die Nazis en het dus deel uitgemaak van Operasie Overlord. Die amfibiese landings op die 5 geoormerkte strande in Normandië was die grootste amfibiese landingsoperasie van alle tye.
Dit is voorafgegaan deur hewige grofgeskut bombardemente deur die vloot en lugmagte van verskeie betrokke lande asook die operasie om ongeveer 24000 Geallieerde valskermsoldate agter vyandelike linies neer te laat net na middernag op die nag van 5/6 Junie 1944.
Hierdie hoogs opgeleide manne is, gelaai soos die spreekwoordelike pakdonkies met wapens, ammunisie en ander voorraad die naglug in om intensiewe lugafweervuur te trotseer en daarna boonop die noodlot verder te tart toe hulle heeltemal hulle beplande landingsones gemis het.
Sowat 13 100 Amerikaanse valskermtroepe verbonde aan 82 en 101 Valskerm Divisies het daardie nag die donker ingespring, gevolg deur sowat 4000 wat die volgende dag met sweeftuie ingevlieg is. Die missie van die Amerikaners het onder andere ingesluit om die Duitsers te probeer keer om by Utah strand uit te kom waar die amfibiese inval net na ligdag begin het. Hulle het eers 3 dae later in hierdie doelwit kon slaag.
Die Britte se valskermsoldate van 6 Valskerm Regiment se doelwit het onder ander ingesluit om 2 baie strategies belangrike brûe by Caen te beset, en om de Merville Grofgeskut Battery van die Duitsers buite aksie te stel. Die kanonne daar sou groot probleme veroorsaak die volgende oggend wanneer die strande vol troepe sou wees.
Die Britse deel van Overlord was genoem Operasie Tonga. As gevolg van dieselfde veelvuldige probleme wat die Amerikaners oor wye gebiede laat versprei het, kon hulle slegs 'n klein persentasie troepe bymekaarmaak (160 in plaas van 600) om die Merville Battery aan te val wat gelei het tot swaar verliese voordat hulle uiteindelik die kanonne buite aksie kon stel. Troepe van die Oxfordshire en Buckinghamshire Light Infantry wat met sweeftuie neergelaat is, kon daarin slaag om die twee kritieke brûe oor die Caen Kanaal en die Orne Rivier te beset en die res eenvoudig opgeblaas. Hulle kon verder daarin slaag om 'n brughoof te vestig en hewige teenaanvalle deur die Duitsers af te weer totdat soldate wat deel was van die amfibiese inval by hulle kon aansluit.
Hierdie geharde valskermsoldate het dus 'n groot rol gespeel, deur absolute deursettingsvermoë en gewilligheid om die vyand aan te pak ondanks die oormag teen hulle, om die Duitsers se bewegings te verhinder en hulle te verhoed om alles te doen wat nodig was ten einde 'n suksesvolle teenaanval vroegtydig geloods te kry om die soldate op die strande letterlik terug die see in te jaag.
Net na 6 die oggend van 6 Junie het Duitse magte 'n spektakel sien verrys uit die see uit. Duisende skepe van alle grotes en tipes was skielik sigbaar, en op pad na hulle toe waar hulle in hulle vestings en loopgrawe waggehou het.
Om half 7 daardie oggend het die eerste Amerikaanse soldate voet aan wal gesig op Utah strand. Teen die einde van die dag is 21000 troepe daar aan wal met slegs 197 ongevalle. Hulle was gelukkig - die aanvalle deur die vloot en die lugmagte vooraf het meeste van die Duitse vestings sodanig beskadig dat hulle nie ideale teenstand kon bied nie.
Tussen Utah en Omaha strande was Pointe du Hoc, 'n prominente landpunt met 30 meter hoë kranse. Bo was 'n kragtige battery kanonne wat groot skade aan die skepe sou kon aanrig. Die taak om dit te vernietig is gegee aan 200 man van die 2e Ranger Bataljon. Nadat hulle hulle pad oopgeveg het tot bo het hulle gevind dat die kanonne reeds teruggetrek was, en die is sowat 550 meter verder opgespoor en vernietig. Hulle het hulleself egter in 'n geveg om oorlewing bevind. Twee dae later (D+2) toe hulle makkers eers daarin kon slaag om by hulle aan te sluit, moes hulle alreeds van Duitse wapens gebruik maak om voort te veg synde hulle geen ammunisie oorgehad het nie. Uit die 200 is 135 gedood of gewond.
Omaha strand, wat sederdien berug geword het vir die slagting wat op die breë sandstrande daar plaasgevind het, was die swaarste verdedig. Die Amerikaanse 1ste en 29 ste Infanterie Divisies het daar aan wal gestorm. Hulle het in hewige teenkanting vasgeloop en swaar verliese gelei. Sowat 2000 man het daardie oggend daar gesneuwel en die mikpunte wat hulle beplan het om op D-Dag te bereik in hierdie area kon eers alles teen dag D+3 behaal word.
Om 07:25 storm die eerste Britse soldate aan wal op Gold strand en Kompanie Sersant-Majoor Stanley Hollis verower die enigste Victoria Kruis vir dapperheid op D-Dag toe hy twee Duitse masjiengeweer vestings aanval by Mont Fleury. Verliese deur die Geallieerdes by Gold strand vir die dag beloop ongeveer 1000 man.
Die Kanadese storm aan wal by Juno strand, en moes slaags raak met Duitsers wat duidelik lus was om te baklei. Hewige gevegte het gewoed, dikwels van een huis tot 'n ander, en aan die einde van die dag was hulle verliese net onder 1000 man.
Op Sword strand, die Britte se tweede strand, het hulle ook deeglik slaags geraak met die Duitse magte, en teen die einde van die dag was hulle verliese ook ongeveer 1000 man.
Amper 5000 troeplandingskepe, 289 begeleidingskepe, 277 mynveër skepe. Amper 160 000 troepe het die kanaal op D-Dag oorgesteek. Geallieerde ongevalle op die dag het ongeveer 10 000 beloop waarvan 4414 gedood was. Die Duitsers het ongeveer 1000 man verloor op D-Dag. Dit was by verre die grootste amfibiese inval in die geskiedenis.
Die 5 invalstrande is egter eers teen 12 Junie almal met mekaar verbind om 'n enkele Geallieerde front te vorm, as gevolg van hewige teenkanting deur die Duitsers. Carentan, Saint-Lô, Caen en Bayeux was in die beplanning ingewerk om reeds op D-Dag self te val.
Caen is eers heeltemal ontset op 21 Julie. Carentan het op 10 Junie eers geval, Bayeux op 7 Junie en Saint-Lô op 19 Julie.
Interessante feit van die dorp Bayeux - dit was die eerste dorp wat ontset was deur die geallieerde magte, en in 2006 is daar ook 'n gedenkpark opgerig vir oorlog verslaggewers wat sedert 1944 gedood is. Daar is huidiglik meer as 2000 name op.
Dit is 76 jaar later.
Ons vergeet nie.
Riaan Coetzee
Kopiereg
Comments