Dag 72 van die grendelstaat
Die keiser is kaal!
So ook die rot wat ek in die week ontmoet het. Nee, nee 'n regte rot. Vier bene. Lang stert. Knaagtande. Snorbaarde soos 'n kat.
Nie 'n politikus nie.
Witrot. Maar heeltemal haarloos. Glad soos 'n babatjie se wangetjies. Met ronde rooi ogies soos 'n Ferrari se briekligte.
Die outjie storm letterlik uit sy hok uit en smeek vir aandag. Spring op, hol teen my arm op en hier staan ek en die rot en druk mekaar. En hy hou van 'n lekker rugkrap. Daai rooi briekliggies trek sommer so toe van lekkerkry.
In my dag des lewens het ek nie gedink ek sal met 'n rot staan en vry nie. Ek meen, wat is volgende - 'n restaurant in Parys??
Harry Potter. Is die mannetjie vir jou in groot moeilikheid! Nie eers Professor Dumbledore en die hele fakulteit van Hogwarts kan hom help nie. Wel, eintlik is dit JK Rowling. Nie Harry nie. Maar ek is seker sy wens sy kon op daai trein klim Hogwarts toe.
Twitter storm haar soos 'n wolkbreuk op 'n lekker sonskyndag. Sy het iets kwytgeraak wat die kwaaies kwaad gekry het. Nie dat dit deesdae moeilik is nie.
Toe vergeet hulle dadelik van protesoptogte en deel eers 'n bietjie haat met haar. Hulle het baie om te deel.
Sy voel waarskynlik angsbevange terwyl sy haar biljoene sit en tel.
Terwyl haar Twitter aanvallers parkering soek vir hulle besems sodat hulle 'n protesoptog kan hou.
Ek het vandag 'n belangrike ding besef wanneer dit kom by die behoorlike organisasie van jou badkamer.
Ek het geskeer vanoggend. Net so al om die gesig sodat die baard netjieser vertoon. Later moes ek 'n draai stap. En dit was waar ek toe die wysheid besef het van behoorlike organisasie.
As jy 'n uitreik operasie loods na die blik poepsprei om die nodige laventel partikels in aksie te kry terwyl jy in die spieël seker maak jy het vroeër 'n goeie taak verrig, en jy druk die spuitknop vir n lekker lang spuit terwyl jy die blik vervaard rondswaai om die heel beste distribusie te verseker en dis die skeerroom.... dan werk dinge skielik nie so lekker nie.
Fok.
Dit het 'n goeie halfuur geneem om skeerroom van alles af te kry.
Organiseer julle badkamers.
Leer hieruit.
Riaan Coetzee
Kopiereg
7 Junie 2020
Kopiereg
7 Junie 2020
Comments