Dag 73 van die grendelstaat

Uiteindelik het ek 'n masker wat ek met graagte dra.
Sodat almal kan sien wat dink ek hiervan. Dit het aandag getrek in die winkels, dis verseker. Meeste loer so skalks soos wanneer 'n man 'n mooi vrou sien maar jy wil nie openlik staar dat sy sien jy kyk nie. Ander kyk direk en lag, duidelik deel hulle die sentiment.
Iemand het onderlangs gemompel "gmf, sies!" so in die verbystap. Toe mompel ek terug - maar nie onderlangs nie - "Dankie Karen..." en ek vermoed haar nekkie gaan styf wees omdat sy hom so vinnig omgeruk het.
Almal dra maskers oor hulle maskers. Beide myne is nou net presies dieselfde.
Vandag is daar 'n hofsaak aan oor tabak. Teen onse minister van wierook. Sodat die hof kan bepaal wie mag rook, of nie. Dalk moet ek eerder sê - wie nogsteeds nie. Want SA is nie net 'n bodemlose put nie, dis 'n rooklose bodemlose put.
Ek het vandag by die drankwinkel ingeloer om 'n ietsie te probeer kry en was verbaas om te sien hoe leeg die plek is. Toe onthou ek van die storie wat die afgelope paar dae die rondte gedoen het dat die regering, lees - DIE minister - drank weer gaan stop. Blyk dat dit net 'n kwaadwillige storie was, waarskynlik deur een of ander drankwinkel eienaar begin wat gou vir hulle 'n Swart Vrydag wou reël. Dit het gewerk ook! Die voorraad wat wel beskikbaar is staan soos verlate eilandjies in 'n oseaan daar rond en hoop beteuterd iemand is dors genoeg om hulle ook te koop. Ek was egter nie so dors nie.
En steeds skrei die dubbelstandaarde ten hemele. Jy mag marsjeer en protesteer as jy de moer in is, maar verder moet jy streng hou by sosiale afstandhouding. Gister het die Rooi Oorpakke - nee, nee nie die ouens wat jou uitsmyt as jy op die verkeerde plek bly nie, ek praat van die ouens met die duur skoene en Rolex horlosies by hulle rooi oorpakke - opgeruk na Amerikaanse ambassades om hulle woede uit te druk.
En gister, op dieselfde dag, het die Gestapo in hulle hordes opgeruk na die Dainfern Golfbaan omdat die gewaag het oop te maak onder streng maatreëls om te verseker spelers en klublede hou afstand en was hande en dies meer. Slegs professionele spelers mag speel, die res mag net op tv kyk hoe hulle speel anders gaan hulle Corona kry. Ons haal ons hoed af en hou 'n oomblik van stilte om soveel dapperheid aan die kant van die blouligbrigade te herdenk.
Ek merk die matrieks van een van die land se voorste seunsskole het 'n lang lys eise opgestel en aan die skool deurgegee. Maar nêrens sien ek hulle soek 2 uur lange pouses en bier by die snoepie nie? Kan die manne dan nie meer ordentlik reël nie??
Al wat ek eis is minder grys hare.
Maar my eis het beslis in iemand se verdomde asdrom beland.
Riaan Coetzee
Kopiereg
9 Junie 2020


Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf