Dag 74 van die grendelstaat
Ek is getrek.
Nee wag! Dit was net een rum en hy was nog enkel ook. Goed - ek HET getrek! Jammer oor die misverstand. Sit Karen.
Ek voel oud en opgebruik vanaand. Trek is nie vir sissies nie, meer nog as jy dit by jouself hanteer. Maar dis gedoen. Ek is tevrede. En moeg. Nuwe horisonne, tyd vir verandering en al daardie interessante klas van dinge.
Nee nie Kaap toe nie, julle wou verniet geld insamel om vir my 'n branderplank te koop. Hier in Gauteng is dit altyd laagwater.
Vandag was 'n laagwater dag in die hof vir die rokerige minister. Of dalk het die rook by haar ore uitgedraai nadat die sigaretmaatskappye se regspan haar gat behoorlik brand geslaan het met feite. Regerings en feite loop nie altyd hand om die blaas nie. Soms moet hulle daaraan herinner word.
Ons wag en kyk wat die uitslag is - hopende dat die hof teen die regering besluit. Bloot net omdat dit nodig is om regerings wat te groot vir hulle skoene raak in die bek te ruk, en hierdie een het 'n ernstige bek ruk nodig.
Wonderlike nuus is dat die Formule Een seisoen eersdaags afskop. Vandag het die Mercedes span met Mijnheer Hamilton hulle eerste afstof op die Silverstone renbaan gehad. Die eerste spul wedrenne gaan geslote affêres wees met geen toeskouers nie.
Dis fantasties, so ek sal dit op televisie kyk - presies soos die afgelope 20 jaar. Ek kan nie wag nie.
Die koue is op pad! Die Kaap het alreeds begin bibber. Binne die volgende dag of wat is dit in Gauteng ook. Almal dink komberse en verwarmers. Ek dink net hoe lekker gaan ek swem. Ek's uniek. Of hokbefok. Wie weet. Ek weet nie eers meer watter dag vandag werklik is nie, behalwe dat dit Woensdag is.
In Buffalo, New York, het 'n jong man met die naam Antonio Gwynn Jr opslae gemaak, maar die goeie soort. Na die onlangse opstande het hy man alleen 'n besem gegryp, swart asbliksakke gekoop, en begin om die strate in sy area skoon te maak. 10 ure later toe ander mense van die omgewing opdaag met dieselfde idee het hulle besef hy het dit eiehandig amper alles alreeds gedoen. Na my alleen trek verstaan ek hoe hy gevoel het.
Uit dankbaarheid vir sy onbaatsugtige optrede het een lid van die gemeenskap vir hom 'n motor geskenk, iemand anders het vir hom assuransie geskenk daarvoor vir 3 jaar, en Medaille College in Buffalo het vir hom aangebied om volgende jaar daar te kom studeer as hy klaar is met skool.
Dit blyk dat die jonge heer nie vreemd is met hierdie tipe van optrede nie, meer dat dit maar net is hoe hy deur die lewe gaan.
Antonio, jy is die tipe superheld wat my hart warm laat klop. Die wêreld het bitter dringend meer van jou soort nodig midde in 'n 2020 gekkeparadys.
Riaan Coetzee
Kopiereg
10 Junie 2020
Kopiereg
10 Junie 2020
Comments