Dag een en fokken vyftig van die grendelstaat.

Gister toe ek by Chamberlains instap, is ek vir die eerste keer gekonfronteer met 'n moermeter.
Dis nie regtig 'n moermeter nie, dis eintlik 'n eksterne termometer wat effe lyk na 'n laserpistool in James Bond se Moonraker destyds. Die gesamentlike aksie van druk die ding teen jou voorkop deur 'n gemaskerde wag is genoeg om jou hartkloppings te gee.
As die ding boonop jou temperatuur te hoog of te laag meet, soos byvoorbeeld wanneer jy ongelukkig genoeg sou wees om agter 'n oulike meisie in die ry te staan terwyl julle wag om ingelaat te word, dan word jy toegang geweier.
En as jy regtig ongelukkig is, gaan sirenes en flikkerende rooi ligte af en gemaskerde beamptes bestorm jou om jou na 'n plek van veilige bewaring te neem.
En dit gaan beslis jou moer meetbaar koer.
Toe die gemaskerde dametjie die ding so in my rigting uitsteek het ek terstonds gevries en my hande in die lug gesteek en hard geskree "Vat net my beursie en laat my gaan asseblief!!!".
In die daaropvolgende paar sekondes het almal in my onmiddellike omgewing gelyk soos waspoppe in een van Madame Tussauds se museums. Terwyl die temperatuurbeheerder ons oopmond gadeslaan en hard probeer verstaan wat aangaan steek die twee manne agter my ook maar gedwee hulle hande in die lug en die res begin lag.
Covid humor. Dis 'n ding.
Die agbare minister van mistastings het gelukkig vir ons uitgestip wat se klere hy van hou om aan ons te sien hierdie winter. Dis uitermatig gaaf van die man, synde ek nou nie oor die beste kleresmaak beskik nie en basies net koop wat pas en agterna deur 'n verskeidenheid vriendinne gekorrigeer word oor my kleurkombinasies. Hy het waarskynlik in sy alwysheid gedink aan mense soos ek en my uitgehelp met hulpvaardige riglyne.
My beker loop oor.
So mag jy byvoorbeeld glad nie bekende handelsname se jannas aanskaf nie - soos Levi's en Raai Jannas. Jy moet eers beraadslaag met die winkel se Politieke Mode Skattie (oftewel PMS) om uit te vind watter naamlose jannas jy wel mag koop. Alles om die minister nie te ontstig nie.
Dan begin die eintlike stryd - om broeke te kry wat jou pas. Al die groottes wat vir jou geldig was 51 dae gelede is nou in hulle moer in te klein so winkels hou net groottes aan met meervoudige X'e agterna. Dit is nogal vreemd om te sien hoe 'n kêrel van slegs 5 voet 5 vir hom etlike 3X langmou t-hemde aanskaf en dan met 'n bewerige laggie noem dat hy hoop dit gaan pas. Want jy mag ook nie aanpas nie, dan kan jy die klere Corona. Jy moet met die oog meet en hoop vir die beste.
Mogge troffe...
Omdat hierdie tipe van uitdagende besluite mens honger maak is dit gerusstellend om te weet dat jy darem nog koue, voorbereide toebrooedjies of slaaie kan koop om te eet. Warm voorbereide maaltye is steeds uit soos branderplankry.
Die rede daarvoor is dat mikrogolf oonde en strandsand op dieselfde Corona vervaardigingslyn geproduseer word en dus albei ewe gevaarlik is vir ons voortbestaan.
Aan die positiewe kant het my motorfiets darem nou al 51 dae op 'n liter brandstof gekry.
Riaan Coetzee
Kopiereg
15 Mei 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf