Dag 47 van die grendelstaat

Sal jy moeilikheid optel as jy polisiekoffie op die strand drink wanneer jy gaan branderplank ry?

Die antwoord is nog uitstaande. Of dalk is dit net 'n uitstaande vraag.

Ek kort dringend 'n branderplank. Synde ek in Pretoria bly kort ek uiteraard die see ook en geld die strandreël nie vir my nie maar laat ons nou nie hare kloof nie. Ek wil net graag iemand met 'n branderplank moer. Omdat dit al dag 47 is en mens heelwat frustrasies het. En daar is lank nie meer genoeg drank om jou sorge weg te drink nie.

Sien jy die bose kringloop Oom Hoed? Sien jy?!

Blykbaar het Suid Afrikaanse navorsers 'n laboratorium monster gekweek. Ek het aanvanklik gewonder hoekom op dees aarde sal enige iemand nog 'n politikus wil kweek, totdat ek besef het dit het te doen met die virus en die stryd om 'n teenmiddel te ontwikkel. Groot was my verligting. Nou moet hulle net sorg dat die ding nie ontsnap nie. Ons almal weet wat die laaste keer gebeur het toe 'n virus ontsnap het.

Die volwassenes stry oor wanneer skole moet heropen, en of hulle moet heropen. Ek het egter 'n sterk vermoede heelwat skoolkinders kla nie te hard oor die vakansie nie. Gepraat van stry - 'n regter het bevind dat die Valke se ondersoekmetodes in 'n berugte hofsaak veel te wense oorlaat. Ek wonder of dit dan in orde sal wees om te sê hulle voel 'n veer vir ondersoekmetodes?

Ek het op hierdie dag 47 op 'n pragtige Afrikaanse woord afgekom - Juts. Jy kan jutsregop sit, of my gereelde gunsteling probeer deur so ewe juts op jou stoel te sit. Aldus Taaltoffie beteken dit jy sit ongeërg op jou stoel. Juts. Dis darem 'n lekker taal die, jy kan jou hele bek met hom uitspoel en sommer gorrel ook uit pure vermaaklikheid.

Ek sien die media het weer 'n lys bekendgestel van ons gevaarlikste stede. Nadat ek dit gelees het was dit vir my baie duidelik dat diegene wat die lys opgestel het nog nooit in die hoofkroeg by Wanderers was tydens 'n 5 dag wedstryd nie. Dis soos Beiroet destyds maar met meer bier.

Sportliefhebbers sal breed glimlag omdat sport stelselmatig weer hervat word. UFC het die afgelope naweek afgeskop met 'n toernooi, en Formule 1, my gunsteling, laat dit blyk of hulle op 5 Julie die seisoen afskop in Oostenryk. Ons rugby is nog bietjie haaks want hulle probeer nog uitwerk hoe die skrums gaan werk as die spel op Zoom gespeel word.

Mense rook tee. Want onderduimse sigarette se pryse is heeltemal bezuma. Laat jy die zol eers trek na jy hom gerol het? Hang die teesakkie se nommerplaatjie voor uit om die sigaret se oorsprong aan te kondig? Dis seker net regverdig, hy hang mos so oor die rant van die koppie uit terwyl die teetjies trek. Ek hoop nie julle lek die teezol nie. Dis glo gevaarlik. Verkies julle rooibos zolle bo groentee zolle? Ek het so baie vrae.

Kon julle nie eerder koffiemoer gerook het nie? Dit sal beslis beter proe!

Intussen is 'n hele 19000 gevangenes vrygelaat. Aldus die regering was dit om spasie in die tronke te skep sodat sosiale afstande daar ook uitgeoefen kan word maar ons almal weet dit was net om plek te maak vir branderplankryers en mense wat 3 minute oor 9 nog met hulle honde stap.

Intussen is 'n ministeriële taakspan aangestel om te bepaal of pynappels nou as 'n bedreigde spesie verklaar behoort te word.

Lekker ne!

Riaan Coetzee
Kopiereg
11 Mei 2020





Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf