Dag 50 van die grendelstaat
Inkopiedag om die halfeeu te vier.
Vanoggend eerste ding is ek hier uit, strate toe. Winkels toe!
Eers gou ingeloer by my gunsteling koffiewinkel om die dag op die regte manier te begin. Sommer 'n stewige ontbyt deurgewerk terwyl ek daar was en my bek met my masker afgevee. En die toe stil-stil van die tafel af laat val. Die kelner het dit gesien en geknipoog.
Hy verstaan.
Daarna groot gegaan en Menlyn Mall toe gery. As jy nodig het om plakkies en kortmou t-hemde te koop is dit altyd goed om by 'n plek uit te kom waar klerewinkels soos versamelvoëls saamkloek. Verskeidenheid is die wagwoord. Ook, as jy nommer 11 trappers het waar jou bene ophou kry jy nie noodwendig voorraad oral nie.
Lekker by 'n spul winkels ingestap, die bottels handreiniger wat rondgestaan het omgestamp tot groot vermaak van die magdom mense wat die plekke toegestaan het.
Uiteindelik 'n klompie t-hemde gekoop met die oulikste gesegdes op. Perfek vir fliek toe gaan.
My gunsteling is "Patel se P...oedel" maar ek bieg ek het gelag vir die donkergrys een met "Bheki se b...allades" op die rugkant gedruk ook en was gelukkig genoeg om een te kry wat pas, toe koop ek hom ook.
Baie in my skik met my sukses het ek gou by 'n drankwinkel ingedraf om seker te maak ek het voorraad vir Saterdag se rugby, krieket en die bokstoernooi Saterdagaand, en sommer vir 'n heildronk Sondag wanneer die Formule Een ren afskop.
Die rak met pynappelbier was met rooi lint toegespan kompleet met plakkate wat sê "Nie Te Koop Nie Want Ons Gaan Die Kak Weggooi" wat my nogal laat wonder het wat daar foutgegaan het.
Ek rook nie self nie maar ek was in 'n vrygewige bui so ek het sommer 'n spul kartonne gifpyle ook in die trollie gegooi omdat die prys so goed was. Heelwat later oppad huistoe het ek dit ten duurste aan 'n spul polieste verkoop by die uitgang. Lekker winsie gemaak!
Ek was nog nie lus om huistoe te gaan na ek die drank in my kar gelaai het nie, so toe loop ek sommer flieks toe om te kyk wat wys.
Dit was die premiere van 'n nuwe plaaslike rolprent en ek het terstonds besluit ek gaan dit kyk.
Ek kan terugrapporteer dat ZollenZuma (vreemde naam maar deurspek van magsbehepte bendeleiers wat mekaar deurlopend probeer te na kom) nogal gelei het tot 'n paar pikante giggels vanuit die gehoor, veral toe die skurk in die fliek deur die heldin met haar kopdoek geblinddoek word en sy doelbewus sy nuwe hoed gebruik om die kwaadskuim van sy mondhoeke af te vee. Die arme man het wraak gesweer en wou net skop en donnor maar sy het met 'n skalkse glimlag 'n zol natgelek, aangesteek en die rook in sy gesig uitgeblaas.
Ek gaan nie veel verder uitwei nie, julle moet maar gaan kyk en my laat weet wat dink julle.
Eers 'n laaste koffie voor ek huistoe is, en toe my winsgewende transaksie met die blouligrokers, en toe deur die swaar verkeer huistoe.
Moeg maar gelukkig.
Net op daardie oomblik blaf Stoffel vir 'n verdomde hadeda direk onder my venster en ek skrik met 'n gejuig wakker. Sekondes later raak ek bewus van 'n kloppende hoofpyn hier agter my oë wat dit laat voel of daar 'n minister by elke oor staan wat met 'n megafoon elk herhaaldelik uitbassuin "Jy moes nooit die pynappelbier met 'n strooitjie gedrink het nie!"
Ag fokkit.
Riaan Coetzee
Kopiereg
14 Mei 2020
Kopiereg
14 Mei 2020
Comments