Dag 46 van die grendelstaat

Toe ek hierdie daaglikse stukkies begin skryf het, het ek in my dag des lewens nooit voorsien dat ek dit nogsteeds sal skryf op dag 46 ook nie.

Wragtag weet, ek soek my vryheid terug.

Mense was nog nooit baie goed om soos rotte in hokke opgesluit te wees nie. Ons siele is geneties meer nomadies van aard. Ons wil kan rondbeweeg, al is dit net om na jou gunsteling koffiewinkel toe te gaan - wanneer EK so voel en nie soos aan my voorgeskryf word nie - en daar rustig te sit en teug aan jou gunsteling drankie en die mense dop te hou.

En dit is nogal 'n persoonlike gunsteling tydverdryf van my, om mense dop te hou. Lyftaal is nie net die grootste menslike kommunikasiemiddel nie, dis maklik ook die interessantste.

En wat ek die afgelope tyd opmerk aan mense se lyftaal is 'n oorhoofse moegheid en gatvolgeit, selfs woede. Ingehoue spanning en agressie, en baie beslis vrees. Jy kan sien as jy winkel toe gaan hoe mense se skouers hang, die koppe hang, die oë lyk vaag en ontwykend. Min mense stap koppie regop en kyk ander vierkantig in die oë, ons leef in 'n tyd van die Groot Vermyding. Ek sien selfs as ek in die oggende op die pad is om 'n klompie kilometers agter die blad te kry dat jy gereeld drawwers of stappers kry wat letterlik na die anderkant van die pad beweeg om my te vermy. Dalk is dit die bedonnerde uitdrukking op my gesig.

Of dalk is dit 'n vrees manifestasie? Ons is letterlik te bang om naby mekaar te wees. Hoe gaan ons kinders eendag hieroor met mekaar praat? Gaan hulle praat van die tyd toe hulle ouers en grootouers letterlik in vrees vir mekaar geleef het? Ek hoop nie so nie - dit voel ek moet te alle koste verhoed word. Ons mag nie toelaat dat vrees ons pad vorentoe uitstip nie.

Vanoggend se stappie het my siel goed gedoen. Ek het 'n absolute gevoel van vryheid ervaar en dit het gemaak dat ek selfs harder kon stap en dieselfde pas net soveel beter kon volhard. Dit was nogal opvallend hoeveel minder mense daar was. Dalk is van hulle gelukkig genoeg om weer te werk.

Ongelukkig het dit begin kwyn soos ek die huis genader het, want terug hok toe het nog nooit goed afgegaan by my nie.

So veg ons manmoedig voort deur hierdie Covid moeras.

Hopelik beteken dit inryteaters raak weer 'n ding!

Inryteaters was groot gewees in my kinderdae en selfs toe ek 'n jong lat was. Dit was altyd 'n bietjie van 'n avontuur om eetgoed te pak en komberse en kussings en dan 'n goeie staan plek te soek. Nie te ver van die badkamers af nie maar ook nie te naby aan die skerm nie. En dan die luidspreker te toets - onthou julle daardie grys luidsprekers wat so twee-twee aan 'n paal gehang het tussen staan plekke? Die klank was, by nabetragting, ietwat van n katastrofe maar ons het dit gelukkig nie toe besef nie. Later kon jy op die inryteater se eie golflengte inskakel op jou kar se radio en DIT was nou vir jou 'n wonderlike stap vorentoe!  Kort voor lank was dit 'n kompetisie om te kyk wie se Blaupunkt of Alpine of Pioneer sisteem die fliek se klankbaan die hardste kon uitbassuin.

Ek sal nooit vergeet hoe ons een aan in Kaapstad êrens in ou Grant se gebedslorrie (ek het die naam sopas uitgedink as 'n goeie teenvoeter vir die meer spreekwoordelike Engelse "fucktruck") inry toe is om Conan the Barbarian te gaan kyk nie. Drie van ons en drie meisies. En daar is die fliek toe so sieldodend vervelig dat ons almal aan die slaap raak voor die halftydbreuk! Geen fliek, geen gevryery, niks. Net die beteuterde wag wat ons kom wakkerklop lank na almal reeds huis toe is want hy wil die hek sluit.

So julle kan die inryteaters terugbring maar nie noodwendig al die ou flieks nie. Asseblief tog.

Moedersdag was maar 'n stil affêre gewees - mag alles moeders geseënd wees. Dalk nie heeltemal almal nie want daar is 'n paar ongelooflike slegtes daarbuite - mag hulle arme kinders eerder geseënd wees.

My eie moedertjie is lank nie meer met ons nie. Ek weet vir 'n feit sy en Elvis is groot vriende en dat sy hom aanmekaar vra om sy trui aan te trek. Ou Elvis - sê tog vir haar ek verlang haar en ek sou haar so graag net nog en keer 'n drukkie wou gee.

Die hoogtepunt van die naweek was seer sekerlik toe die Springbokke die Aussies so lekker pakslae gegee het! Ek grap net.

Ons wonder almal waar ons president is. Ons wonder of Minister Zuma al ophou rook het. Ons wonder of dit moontlik is om bier van palmbome ook te maak. Ons wonder watter roker die meeste gaan betaal vir onder die toonbank sigarette en sodoende 'n wêreldrekord opstel. Ons wonder wanneer die hippie branderplankryers die polisie met hulle branderplanke gaan begin bliksem.

En ons wonder presies hoe mal ons teen die tyd geraak het.

Maar ons wonder darem nie of die son skyn nie.

Riaan Coetzee
Kopiereg
11 Mei 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf