Dag 87 van die grendelstaat
Ons is steeds in die Wildtuin. Maar ek slaap nie lekker nie.
Ek het besluit om gevorderde denke toe te pas en 'n opblaasmatras saam te vat op die kampeerdery saam met Dawie hulle.
Die eerste paar nagte het ek inderdaad lekker geslaap. Maar een goeie oggend word ek wakker en die wêreld is skeef. Dit het 'n tydjie gevat om te verstaan dat dit nie 'n aardbewing was nie maar dat my matras gedeeltelik afgeblaas het. Wat uiteraard 'n probleem was, want jy hoef nie uitermatig geseënd te wees met breinselle om te verstaan dat grondslaap sy nadele het nie.
Eers het ek probeer om dit met improvisasie te omseil deur die matras in die helfte te vou sodat die pap deel onder was. Kyk dit werk mos vir motors se wiele. Die pap deel is onder en die res bo. En ek sit toe boonop al my komberse onder die matras neer vir ekstra veerkragtigheid. Toe eindig ek op met so 'n smal bedjie dat ek afneuk elke keer as ek omdraai plus ek kry koud want my komberse is nou onder my bed in plaas van op my bed. Van slaap was daar dus nie veel sprake nie.
Ek en Dawie besluit dus om die gaatjie te soek, maar dit draai uit in 'n vrugtelose tydmors want hy is so gekamoefleer dat ons hom nie raaksien nie. Ons besluit toe maar om hom te gaan opblaas by die brandstofstasie in Letaba en gou af te skiet swembad toe. Lug wat ontsnap maak mos borrels reg. So gesê, so gedaan en ons stop by die kamp swembad vir die voortgesette soektog.
Die matras word te water gelaat. Dis net ons twee want dis winter en bitter min mense swem as die water koud is. Ons staan die ding so en kyk en hou eers kajuitraad want dis toe nie so maklik om die hele matras onder die water te kry nie. Inteendeel, hy is baie gelukkig om bo te bly.
Ons besluit dat ek op die ding sal staan en hom met my gewig afdruk terwyl Dawie aan wal staan en kyk vir borrels. Gou besef ons dat dit beter is as hy ook maar inklim en die matras vashou want die ding lyk so bedaard as hy op sy eentjie daar ronddryf, maar probeer nou net op hom staan dan sien jy hoe hy verander in 'n bemoerde bul! Vir veiligheid teen koue bly ons in die vlak kant sodat net ons bene koudkry.
Dawie hou vas en inspekteer, en ek wel, kom ons sê maar ek ry branderplank. En ek is nie baie goed daarmee nie. Trap soos jy wil, jy kry net 'n deeltjie op 'n keer onder die water in, en jy moet werk om daai deeltjie onder te hou. Dawie se vashou is daarom 'n integrale deel van my oorlewing. So karring ons stuk stuk aan, met heelwat mooipraat en strontpraat tussenin.
Alles het relatief goed gevorder tot sy ingestap het.
So 'n oulike meisie, saam met haar wieookal hy was.
Toe verkyk Dawie hom so aan die enetjie dat hy verdomp vergeet om die matras vas te hou. Toegegee, ek het self ook nie so goed opgelet nie want ek het ook geloer daar bo vanaf my drywende platform af. So goed dan, ons het altwee gestaar en tipe van vergeet waarmee ons besig was. Nie lank nie, maar as jy op 'n opblaasmatras in 'n swembad staan en nie oplet in die klas nie is selfs sekondes genoeg.
Toe besluit die matras hy wil ook gaan kyk en skiet onder my uit soos 'n missiel, reguit kant toe! En ek doen 'n heel sierlike agteroorsalto in die koue swembad in, met my klere aan. My knieg stop my tuimel teen die bodem van die swembad en pyn skiet deur my lyf. Nou is ek koud EN seer. En nie vreeslik gelukkig met my assistent nie.
Ek strompel regop soos 'n nat hoender en sukkel om stil te staan want my knieg is te seer. My matras assistent lag. As jy simpatie soek loop kry maar in die woordeboek. Duidelik. Die meisie lag. Haar watookal mansmens saam met haar lag. Die donnerse matras lag. Almal lag behalwe ek. My knieg is te seer en my ego te gekrenk vir humor. Ek het eers heelwat later begin saamlag toe ek droog aangetrek was en bier en koffie gehad het, maar dit het lank geneem voor ek nie meer kruppel geloop het nie.
Ons het nooit die gat in die matras gekry nie.
Ek het net myne gesien.
Na die hele inkerkering storie wonder ek of mens toegelaat sou word om in die wildtuin branderplank te ry?
Riaan Coetzee
Kopiereg
25 Junie 2020

Comments