Dag 85 van die onweerstaat
Na so lank vergeet ek wat ek dit genoem het.
Julle ken daai ou Chopper fietse van die 70's en ek dink die 80's - die met die groot agterwiel, klein ou voorwieletjie en daai regopstaan handvatsels soos iets wat graag 'n Harley wil wees?
Nou kyk, as 'n laaitie het ek baie met fietse geval. Van ligies neerkom tot myself des moers val dat jy net velle sien trek.
Maar daar was drie keer wat ek geval het dat ek sommer vir baie lank agterna gedink het die lewe is darem wragtag onregverdig om 'n man so te verfongfaai.
Die een keer was toe ek een goeie Sondagmiddag my tussenin fiets geklim het en in die hoërskool reg oorkant ons huis se grond loop rondspeel het. Ek het hom Tussenin genoem - groot woord vir 'n jong laaitie maar ek en woorde kom nog altyd goed oor die weg - omdat dit moeilik was om te bepaal of dit 'n dikwiel of 'n resiesfiets was. Sy wiele was dikker 'n 'n resiesfiets, maar dunner 'n die tipiese dikwielfietse s'n. Hy het 'n tipiese saal opgehad wat jy op 'n dikwiel sou kry - want dit was heelwat gemakliker as daai dun g-string saaltjies wat na 'n paar kilometer tot binne in jou nerfies indruk dat jou oë begin traan. En resiesfiets handvatsels. En hy was groen. So hy was dus 'n tussenin fiets.
Die sportvelde was heelwat hoër as die deel waar die skoolgeboue gestaan het met die gevolg dat daar 'n goeie 2 meter val was. Die het die skool mooi met leiklippe uitgelê om fraai te lyk. Toe kry ek 'n idee.
Party idees is goed. Hierdie was nie een nie. Maar dit het ek eers agterna besef.
Ek besluit toe om oor die netbalgronde te jaag en dan daar af te jaag. Maar dit was nie al nie. Nee! Ek wou daar af "wheelie"! Ja swaer.
En ek voeg toe sommer daad by die woord. Dit sou waarskynlik nogsteeds nie goed afgeloop het nie, maar toe dra ou Tussenin uit sy eie uit by tot die drama.
Halfpad af teen die pragtige leiklip afdraande, met my voorwiel in die lug - ek KON wheelie hoor - besluit die voorwiel toe om sy eie rigting in te slaan. Sonder my goedkeuring. Hy kom toe los op een of ander onverklaarbare rede en daar trek hy. Ek onthou tot vandag toe presies wat ek op daardie vlietende oomblik gedink het.
"Ooooooo. Fok!"
Daardie deel het nie gras gehad nie. Net grond. Wat ek toe tref met 'n vaart en toe neem gravitasie oor en dwing die voorwiel af aarde toe. Behalwe dat die voorwiel teen daai tyd 'n goeie twintig meter voor my sy eie plek om te verongeluk uitgesoek het. So die voorvurk tref toe die aarde. En ek vlieg oor die fiets en tref ook die aarde. Ek val myself semi bewusteloos, soveel so dat ek seker 'n goeie twee ure later eers terug huistoe is. Hoe ek niks gebreek het daardie dag nie weet ek nie. Maar ek het myself in 'n ander bloedgroep ingeval.
Die ander keer was in Kroonstad. Ek was op hoërskool en het 'n baie beter klas resiesfiets gery as ou Tussenin. En ek was fiks so die spoed was daar. So kom ek een goeie Saterdagmiddag van die kafee af terug met brood en melk. Ons straat het 'n T-aansluiting gevorm met die straat wat winkels se rigting toe gevloei het, en daai straat was effe afdraande op pad huistoe.
En ek jaag! En toe ek rem om regs te draai in ons straat in, hoor ek net hoe die remme se kabels saggies "knak" soos hulle breek. Altwee. Dit was op daardie oomblik wat ek geweet het dit gaan 'n lang dag word.
Ek wip oor die man wat reg in die T gebly het se vreeslike netjiese sypaadjie grasperk, deur sy roosbedding, en tref sy 5 voet heining met volle vaart. Ek en die fiets kom sy erf binnegevlieg soos 'n privaat lugskou. En hulle is besig om te braai. Ek eindig tussen die familie op waar hulle lekker in 'n kring sit en kuier sonder om een van hulle te tref en die fiets klap die braaier dat hy soos 'n kerkklok lui.
Doodse stilte. Ek bloei so dat ek lyk soos 'n Ebola pasiënt.
"Goedige fok buurman!" skree die oom. En toe skree almal. Een oom skree net "Keer die vleis!!"
Die ongevoelige ou bliksem.
Nodeloos om te sê hulle moes my huistoe help, en my fiets was so gebuig ek moes maar 'n nuwe een kry.
Die derde een was met een van daai verdomde Choppers. Dit was nie myne nie, dit was 'n vriend se fiets wat om die hoek van ons af gebly het. Ek het daar loop speel en wou sy nuwe fiets probeer. Toe kom Dominee Frikkie - die einste een wat my verklik het aan Oupa Piet omdat ek Sondagskool vir amper 'n hele jaar "gemis" het - van die kafee af opgestap. Hy groet vriendelik en ek besluit om aan hom te illustreer hoe 'n klein draaisirkel hierdie interessante fiets het met sy klein voorwieletjie. Ek was nie verkeerd nie, maar dit het net beter gewerk om so 'n illustrasie te doen as jy vreeslik stadig beweeg. Wat ek natuurlik nie gedoen het nie. Ek was egter nog nooit vreeslik goed met somme nie so weereens het my berekeninge my erg in die steek gelaat.
Die chopper draai toe so kort soos wat ek gereken het hy sal en my momentum doen die res. En daar wetter ek in die teerpad neer dat die Dominee my die volgende Sondag in sy gebed genoem het tydens die erediens. Die een remhandvatsel druk skoon deur die vel tussen my groottoon en die enetjie reg langs hom dat die vleis 'n goeie sentimeter terugskuif en ek gee vir die teerpad 'n gratis veloorplanting.
Toe help Dominee Frikkie my maar huistoe sodat my Ma die nodige trooswerk kan voortsit.
Ek het nooit weer 'n Chopper gery nie - daai goed was besete.
Riaan Coetzee
Kopiereg
22 Junie 2020
Kopiereg
22 Junie 2020
Comments