Dag 84 van die grendelstaat

Gister tydens Vadersdag se braai kom die gesprek uit by my oorlede Ma.
Sy is al oorlede in Desember 2012. My ma was 'n goeie siel. Ek en sy het maar baie koppe gestamp, bloot net omdat ek so verdomp hardegat kan raak, en stroomop soos 'n Psalm wat wil loop eiers lê.
O dis seker 'n salm.
Hoe dit ookal sy, Ouma Coetzee het altyd geglo ek vrek van die koue. Dis dalk 'n bedekte seën, soveel as wat ek haar mis en net graag nog een keer 'n bietjie met haar sou wou gesels, dat sy nie hier is vandat ek die hele kouewater swem ding aangepak het nie. Haar senuwees sou dit nooit gehou het nie!
Ek sou waarskynlik 'n horde oproepe per dag ontvang het om te hoor of ek nog gesond is. As sy hier was sou my bedkassie toe gestaan het van hoesstrope en vitamines en allerlei goed wat sy sou bly aandra het. Waarskynlik 'n paar truie ook! Net vir wanneer die koue my aantas. Vir omlat.
En as sy my in die ysige water moes sien! O wee! Oupa Piet sou haar waarskynlik in die huis moes toesluit om te keer dat sy my kom uitsleep!
"My kind, jy gaan dodelik siek word, kom uit daar en trek warm aan!"
Soveel as wat ek letterlik verslaaf is daaraan, net soveel sou dit my arme moedertjie se bloed in haar are laat stol het.
Dit is alles in orde my Ma, ek is darem mooi gesond dankie.
Ek glo nogsteeds vas dat sy ou Elvis besig hou daarbo met truie en dies meer. Hy beter maar warm aantrek.
Ek sien 'n storie van 'n bedonnerde hoenderhaan, wat my toe herinner aan een wat ons gehad het toe ons kinders was. Die ding was heel mal. Ek vermoed hy is uit 'n roereier uit gebore. Die wat hy so beneuk was.
Wit haan. Maar 'n groot een! Toe ons laaities was het dit gevoel dit ding staan en kyk jou in die oë. Die arme henne was heeltyd onrustig, want die meneer het nie hoenderviagra nodig gehad nie. Hy WAS die viagra. Hulle het permanent met sulke groot ogies rondgeloop en die ou blikskottel met so 'n windgat stappie soos 'n perd wat pronk.
Nou verstaan ek hoekom.
As die hok oop was, was ek en my broer sy grootste teikens. Hy was meer lugtig vir my Pa, want die het hom sommer 'n klap toegedien. Dan sit daai haan heeldag met so 'n hanglip soos hy jammer voel vir homself. Maar die ding het terselfdertyd sy wraak beplan. Teen ons wat kinders was. Want ons was meer sy grootte.
As ons buite was op dieselfde tyd wat die mal hoender buite was, het ons vinnig geleer om beter te systap as 'n Bok losskakel. Want as hy vir jou in 'n hoek vasgedruk kry het jy nie genoeg arms om die geveerde gevaarte af te weer nie. Hy val aan uit alle rigtings, en hy hou eers op as hy bloed sien.
Male sonder tal het twee gillende laaities voor die haan uitgevlug, hopende dat ons die huis sal haal voor hy ons in die hande kry. Ek het een dag my moed bymekaargeskraap en toe hy so in volle galop - as hoenders galop - van voor af aankom soos 'n hoendervuurpyl en hy spring die lug in om my des te beter met daai twee hoenderpote te kan bykom hak ek af en hom skop vol teen die bors dat hy doer op sy gat loop land.
Daai arme hoender se ego was so gekrenk dat die henne 'n halwe dag se blaaskans gekry het.
Hy was egter net 'n paar dae lugtig vir my, toe het daai ertjiebrein alweer vergeet en toe is dit weer sulke tyd.
Ouma Coetzee het uiteindelik 'n heerlike pot hoendersop van hom gemaak. Mens kan tereg sê die sop was bedonnerd lekker.
Riaan Coetzee
Kopiereg
21 Junie 2020


Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf