Dag 86 van die grendelstaat
Die wêreld raak net gekker, so ek gaan julle eerder 'n wildtuinstorie vertel.
Die Wildtuin fassineer en bekoor my. Ek het 'n diepgesetelde liefde vir hierdie plek.
So 'n stuk of 12 jaar terug sit ek en 'n goeie vriend en die se vrou af Letaba toe om vir twee weke te gaan kamp. Dit is altyd vir my 'n fantastiese gevoel as ek by die hekke inry. Ek sit radio's af, selfone af, en ek voel sommer hoe ek behaaglik asemhaal en ontspan.
Dit gebeur toe ook so, maar die gevoel hou net tot ons by Letaba begin tente opslaan. Dawie hulle het 'n groot tent. Die ding lyk of daar in 'n vorige lewe troues in hom gehou was. Vreeslik oulik as hy eers staan maar om tot daar te kom verg deursettingsvermoë en sweet.
Het jy al probeer tentpenne inkap in meeste Wildtuin kampe? Broer, die grond daar is ingery van 'n sementfabriek af, daarvan is ek oortuig. As jy penne in jou huis se ryvlak probeer inkap gaan dit straks makliker gaan.
Ons kap penne dat die goed lyk soos oorgrootte doekspelde soos hulle buig. Waar die hamer die pen tref lyk dit in die regte lig soos 'n vuurwerk vertoning. Ons het vinnig oorgeslaan rubberhamer toe, maar dit het net 'n verskil aan die hoeveelheid vonke gemaak. Nie die woordvonke wat later vrylik uit ons twee se monde gevloei het nie, die op die tentpenne. Ons het in elk geval maar gewissel tussen die groot hamer en die rubberhamer, afhangende hoe moeg ons geraak het op enige gegewe oomblik.
Ek en Dawie sweet so dat 'n die bure dink ons is Crossfit atlete. Nee meester, ons is net fokken penvriende!
Julle sien wat ek hier gedoen het.
Dit neem ons uiteindelik 'n goeie 3 ure om hulle troulokaal opgeslaan te kry omdat ons so sukkel met die grond wat so hard is. Immers weet jy - as hy staan, gaan dit 'n orkaan verg om hom om te waai. My groot pampoentent vat 'n paar minute en die staan reg teen die grensheining, soos dit hoort.
Toe ons uiteindelik klaar was, en ek bedoel fisies, geestelik en emosioneel, laat val ons gou elkeen 'n bier in dorstige keelgate af en spring in die kar om darem net 'n vinnige besigtigingsrit in te werk voor die hekke toemaak vir die nag.
As jy 'n paar kilometer uit Letaba uit ry op die hoofpad Mopani kamp toe, kry jy 'n brug. Die rivier is grotendeels droog, tot die dag wat dit behoorlik reën, dan is daar water wat lyk of dit nooit gaan ophou nie. Hierdie spesifieke brug is een van die waar jy toegelaat word om uit jou kar te klim, mits dit veilig is en jy op die brug bly. Naby jou voertuig. Dit is 'n fantastiese plek om vroegoggende te kyk hoe die son oor die bos opkom, en sommer net daar te staan en vir die bos te kyk en te luister. En om te probeer kyk wat se spore jy alles in die sand onder jou kan uitmaak. Dit was dan ook 'n gepaste plek om die eerste dag se sweet te vergeet met 'n lekker koffie, synde dit winter was, en om sommer net te staan en asemhaal totdat dit tyd geraak het om terug te kom by die kamp.
Een goeie nag word ek wakker in my tent met die klank van reën. Die geluid van reën op 'n sinkdak en op 'n tent is eenvoudig onverbeterlik.
So lê en verwonder ek my totdat dit tot my deurdring dat hier iets snaaks aan die gang is. Dit reën net met sulke sarsies, en in plaas van donderweer hoor ek ander vreemde geluide.
"RRRRRRRRR" klink dit, en dan "ggggomp ggggomp ggggomp" terwyl dit reën.
"Iemand het die donderweer gebreek!" skiet dit deur my gedagtes.
Dis toe wat ek 'n sware voetval hoor en besef - olifant! Ek loer versigtig deur die een tentvenster wat heining toe kyk en wragtag, in die maanlig staan 'n reuse olifant! Hy staan reg teen die heining, en sy kop en slurp hang bo-oor my tent terwyl hy aan 'n boom se takke staan en vreet wat in die dag vir ons van skadu voorsien het. Die reën op my tent is blare en boombas en takkies soos die ou grote mors!
Hy het seker 'n goeie 20 minute daar gestaan en wei voor hy aanbeweeg het na een of ander olifant byeenkoms toe. Die volgende oggend was die hele area besaai van die detritus van sy feesmaal.
Ek sweer tot vandag toe hoog en laag sy maag het op die maat van Queen se "We Will Rock You" gerammel.
Riaan Coetzee
Kopiereg
24 Junie 2020
Kopiereg
24 Junie 2020
Comments