Dag 83 van die grendelstaat
Hier volg 'n winterstorie. En iets oor 'n botteltjie komberse.
Grotendeels omdat dit winter is. Die winter van 2020 is net soveel kouer as enige winter in mensegeheuenis. Nog nooit, ongeag die temperatuur, het winter so diep in die mensdom se siel ingesny soos Covid Winter nie.
Maar hierdie was 'n winter voor Covid, en gewoon net moer koud. Old Brown Sherrie koud.
So eindig ons op op 'n godsverlate vlakte, half 3 in die oggend. Twee bakkies. 4 jong manne. Een hele kas OBS. Met 'n Wes Transvaal winterswind wat in jou neusgate inswenk en jou sinusse van binne af begin vries. Wat natuurlik veroorsaak dat jy jou mond oopmaak vir addisionele asem, en dit is eintlik waarvoor die winterwindjie wag. Want dan loei hy in jou bek in en vries die stopsels in jou gebit, en dan neuk hy speels in jou keel af, laat ys jou kleintongetjie en loop lê in jou longe. Het jy al probeer asemhaal met twee blokke ys wat voorgee hulle is longe? Dis seer.
Ons poog springhase skiet. Maar dit was die hase se gelukkige aand, want ons bewe so dat dit 'n wonderwerk is dat ons nie die naaste dorp raakskiet nie. Intussen drink ons flink aan die OBS. Baie flink. Elkeen het sommer sy eie bottel want dis net geriefliker. Die grootste probleem is om nie jou lippe aan die bottel te laat vasvries nie so vinnige slukke is die aangewese metodiek. Maar gereelde vinnige slukke. En dis boonop nie die maklikste ding om die regte springhaas raak te skiet as jy elke keer tussen drie die regte een moet uitsoek nie, al staan hy stil en hou 'n bord omhoog wat uitbassuin "Skiet die een heel regs!"
So, uiteindelik is dit ure later, die OBS is klaar, ons is klaar en die hase slaap rustig want hulle weet hulle kans om van ouderdom dood te gaan het dramaties verbeter. En ons besluit dis tyd om ons ry te kry sodat 'n man nog kan probeer slaap ook.
Dis toe wat ons uitvind die geel Japanese bakkie se battery is ook klaar. As Wessie die sleutel draai sê hy net saggies "prrrrrrr" en dis dit. Soos die dinge nou mos maar werk, is daar presies zero sleeptoue nie. Toe stoot ons maar.
Die bakkie. Maar hy wil niks weet nie, en so by so is ons voete lekker rond na al die Botteltjies Komberse so die veld is geneig om heeltyd onder jou uit te gly. Kry Groot Koos toe mos die slim idee dat ek en Cornelius op die wit bakkie se enjinkap lê, vashou aan watookal ons in die hande kry, dan ry hy tot neffens Wessie se geel Japanese bakkie se gat dat ons voete teen hom druk. En gee vet tot ons so 30 kilometer per uur bereik, waarna hy rem en na links swenk om vir Wessie gaping te gee om die koppelaar te los en sodoende die geel bakkie weer uit die dood te laat opstaan.
"Kyk Koos", vermaan ek hom sedig, "jy beter mooi briek en saggies na links swenk, as ek vanaand hier afval bliksem ons mekaar tot die eerste voëltjies begin sing!"
"Nee ou vrind, ek is dan sooooi lief vir jou man, ek sal mos mooi te werk gaan! So by so sal jou ma my laat opspoor as ek oor jou ry."
"Ja wel onthou dit net, want jy is gesuip Koos" herinner ek hom.
"Kaaaaaa ka ka ka" gorrel lag Wessie uit die geel bakkie se kajuit uit, "en die res van ons is nugter!"
Cornelius klim gedweë op die wit bakkie se enjinkap en tik so langs hom en sê vir my, "Kom lê hier oubaas, pappa wag vir jou". Ek moes toe reeds geweet het die ding gaan nie goed afloop nie. Maar nee, OBS maak jou nie net warm nie, hy maak jou slim ook. En ek loop lê langs hom. Hy klop my so liggies teen die ribbes en skree "Boys vanaand stoot ons vir die eerste span!".
Soms kies jou vriende jou...
Ek gryp toe maar vir my 'n ruitveër met een hand en my regterhand klou so krampagtig aan die bakwerk dat dit voel of ek duike indruk. Koos ry stadig vorentoe tot ons bevestig ons voete raak, en daar gaan ons.
Die spoed moes geleidelik opgetel het, maar Koos se voet is duidelik swaar want ons dag nog ons berei geestelik voor toe skree hy al hier van agter af "Daar is 30 nou manne ek gaan brieeeeeeeeek!"
En die bliksem trap die wit bakkie se rempedaal amper in die Wes Transvaal se grond vas, en vergeet heeltemal dat hy nog links moes swenk. Ek en Cornelius vlieg van die enjinkap af soos Superman, moer teen die geel bakkie se gat vas met 'n dubbelslag, Wessie skrik hom uit sy geloof uit en vergeet hy moet die koppelaar laat los en spring ook op die remme!
Ek en Cornelius warrel op die grond rond tussen die twee bakkies en al wat jy sien soos jy rol is wit ligte rooi ligte wit ligte rooi ligte. En Koos gil êrens in die agtergrond "O herre jou Ma gaan my doodbliksem!"
Op een of ander totaal onverklaarbare rede kom beide bakkies, en twee menslike tolbosse, tot stilstand sonder om oorlede te wees. Doodse stilte heers, en dit neem 'n tydjie vir die stof om te gaan lê. Die wit bakkie se nommerplaat is feitlik teen my gesig en Cornelius lê half oor my en lyk of hy die geel bakkie se sleephak soen.
Wessie se gesig verskyn in die helderverligte stofwolk. Sy oë is groot. Hy skop liggies aan my. Dis hoe mens jou vriende keer ken! "Hey, leef jy?" vra hy.
"Is daar baie bloed??" kom Koos se stemmetjie skril uit die wit bakkie uit. "Ek is SO dood!!" weeklaag hy.
Ek en Cornelius staan met rukke en stote op. Ons het elkeen 'n ruitveër in die hand!
Hy steek sy hand voor in sy broek in en haal hom weer uit. Half ongelowig sê hy "ek het grond in my onderbroek...."
Koos het intussen uitgeklim en begin dadelik verskonings aanteken. "Fokkit boys ek het heel vergeet om stadig te stop en links te swenk ek weet nie wat gebeur het nie asseblief boys toe ek weer sien toe vlieg julle vorentoe en julle tref Wessie en ek dink julle is vrek en boys ek het amper begin huil man maar ek was so besig om julle te probeer mis ag shit ek is jammer man ek is gesuip en jou ma gaan my kom soek ek is in soveel moeilikheid boys is julle oraait ek kan nie soveel spanning vat nie manne....."
"Sjarrup Koos!" skree ek en Cornelius in een asem.
"Is dit my wipers daai???" vra hy. "My pa gaan my gat skop!" begin hy weer.
"Hie hie hie" begin Wessie weer giggel.
"Sjarrup Wessie!" kry hy dit ook sommer.
Ek en Cornelius stof maar net verder in stilte af. Daar is inderdaad grond in my onderbroek ook. En my ore, en neus, hare, alles is vol grond. My ribbes voel of ek houe van Mike Tyson af gevat het. My neus bloei, Cornelius se lip bloei, ons tande is bruin van al die grond wat ons gevreet het.
Ek gooi Koos met my ruitveër. Treffer, teen sy kop. Bliksem! Ons los die geel bakkie net daar en ry almal met die wit bakkie huistoe. Toe ek uittrek kry ek gras in my sokkies. My ribbes is blou. Geel bakkies is hard. Cornelius loop twee weke lank mank rond. Wessie lag vandag nog vir ons. Koos is toe nooit gemoer nie. Ons was te seer. En die volgende dag se babbelas was die seerste een ooit.
Maar ten minste was dit glo die grootste plaas wat iemand al ooit in die Wes Transvaal gekoop het.
Riaan Coetzee
Kopiereg
19 Junie 2020
Kopiereg
19 Junie 2020
Comments