Dag 35 van die Grendelstaat

Blue Angels en Thunderbirds vlieg oor New York om hulde te bring aan Covid-19 nooddienswerkers.
Die Amerikaanse Lugmag se Thunderbirds en die Vloot se Blue Angels kunsvlieg demonstrasiespanne het Dinsdag duisende New Yorkers uit hulle huise gelok toe hulle verbyvlugte oor onder andere New York gedoen het as huldeblyk.
In die proses het die sosiale afstandbeheer totaal sy gat gesien soos wat toeskouers gespook het vir die beste staanplekke maar volgens berigte het die vlieëniers gelukkig seker gemaak hulle hou daarby.
Die betrokke vliegtuigvlerke was te alle tye verder as 2 meter weg van mekaar, het die Amerikaanse Verdedigings Hoofkwartier verduidelik. Dis gerusstellend. Donald Trump het op Twitter bevestig dat dit die heel beste, inderdaad die mees fantastiese vliegdemonstrasie van alle tye was. By verre.
In Suid Afrika het die Minister van Koöperatiewe en Tradisionele Regeringsake aangekondig dat Suid Afrika se regering beplan om iets soortgelyks aan te pak.
In lig hiervan sal ‘n landswye versoek van stapel gestuur word aan eienaars van vlieërs om foto’s daarvan per vonkpos na die Minister se kantoor te versend sodat ‘n ministriële taakspan daaruit ‘n vliegspan kan kies om ‘n vertoonvlug voor die Uniegebou uit te voer op ‘n dag wat die wind dit toelaat.
Ons begroting is glo in sy moer in en daarom sal die Silwer Valke nie kan deelneem nie.
Sy het egter bygevoeg dat rook steeds 'n aartssonde sal bly en dat Suid Afrikaanse rokers maar nog langer sal moet wag vir hulle plesiertjies, saam met diegene wat 'n knertsie geniet. Sy het darem met 'n oogknip genoem dat geen lid van die regerende party enigsens geld maak uit die verkoop van onwettige sigarette nie.
Intussen hamer die Ministerie van Warm Hoenders daarop dat draaihoenders steeds uiters gevaarlik is en dat selfs e-handel nie toelaatbaar is nie omdat warm hoenders glo nie per die internet versend kan word nie. Dit sal glo jou Facebook blaaie laat oorverhit.
Gelukkig het die Minister van Onderwys haar sake agtermekaar en het bevestig dat die nuwe regulasies vir die heropen van skole gepubliseer sal word op Donderdag voor Vrydag. Is dit net ek of was Donderdag maar nog altyd voor Vrydag? Ek vra namens ‘n vriend.
Mense is moeg. Regtig moeg. Oral in die wêreld. So moeg dat ‘n Amerikaanse presidentskandidaat glo aan die slaap geraak het tydens ‘n tv onderhoud. As dit gebeur moet jy weet jy is regtig Biden Moeg.
Mense is ook moeg om ingekerker te wees, en om nie hulle vriende en familie te sien nie. Super moeg. Gatvol verby. En ook al meer en meer ontnugter oor die moontlikheid dat daar niks sal wees om na terug te keer as die regering eendag besluit om die Grendelstaat sodanig op te hef dat alle industrieë weer mag werk nie.
En laat ons nie doekies omdraai nie. Hierdie grendelstaat is bitter vinnig besig om ekonomieë wêreldwyd te vernietig. Reuse internasionale maatskappye soos Airbus beplan die aflegging van duisende werkers. Van die top lugrederye in die wêreld bevind hulle oornag in ‘n SAA tipe nagmerrie, sonder die betrokkenheid van skelm base. Lufthansa het weke gelede reeds 87000 werkers se werksure drasties ingeperk. British Airways , Virgin Atlantic is in dieselfde penarie en moet dieselfde aksies uitvoer as hulle enigsens hoop om te oorleef. Die SA motor industrie praat van ‘n beplande 10% afleggings. Die toerisme en akkommodasie bedrywe is plaaslik en internasionaal op sy knieë gedwing. Die restaurant en koffiewinkel industrie ook. Die lys is reeds nimmereindigend. Elke dag hoor jy van mense wat jy ken wat skielik werkloos is.
Dit kan nie so aangaan nie.
Op ‘n baie meer positiewe noot mag ons darem van 1 Mei af die strate binnevaar om ons agtergeblewe oefening in te haal.
Dis nou tussen 6 en 9 die oggende – waarskynlik omdat bepaal is dat die virus dan sal rus? Ek kan nogal sien hoe die minister met die hoed die virus eenkant toe trek en in sy oor fluister dat hy geskop en gedonnor sal word as hy waag aktief raak wanneer ons oefen. Ek hoop net hy fluister dieselfde in die polisie en weermag se ore ook, anders gaan tienduisende drawwers opstote in die strate doen.
Onthou net dat derduisende mense dieselfde beplan so vat jou pepervog maar saam as jy gaan stap of draf sodat jy sosiale afstandbeheer kragdadig kan toepas.
Jy is mos 'n wetsgehoorsame burger.
Het ek genoem dat my drank op is?
Riaan Coetzee
Kopiereg
27 April 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf