Dag 33 van die Grendelstaat

Wie het ooit kon reken ons sal Vryheidsdag vier vanuit ons eie tronke? Dis sekerlik gepas is om dit eerder te herdoop na Ironiedag toe.
Hoe dit ookal sy moes ek noodgedwonge op Ironiedag ‘n tog aanpak Dischem toe om die ry daar aan te durf. Die apteke was toe en sekere "kondisies" is nie polities korrek genoeg om te wag vir Vlak donnerse 1 nie. Dit brand te veel. Veral as mens sit.
Die naaste apteek was egter toe en ek is toe maar noodgedwonge vort Dischem toe. Ek wou juis nie soontoe nie want die Corona rye is te lank daar.
Die brandende begeerte om te doen wat dringend gedoen moet word vier egter hoogty en so eindig ek in die ry op, doer agter êrens. Die deure is net neffens die horison. Dis regtig ‘n lang ry en ek brand om voor te kom. Letterlik.
Ons staan almal beteuterd met ons maskers en wag vir ons beurt. Niemand praat of kyk rond nie. Mense staar of stip voor hulle of op die grond. Ek het in al my jare nooit besef hoe interessant die stukkie aarde by jou voete werklik is nie!
As jy deesdae praat van gewapende sekuriteitswagte bedoel jy dis ‘n wag met ‘n spuitbottel handreiniger. Toe ek uiteindelik voor kom lig ek my arms op dat die wag my ook kan reinig, maar dit blyk toe dat sy net my hande wil spuit. So daar gaan my idee om te spaar op reukweerder.
Elke keer as ek nou voor enige toonbank te stane kom met my masker voel ek so ‘n bietjie soos ‘n bankrower. Ek erken ruiterlik dat ek moet veg teen die drang om nie net een keer daar te staan en te sê – steek op jou hande nie. Ek sal egter nie want ek hou nie daarvan om geskop en gedonnor te word nie.
Die vriendelike apteker vra my so ewe - "Setpil of salf?" "Nee sien," reken ek, "ek voel daar is 'n tipe emosionele band tussen ons so ek skat 'n invryfie sal verkieslik wees eerder as 'n indrukkie."
Die arme vrou lag so dat sy amper die salf papdruk.
Ek het nogal gewonder hoe gaan ons die kriminele uitken van 1 Mei af, tensy Minister Hoed ‘n regulasie uitbring wat hulle verplig om met die ingang van Vlak 4 maskerloos te bly…
Gelukkig het ons nou ‘n hele spul van Kuba se top mediese uitvoerproduk bygekry om Die Virus te beveg. Simplemente genial camarada!
Ek voel sommer klaar veiliger.
Intussen is bevestig deur “top internasionale virus raadgewers” dat Covid-19 regtig grotendeels tussen 8 in die aand en 5 uur die oggend rondbeweeg so ons is dankbaar dat die beplande aandklokreël finaal die virus die nekslag sal toedien….
Die enigste werklike verskil tussen Vlak 5 en Vlak 4 is die geraas wat die ministers daaroor maak.
Een goeie ding wat die Grendelstaat hopelik reggekry het is om miljoene enkeldames te laat besef – hy is nie regtig besig nie, hy wil jou net nie terugteks nie…
Op ‘n totaal ander noot – as jy vir Google vra om Yellow Billed Oxpecker te vertaal gee hy dit deur as Geel Gefokte Ossewa. Regtig.
Ek laat julle met daardie gedagte.
Riaan Coetzee
Kopiereg
27 April 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf