Dag 34 van die Grendelstaat

Gee vir hulle vibrators.
Aldus die minister.
Maar as jy klaar vanself bewe sal hulle jou los om jou eie ventilator vas te hou. Dis nou regtig die verskil tussen kom en gaan. Mens wonder of die vibreerventilators ook in allerlei kleure beskikbaar gaan wees net om die okkasie op te helder.
Winter is vinnig besig om die sosiale afstand beperkings te verbreek. Vir my beteken dit kouer water om in te swem terwyl ander in warm jassies rondloop en vir my kyk of ek mal is. Wat dalk nie onvanpas is nie – die hele Corona ding is beslis besig om hard te probeer om my gek te maak.
In die Vrystaat wys hooggeplaaste amptenare hoe goed hulle sosiale afstand verstaan deur ‘n hele reeks mense te kry wat almal bymekaar staan met geen virusveilige afstande nie net sodat 20 mense ‘n boodskap kan lewer wat perfek deur een kon afgelewer word. Business as usual.
Suid Afrikaners is kwaad - meestal vir mekaar. Al lag ons oor vibrator ventileerders. Wat dan sekerlik beteken ons is weer terug na normaal toe? Ek meen, kwaad vir mekaar is tog ons norm of hoe.
Die grootste aanlyn mini oorlog huidig – sosiale afstand dwing ons om slegs aanlyn slaags te raak – blyk te gaan oor of ons moet begin werk of aanhou sit en wag tot die regering eendag besluit ons mag weer probeer geld verdien.
Dis waarskynlik die vraag van die eeu, maar ons sal sekerlik eers oor ‘n dekade kan terugkyk en bepaal watter kamp reg was. Intussen spreek ons slegs ‘n nimmereindigende reeks persoonlike opinies uit – terwyl die gewonde ekonomie vinniger uitbloei as ‘n bottel sjampanje wanneer jy sy nek met ‘n swaard afkap. Uiteraard is ons almal se opinies korrek.
Volgens onsself natuurlik.
Die feit is dat ons effektief gyselaars is met geen vryhede meer nie. En dit is besig om mense oor die afgrond te dryf. Ons mag nie eers by vriende en familie kuier nie – hierdie afstand ding is veral besig om kontakmense gek te maak. Oornag het ons geval van burgers met vryheid tot tronkvoëls in ons eie huise met die enigste wettig toelaatbare vryheid die voorreg om elke dan en wan winkels toe te mag gaan om te koop wat die regering ons toelaat om te koop.
Oom Cyril – ons is regtig gatvol en ons wil ons reg uitoefen om geld te kan verdien. Maak dit gebeur.
Intussen is daar steeds mense wat dink die WHO was ‘n pop orkes in die 60’s. Lekker man.
Laastens ‘n baie relevante vraag – as al die Kubaanse dokters met SAA hier aangekom het, hoe gaan hulle by die huis kom?
Riaan Coetzee
Kopiereg
29 April 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf