Dag 32 van die Grendelstaat
Die krygsgevangenekamp is stil. Al wat duidelik hoorbaar is, is die geblaf van die patrolliehonde wat die grensheinings patrolleer.
Op die grondvierkant voor die kampkommandant se kantoor is ‘n droewige prentjie besig om af te speel. Teen een van die pale waar die gereelde teregstellings plaasvind hang ‘n gevangene, half bewusteloos geskop, vasgemaak. Wagtend op sy lot. Bloed stroom uit talle oop wonde oor sy liggaam.
Die kampkommandant staar deur die venster na die toneel en drink rustig sy oggendtee klaar. Daarna trek hy sy onberispelike uniform reg en sit sy pet op. Hy loer vinnig na homself in die spieël langs die kantoordeur. Duidelik tevrede grinnik hy vir sy spieëlbeeld en stap dan buitentoe, reguit op die gevangene af.
Hy loop staan direk voor die arme kêrel en bekyk hom langsaam op en af, en trek los en skop die hulpelose gevangene so hard tussen die bene dat die man nie eers tyd het om te gil voor hy bewusteloos raak van die pyn nie.
Suid Afrika se ekonomie was reeds op sy knieë gedwing deur ‘n kwarteeu van onbeholpe, openlike korrupsie en wanbestuur en het gaandeweg al meer bebloed rondgesteier. Covid-19 het uit sy "kantoor" gestap gekom met ‘n grinnik en ons sonder om te blik of te bloos, genadeloos, met soveel mag en mening in ons knaters geskop dat ons almal met sulke bolwangetjies rondloop, en waarskynlik nog vir lank sal.
Die pandemiepremie hiervoor gaan uitermatig hoog wees.
Op ‘n heel ander noot was vandag Oupa Piet se verjaardagbraai. Almal was genooi. Maar dit was toe net die paar van ons wat saam ingekerker is wat bygewoon het. As jy nie ‘n uitnodiging ontvang het nie is dit of omdat ons nie van jou hou nie, of omrede ek lieg oor die uitnodigings.
Dis ‘n voorreg om nogsteeds ons Pa met ons te kan hê.
Die gesprek het onwillekeurig by maskers uitgekom. Gewone, vervelige maskers. Pragtige maskers met allerlei motiewe en prentjies en logo’s op. Maskers – wat ons almal van 1 Mei af verplig is om te dra oral waar ons buite ons selblokke beweeg.
Het julle fyn opgelet hoe mense wegkruip agter dieselfde maskers? Dit maak dit nog makliker as ooit tevore om sienende blind rond te gaan. Jou masker raak jou skild teen alles en almal. Dis in effek nie sosiale distansiëring nie. Dis emosionele distansiëring.
Die vrees wat ons soos ‘n tsunami oorweldig het, wat ons soos skepe sonder ‘n roer op die see van pandemie laat rondsteier, wat ons kapasiteit om helder te dink van ons ontneem het en ons oornag van ons vryhede beroof het, het daarin geslaag om by soveel siele ‘n broodnodige tikkie van ons menslikheid te steel. Daardie behoefte en potensiaal om deur slegs ‘n vriendelike kyk, glimlag of groet iemand se dag op te helder het verdwyn toe die maskers verskyn het.
Om inperkbeserk te wees is skielik nie meer snaaks nie.
Ons sal diep moet grawe in ons diepste binneste om die emosionele skade hiervan te oorwin lank voor ons eers wil kyk na enige ander skades.
Terwyl ek hierdie skryf val daar ‘n reëngordyn uit oor Pretoria en die bliksems hardloop die hele nagruim vol soos soekligte.
Dit maak my gelukkig.
Riaan Coetzee
Kopiereg
26 April 2020
Kopiereg
26 April 2020
Comments