Dag 98 van die grendelstaat

My Ouma Sannie het my die geheim van kookkos eet aangeleer.

Ek meen, ons verstaan almal wat so 'n maaltyd voorafgaan. Die Sondag maaltyd word al 'n week voor die tyd haarfyn beplan. Verskeie winkel ekspedisies volg om seker te maak jy kry al die produkte wat jy benodig, en genoeg daarvan. Elke aankopie word haarfyn bestudeer

Jy kook jou gat af aan al daai lekker goed - soetpatats, ertjie, boontjies, rys, skaapboud, wortels, aartappels, pampoen, brokkoli, sampioene en sommer skorsies indien enige iemand nog honger kan wees na al dit. Dit neem tyd en moeite. En moer baie skottelgoed. As jy daai skaapboud uit die oond uit haal val hy soos sneeuvlokkies van 'n vurk af so sag en sappig is hy.

Geseënd is die skapie wat sy boud geskenk het vir ons om ons binneste te voed.

Die tafel word perfek gedek, kompleet met jou beste tafeldoek en enigste eetservies. Die beste vlekvrye staal eetgerei word gepoleer en millimeter perfek uitgepak. Bewaar die uitpakker se siel as een van die uitstallings verskil van die res, of die mes is aan die verkeerde kant.

Tafelwyn word geskink in jou beste kristalglase. As jy nie het nie of jou man was alweer gesuip toe hy skottelgoed gewas het en dis almal al gebreek, skink jy maar in die koeldrankglase en hoop niemand maak 'n opmerking nie. Jy neem jouself voor om enige moontlike kommentaar in die kiem te smoor met 'n kyk wat karvensters kan laat kraak. Jy oefen dit die Saterdagaand net na die rugby verby is en voor jy jou gesigmasker opsit wat swartkoppies verwyder en jou vel poleer soos 'n Harley se chroom uitlaatpype. Jy is sommer van voor af kwaad vir jou man oor die glase. Wat hy nog nie vervang het nie want hy vergeet, al herinner jy hom konstant. Jy is so kwaad, alweer, dat jy vroeg loop inkruip maar jy slaap sleg want jy is bekommerd dat iemand tog iets gaan kwytraak.

Borde word versigtig skoongemaak, verhit en kos word opgeskep. Die vleisie in die middel met die res van die geregte netjies in 'n sirkel om dit soos die manne by Teazers as die beste danseres op die verhoog klim. Elke porsie word haarfyn met die opskeplepels uitgemeet sodat almal dieselfde hoeveelheid kos op hulle borde kry.

Behalwe Oom Toit. Oom Toit vreet 'n hele bees op in een maaltyd. Oom Toit se bord word gelaai dat die  keramiek kraak en jy weet sommer jy gaan die bord Maandag by die hospice se pandjieswinkel moet gaan afgee. Jy het gelukkig genoeg kos gemaak want jy weet ook hy gaan tweede porsies van alles soek behalwe die beet. Oom Toit reken beet neuk sy kos op, hy eet nie rooi kos nie.

Oom Toit is korrek. Maar dit is nie nou ter sake nie.

Uiteindelik is alles reg en die laaities word gestuur om die gaste in die sitkamer te loop roep dat hulle kom aansit. Dis nogal 'n formele ding die. Daar heers 'n gewyde opgewondenheid want almal is nou al honger en die reuk van kos het hulle lank se tyd al mal gekry.

Elkeen word sorgvuldig gewys waar om te sit. Daar is 'n besliste volgorde. Die bidder vir die dag sit gewoonlik aan die een kop van die tafel. Hy sorg ook dat hy almal sit en uitkyk om seker te maak hulle lyk darem reg vir die petalje. En die tafelgebed. Jy het vandag 'n oordeelsfoutjie begaan want jy het besluit Oom Toit gaan sommer bid ook, synde die kop van die tafel waar die bidder sit naaste aan die kospotte is so hy kan gerieflik nog loop inskep. Die fout wat jy gemaak het is dat Oom Toit nie net goed eet nie, hy bid ook goed. Hy is 'n langbidder. Hy begin saggies met Segen Vader en as jy nie per ongeluk tien minute later 'n koeldrankglas waarin daar wyn was - want van spanning het jy dit gou afgesluk terwyl almal se oë toe was - van die tafel afstamp dat glasstukke tot in die kombuis spat nie sal hy waarskynlik 'n halfuur gebed gedoen het. En dan was die kos koud en die gaste amper dood van honger. Dit sou nie deug nie.

Jy maak maar blitsvinnig die glasstukke bymekaar en sit weer aan. Almal wat ongeduldig vir jou - asof dit jou skuld is dat hulle nog nie kan eet nie. Ten minste is hulle ordentlik. En eintlik is dit jou skuld want jy het Oom Toit... ag toemaar wat. Dis nou gedane sake.

"Eet maar" kom die bevel. Uiteindelik. Almal gryp hulle eetgerei en begin heelhartig feesvier. Dis 'n netjiese ete die. Alles word apart ge-eet.

Behalwe ek. Ek gryp my mes en vurk, draai die bord 'n paar maal in die rondte om die beste invalshoek te bepaal, en begin dan al die kos deurmekaar spit soos iemand wat sement aanmaak. Ek is ten volle gefokus op my taak. Dit verg toewyding om die mengsel perfek te kry sodat daar nie te veel wortels per vurklading is as jy klaar is nie.

Doodse stilte daal neer. Almal sit verstar. Jy, die bobaaskok wat ure agter die potte spandeer het en gisteraand skaars geslaap het, sit daar met 'n oophangbek dat mens tot agter jou kleintongetjie kan sien. Jy sluk sommer beide jou tafelbure se wyn ook af om jou te keer om te begin gil van skok.

Ek vat behaaglik my eerste hap en begin kou. Dis heerlik, al die smake tref my smaakkliere op een slag en oorweldig hulle met 'n kakofonie van plesier.

"Wat maak jy???" vra jy verbysterd. "Mens meng mos nie jou kos so nie!!??"

"Natuurlik doen jy" mompel ek verby nog 'n smaaklike mondvol mengelkos.

"Ouma Sannie sal mos nie vir my lieg nie."

Riaan Coetzee
Kopiereg
8 Julie 2020

Comments

Popular posts from this blog

Dag 48 van die grendelstaat

Die Regte Rooikappie En Die Wolf