Dag 96 van die grendelstaat
Hokbefok. Sielsbefok. Gemoedsbefok.
Mense is leeg. Ons uurglase van humor het ook al uitgeloop. Hou maar dop oral waar jy rondbeweeg. Die glimlagte is weg, die oë lyk moedeloos, die lyftaal skree verlos my net van hierdie nagmerrie.
Suid Afrikaners het nog altyd humor in elke situasie gevind. Ongeag hoe smaakloos, ons weet hoe om iets in selfs die donkerste situasies te vind om onsself te laat giggel, al is dit 'n wrang giggel. Sedert ons uitgevind het van memes hardloop ons kop aan kop met die bestes in die wêreld om topklas memes te produseer.
Maar selfs die memes droog op, raak minder snaaks vir meer mense soos wat die genadelose inkerkering voortsleep. Ons is so gefokus om net relatief suksesvol deur elke dag te kan kom dat ons beswaarlik die energie oorhet om nog te lag. Of ons probeer ons stukkende besighede weer op dreef kry, of ons probeer net ons vernielde siele bymekaarhou sonder om iets drasties aan te vang, of ons veg met alles wat ons het om selfs net deels ons gesonde verstand te behou, of ons veg teen rou hartseer oor mense wat intussen van ons weggeneem is, geliefdes wat ons nie mag sien en druk nie, ons stoei met die wete dat geld of besig is om op te droog of reeds opgedroog het.
Covid het geen genade nie, of hy jou nou siek maak en of hy jou emosioneel versmoor, sy effek is terminaal, dodelik.
Dit verg letterlik elke greintjie energie wat jy kan bymekaarskraap, soveel so dat humor al meer in die slag bly.
Hou maar dop hoe ontsettend venynig raak mense in hulle interaksies met mekaar op sosiale media. Jy sal waarskynlik vind dat dit in die mees venyniges se persoonlike lewens nie veel beter gaan in hulle interaksies met mense nie. Dis asof ons nie regtig meer weet watter kant toe nie, en ons steier in die kryt rond soos voosgeslane boksers wat nie meer genoeg hande het om te keer nie.
Ons veg heeldag met mekaar - die wat steeds wil tuisbly en heeldag virus getalle sit en dophou soos handelaars wat op die aandelemarkte hulle geld verdien heeldag hulle grafieke sit en dophou. En hamer op tuisbly en sosiale afstande en maskers en dood oral om ons sien.
En die wat 'n punt bereik het waar ons eenvoudig voel dis nou genoeg. Genoeg van voorgeskryf deur die wêreld se mees onbeholpe, patetiese, korrupste, onbetroubaarste regerings wat, midde in hierdie tyd, dokumente uitvaardig wat uitstip hoe hulle dit kan misbruik om effektief 'n coup d'etat op ons te trek. So sielloos is hulle. Mense wat net wil probeer werk en inkomste verdien, en hulle eie keuses uitoefen en bereid is om pa te staan vir hulle besluite.
Ons is nie meer in staat om te erken dat elkeen se siening hieroor vir hom of haar hulle realiteit geword het nie. Ons is nie meer in staat om mekaar êrens in die middel te ontmoet en wedersydse respek te hê vir verskillende opinies en sienings en die vryheid om sodanige verskille te mag hê nie. Ons is verby daardie punt.
Ons bekers met empatie is leeg.
Skoolkinders is rou geskaaf - volgende week begin julle skole. Nee nee die week daarna. Staan net by ons probeer net bepaal wat eintlik die beste gaan wees. Intussen sit hulle tuis met ouers wat al net so rou is, en heeltyd moet veg om nie in monsters te ontaard nie en wat letterlik smeek dat die kinders moet skool toe terwyl hulle in dieselfde asem wakkerlê oor die moontlike gevare daaraan verbonde. Terwyl hierdie drama hom afspeel in miljoene huise, is onderwysers rou geskaaf want hulle het nie meer antwoorde nie, ouers en kinders wil by hulle weet wat aangaan, daar word verwag dat hulle moet help en glimlag vir die kinders se onthalwes, en intussen hoop hulle ook maar hulle gaan weer een of ander tyd 'n vol salaris verdien. Want skole is afhanklik van skoolfondse, en so baie ouers moes of salaris verminderings aanvaar of hulle werke verloor dat hulle nie meer die volle bedrae kan bybring nie.
Vir elke kind wat gebuk gaan onder die spanning, is daar 'n handvol grootmense wat veg om elke dag 'n glimlag op te plak en net te lyk of hulle nog in die wedren is. Mense wie se spanningsvlakke lank reeds breekpunt bereik het.
En dis slegs 'n mikrokosmos van Suid Afrikaners se algemene post traumatiese stresversteuring.
Ons gun mekaar niks, ons haal mekaar uit soos skerpskutters wat op slagvelde lê en teikens soek. En daar is baie teikens want die twee kampe wat elk so onwrikbaar staan by hulle onderskeie sienings bied 'n teikenryke omgewing.
Asof ons nie genoeg bekommernisse het oor Covid verwante dinge nie, bly ons boonop in Suid Afrika. Dit kom met sy eie, uiters unieke stel probleme, elkeen daarvan min of meer gewaarborg om vroeër of later aan jou 'n stywe dosis oormatige spanning te gee. Suid Afrika is toksies.
Smeer nou hierdie toksiese smeer bo-op jou alreeds verlepte Covid toebroodjie en kyk hoe jou hele wese protesteer elke keer as jy 'n hap neem.
Plak boonop alles vir elkeen 'n masker aan om agter weg te kruip wat ons gesigte heeltemal verander, en ons monde wegsteek. Monde wat nog altyd kon lag, maar nou stroef dunlippie getrek het agter ons maskers.
En ons wesens smeek vir genade.
"Out of suffering have emerged the strongest souls. The most massive characters are seared with scars."
- Kahlil Gibran
Ons sal moet ons sterkste grawe uit ons lewensrugsakke uitruk want ons sal moet hard en diep grou om seker te maak ons klim uit hierdie gat uit.
Riaan Coetzee
Kopiereg
6 Julie 2020
Kopiereg
6 Julie 2020
Comments